• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: November 2020

In die oomblik – VSA25

29 Sondag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 13 Kommentaar

Wat is dit met katte en laaie?

Turkey dinner

29 Sondag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 20 Kommentaar

Skemeraand op Thanksgiving het V se vriendin (Tucker se nooi) spesiaal ‘n hele ent gery om vir my “a full turkey dinner” te bring, kompleet met pumpkin pie as nagereg. Dit nadat hulle ‘n lang en woelige familiefees by haar skoonma deurgebring het en ver moes ry met drie dogtertjies en ‘n hond in die motor, om weer tuis te wees.

Daar was ‘n massa kos, sorgsaam in papierborde verpak en met foelie toegedraai, saam met ‘n plastiekhouertjie sous:

Skywe kalkoenvleis, vulsel (die soort wat dressing genoem word), kapokaartappels, mieliepitte, gekerfte boontjies, broccoli met kaassous en Amerikaanse macaroni-cheese, gemaak met sulke piepklein elmbogies pasta. Dan ook nog biscuits, ‘n eienaardige deegbedryf wat aan skons herinner; dit word oopgebreek en met sous toegegooi.

Ek het geëet dat ek amper bly lê het! Maar die pumpkin pie was ‘n erge teleurstelling: ek weet nou vir seker dat ek wel skrik vir koue pampoen…

Resep vir “baked oatmeal”

26 Donderdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 2 Kommentaar

Vir Letty-Ann en Kameel, want hulle het gevra

3 k outydse hawermout (Jungle Oats behoort goed te werk)

1/2 k bruinsuiker

2 tl bakpoeier

1/2 tl sout

2 eiers

1 + 1/4 k melk

1/4 k kookolie

1 tl vanielje

1 blikkie perskeskyfies, gedreineer en opgekap

1 k vars/bevrore bloubessies

1/3 k grofgekapte okkerneute

  1. Meng hawermout, bruinsuiker, bakpoeier en sout.
  2. Klits die eiers, melk, olie en vanielje en voeg by die droë bestanddele. Meng en laat 5 minute lank staan.
  3. Roer die vrugte by.
  4. Plaas in ‘n gesmeerde vuurvaste bak en strooi die neute oor.
  5. Bak sonder deksel @ 180 grade vir 35-40 minute, hou dop dat dit nie brand nie.
  6. Bedien met melk (en bietjie suiker) indien verkies.

Baked oatmeal

26 Donderdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 18 Kommentaar

Amerikaanse cuisine is ‘n eienaardige kreatuur waaraan ek nie eintlik vat kan kry nie (al sou die vetrolle wat ek in ‘n jaar hier bygekry het, dalk anders getuig). P se ma het die heerlikste gebakte ham en kapokaartappels gemaak en Tomato Pie Café se “Fall Salad” is ‘n salige konkoksie, maar oor die algemeen smaak Amerikaanse kos nie rêrig vir my lekker nie. Bygesê: ek is nou nie juis ‘n goeie proefkonyn nie, want ek hou nie van pasta en pizza nie (gee my goeie ou boerekos!), en “spicy” is myns insiens ‘n ander woord vir selfhaat.

Die Britte het ‘n gesegde wat hulle uit Shakespeare aangepas het : “Gilding the lily” = om iets wat reeds goed/mooi is, onnodig te versier. Amerikaners is meesters in hierdie kuns! Niks het net een geur nie – gaan stap maar in Bath and Body Works rond en lees ‘n bietjie: Vanilla & Patchouli; Rose Water & Ivy; Eucalyptus & Tea; Lemon, Citrus & Bergamot. Mens raak al te maklik deur hierdie speletjie meegevoer – toe ek byvoorbeeld die fynskrif van my gunstelinggeur, Champagne Toast, lees, kom ek agter dit bestaan uit Bubbly Champagne, Sparkling Berries & Juicy Tangerine en in plaas daarvan dat dit my olfaktoriese sintuig vir ewig konfoes, ruik dit vir my heerlik…

So leer V&P se oulike buurvrou oorkant die straat my in 2013 op my eerste besoek van Baked Oatmeal. Nou-die-dag het sy weer vir my ‘n yslike porsie present gegee, waarvan ek vanoggend omtrent een-derde ewe plegtig op Thanksgiving-oggend verorber het. Dit bevat outydse hawermout (sy is adamant: not instant), bruinsuiker, sout, bakpoeier, eiers, melk, kookolie, vanielje, vrugte en neute en word in die oond gebak. Hoe weet ek so presies wat alles daarin is? Omdat sy vir my die resep neergeskryf het en ek gaan hopelik nog my kleinkinders daaraan onderwerp…

Photo by Life Of Pix on Pexels.com

   

Mademoiselle Midnight

25 Woensdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 11 Kommentaar

My skoonseun is lief daarvoor om elke wens van my dogter (en van my!) te vervul. Tien jaar gelede was Midnight een so ‘n wens.

