Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-23, dailyprompt, dailyprompt-1826
Hierdie onderwerp het my so laat kopkrap dat ek sommer ‘n dag laat is! Eintlik het ek nie meer “pret” nie – ek verkeer eerder in ‘n permanente toestand van geluk en tevredenheid, wat myns insiens beter is as uitbundige pret en plesier.
- Ek gaan graag na geleenthede waar daar mense is en verkyk my aan hulle. Hier in die suide van die VSA is ‘n straatfees die wonderlikste geleentheid om allerhande haarstyle, eienaardige familiedinamika en verskeie soorte eetgoed te sien. Dan hang my bek sommer oop…
- My lewe lank was ek ‘n ywerige teaterganger; ek geniet opvoerings, musiekkonserte en flieks. Een van my kosbaarste herinneringe is die Nutcracker-ballet waarmee my dogter my verras het in Desember 2019, pas voor Covid-19 toegeslaan het.
- ‘n Nimmereindigende bron van vermaak is die twee nuwe katte in ons huis: Batman wat so breëbors deur die huis stap; Smokey wat in ‘n glas water rondkap en dan die druppels van haar fluweelpootjie aflek. Volgens een van die talle bladsye oor katte op fb, spin katte teen dieselfde frekwensie wat wetenskaplikes gebruik om weefsel te laat herstel – ek sal dit goed glo, want daar is niks so vertroostend soos ‘n kat wat op mens se skoot lê en spin nie.
- My dogter pas bedags ‘n kleuter op, en soms moet ek ook maar instaan. Die kleinding is woelig en koppig – die heel beste plek vir haar is buite. Dan tel ons takkies op wat die wind van die groot bome afgewaai het, speel met die water in die voëlbadjie, skop ‘n bal rond, spring op die ysdruppels wat in die vrieskoue nagte rondom ‘n lekplek in die tuinslang ontstaan het.
- Blogland bly vir my ‘n heerlike plek, want ek kan lees, gesels en self vertel – wat meer wil ‘n mens hê?