Die gemmerkat Diesel was reeds deel van hulle gesin en dié het besluit dat P die wonderlikste oubaas op aarde was. V wou graag haar eie katjie hê en eendag het P by die huis gekom: “I’ve found your cat – come take a look!” Die twee het afgesit na die Animal Shelter, waar Midnight in ‘n hokkie gesit het. The rest is history.

Midnight is ‘n klein katjie, meer swart wolle as enigiets anders, met die mooiste katoë – groot, blink juwele in haar swart gesiggie.

Sy is pragtig en sy weet dit, daarom kies sy haar agtergrond met flair.

So fyntjies en mooi as wat hierdie kat is, net so wreedaardig en bloeddorstig is sy. In die dae toe sy nog permanent ‘n buitekat was, het sy vir haar nooi presente aangedra: talle voëls, muise, ‘n eekhoring, ‘n hasie en ‘n mol… Nou-die-dag was sy letterlik vyf minute buite, toe kom sy die trap opgedraf… Nie eens die lekkernytjie waarmee ons haar probeer lok het, kon haar aandag aftrek nie.

So dodelik as wat sy as jagter is en so hatig as wat sy op enige hond is, so liefderik is sy met haar huismense. Sy “groom” ons graag: klim op die stoel se rugleuning, hou mens se kop liggies vas en byt en lek ons hare, sodat ons mooi netjies kan lyk. Sy spin hard en met oorgawe – soos wat sy vaak word, kom die geluidjie met rukke en stote, totdat dit heeltemal stil raak en daar net die wonderlike warmte is van ‘n kat op mens se skoot.

Wat hoor jy en wat sien jy?

24 Dinsdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 34 Kommentaar

In my jeug was ek bevoorreg om ‘n besonderse mentor te hê en soos wat die jeug mos maar maak, het ek hom destyds nie na behore waardeer nie. Hy was professor in die Afrikaanse taalkunde, een van ‘n groep jong intellektueles wat vernuwing in die dissipline gebring het. Sy spesiale belangstelling was die studie van betekenis soos wat dit in taal tot uiting kom. Hy was lief vir mense en vir die wêreld en het elke dag met opgewondenheid, verwondering en kopskuddende verstomming geleef. Sy gunstelingvraag aan my was: “Wat hoor jy en wat sien jy?” Destyds het ek in my verwardheid maar min te antwoord gehad – ‘n leeftyd later en steeds verward, gaan ek tog probeer om te vertel wat ek vandag hoor en sien.

Ek hoor stilte en die suising van my eie bloed. Die wind waai daarbuite, maar mens hoor dit nie, a.g.v. die huis se goeie insulasie. Ek sien helder sonskyn en so nou en dan ‘n motor wat verbyry. Die wêreld gaan sy gang…

My kinders se student home is gister onder kwarantyn geplaas omdat een van die aflospersoneel (die huisouers wat instaan wanneer my kinders af is) positief vir Covid getoets het. Dit beteken dat V&P saam met die vyf seuntjies wat tans in hulle huis is, nou vir twee weke tuis moet bly. Voorwaar ‘n uitdaging, om daardie lotjie 14 dae lank, 24/7, besig en gelukkig te hou – maar ek weet hulle kan dit hanteer.

Voorts beteken dit dat ek en die twee katte nou vir twee weke op ons eie is, hier in V&P se huis. My reis terug Suid-Afrika toe val deur die mat, want ek het net nie genoeg durf om alleen deur die hoepels te probeer spring nie, ek sou dit slegs met die kosbare ondersteuning van my liewe dogter kon reggekry het.

Soos wat ek talle kere hier by motorvensters sit en uitkyk het na die prentjiemooi pophuise langs die pad, met wiegstoele op die stoep en ‘n vlag of ‘n sportembleem of ‘n plakkaat met ‘n sentimentele boodskap, het ek ‘n speletjie met myself gespeel: ek soek na die kleinste huisies en verbeel my dan dat ek in daardie huisie woon, met my besittings rondom my, aangename bure, vriende net om die draai, en ‘n kat om op my skoot te lê. Nouja, soos die Amerikaners sou sê: Here I am, living the dream! (Behalwe dat die huis waar ek woon, nie klein is nie, die besittings nie myne nie, en my vriende baie ver.)

In elk geval is daar geen dringende rede waarom ek nou moet teruggaan nie – behalwe verlange…en dié is maar altyd daar, waar ek ook al is.

En jy, liewe leser? Wat hoor jy en wat sien jy?

Psalm 139:3 − Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.   

Thanksgiving

22 Sondag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 21 Kommentaar

My hart is so vol dankbaarheid, dit loop in trane oor.

Donderdag is dit Thanksgiving hier in die VSA – watter lieflike gebruik is dit tog, om amptelik en plegtig van ‘n mens se dankbaarheid oor al jou seëninge te getuig. Vir my was 2020 ‘n jaar van onmeetlike seën, van vertroeteling en bederwery, goedheid en guns.

As alles vlot verloop, “as ons deur al die hoepels gespring kry”, soos my dogter dit stel, vertrek ek oor bietjie langer as ‘n week terug Suid-Afrika toe.

Ons gaan vir oulaas saam kerk toe, waar ek oorstelp word deur die liefde van my Amerikaanse kinders se “gesin in Christus”. Ek kry van alle kante goeie wense, seënbedes word oor my gefluister terwyl ek styf vasgehou word.

“Die gemeenskap van die heiliges” was vandag ‘n lewende, polsende warmte in my dankbare hart.

Photo by Hal Nixon on Pexels.com

In die oomblik – VSA24

20 Vrydag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 7 Kommentaar

“Bea says that the art of reading is slowly dying, that it’s an intimate ritual, that a book is a mirror that offers us only what we already carry inside us, that when we read, we do it with all our heart and mind, and great readers are becoming more scarce by the day.” – uit The Shadow of the Wind deur Carlos Ruiz Zafón, uit die Spaans vertaal deur Lucia Graves

Photo by Andrea Piacquadio on Pexels.com

Maandag=Wasdag no 34

14 Saterdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 13 Kommentaar

Scrapy nooi ons om oor musiek te skryf.

My tyd hier in die VSA is deurdrenk van blomme en gospelmusiek.

In my kinders se gemeente speel die predikant soms kitaar en sy kosbare vrou dra die gemeentesang met haar spel op die klawerbord. Sy het ‘n ligte sopraanstem en die manier waarop sy deur haar sang en musiek aanbid, is iets besonders. Daar sing ons stemmige gospelliedjies en tradisionele liedere uit ‘n blou hardebandboek, soms is daar selfs melodieë wat aan my bekend is, al kan ek nooit op daardie oomblik die Afrikaanse woorde onthou nie. 

Donderdagmiddae om twaalfuur is daar ‘n spesiale byeenkoms, die “Houseparents’ Church”, in ‘n kerk naby die kampus. Daar sing ‘n jongman gospelliedjies met kitaarbegeleiding: hy gooi sy kop agteroor en maak sy oë toe in eenvoudige, opregte vervoering.

Die stilte hier in hulle huis wanneer my kinders op kampus werk, verdryf ek met ‘n plaaslike radiostasie wat ligte geestelike liedjies speel. Dis eenvoudige melodieë met voorspelbare akkoorde. Daar is allerlei stemme, maar as Mark Hall van Casting Crowns of Zach Williams sing, ruk hulle opregtheid my elke keer tot stilstand.

Soms luister ek na klassieke kerkmusiek, in Glomedia-programme wat ons predikant en orrelis spesiaal gedurende die grendeltyd geskep het. Dan besef ek weer dat daar niks is wat ‘n tradisionele orrel kan oortref nie (mits die persoon wat speel ‘n meester is!) en dat orrel en trompet ‘n hemelse kombinasie kan wees.

Vanaand het ek gaan terugluister na die Rebusfonteinkonserte wat die Towerinne in die middel van 2019 vir mekaar opgevoer het. Dit was ‘n fees.

https://fresh.inlinkz.com/p/24f3cd306d0d4f75a62c1f4aaa1fa76f

Herfs in die VSA

12 Donderdag Nov 2020

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 37 Kommentaar

Die herfs is so-te-sê verby – hierdie wonderlike noordelike herfs wat ek gedink het ek gaan nooit sien nie, omdat ek die enkele kere wat daar ‘n kans was, verkieslik oor Kersfees kom kuier het. Toe gebeur Covid-19 en ek kan my gunstelingseisoen beleef in hierdie wêreld van woude: heuwels bedek met hoë bome wat van ver af gloei − geel, goud, rooi, oranje, bruin, met die immergroen aksente van die naaldbome tussenin.

Die bome hier se blare is groot en sterk. Dit bedek sommer maklik ‘n hele grasperk waar ‘n enkele boom groei en word deur die mense wat daar woon met blaarblasers bymekaargemaak vir die blaarlorrie wat soms met sy kolossale stofsuier die hope blare kom verwyder.

Na ses dae van heerlike warmte en stralende son reën dit vandag al van vroeg af aan. Dis sulke vet druppels, maar dit val sagweg en omdat die dakke nie sink is nie en die vensters geïnsuleer is, hoor mens nie die reën nie, dis elke keer vir my ‘n verrassing om die blink strate en plasse water daarbuite te sien. Die bure voorspel dat dit nou koud gaan word. V sê op sulke grys dae skakel mens ligte aan en brand lekkerruik-kerse en sy’s reg, dit help om misrabelgeid te beveg.

Ons het saam met vriende gery om drie dae lank in Virginia te gaan blare kyk. In die een kar is die meisies: ek, V, haar vriendin en Honey die hond; in die tweede motor is die manne met hulle gholfstokke. Ons ry deur die Shenandoah National Park, bo-op die Blue Ridge Mountains aan die een kant van die vallei waar die Shenandoahrivier vloei. By die “overlooks” hou ons stil en verkyk ons aan die vergesigte terwyl die liedjie “Oh Shenandoah” deur my kop dwaal.

Ons eet op die stoep van ‘n restaurant “The Blue Frog” in ‘n klein dorpie, waar heldergeel mums (klein astertjies) in potte pryk en ‘n man wat seker net so oud soos ek is, met ‘n grys poniestert en ‘n bandana, ons bedien en vir ons ekstra varsgebakte broodjies bring.

In Basye, in die Bryce Mountain Resort, bly ons drie dae in ‘n pragtige houthuis met drie verdiepings. Dis ‘n Air B&B-plek, met die gevolg dat ons kan sien hoe die eienaar se gesin hulle vakansies daar sou deurbring. Daar is memorabilia van die James Madison University en ‘n 1994-erelidmaatskapplakker van die plaaslike gholfbaan. Daar is boeke en speletjies en legkaarte. In die basement pryk ‘n werkende pinballmasjien wat vir baie pret sorg. Die kamer waar ek slaap, het ‘n kwilt met ‘n beermotief wat by die stort langsaan se stortgordyn met die beerprent aansluit.

Die blare begin nou net verkleur, ons is eintlik ‘n week of twee te vroeg om die volle herfsglorie te beleef.

Die manne gaan speel gholf en ons gaan stap ver ente met Honey langs die kronkelende teerpaaie deur die woud.

Na die eerste dag se “stappie” is ek poegaai, met die gevolg dat ek die volgende dag nie saamstap toe die pragtige meer ontdek word nie.

Ek knutsel doodgelukkig om die huis rond.

Terug in Pennsylvania is daar die pragtigste herfskleure, letterlik “in our own backyard”.

Op Oom Paul se verjaarsdag vat V my en Honey op ‘n stappie straat-af.

Laatmiddag val die lig skuinsweg en verlig ‘n klein boompie op dramatiese wyse.

Ek doen my bes om die prag in te drink en in my hart te bewaar, maar eintlik is dit oorweldigend.

Dankie, my liefste kinders, vir hierdie vreugde!

   

← Older posts

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Nuutste kommentaar

Una oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Weerberig, 25 Januarie 20…
woordnoot oor Weerberig, 25 Januarie 20…
scrapydo2.wordpress.… oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Sondagstap

Argief

  • Januarie 2023
  • Desember 2022
  • November 2022
  • Oktober 2022
  • September 2022
  • Augustus 2022
  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Create a free website or blog at WordPress.com.

DeWetsWild Photography

Disappearing into South Africa's wild places... Again!

Hannes van Eeden

Bodemklippe

Docendo discimus

Enelda

Sonder 'n masker

Wild Adventures Blog

Journey to the wild

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

'n Webwerf vir die Afrikaanse digkuns

Masha du Toit

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 223 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...