Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-13, dailyprompt, dailyprompt-1816
‘n Hele paar keer was ek so bevoorreg om die langpad te vat, onder andere na Kaapstad saam met ‘n avontuurlustige kollega in haar Angliatjie met die skuins agtervenstertjies; na Mosselbaai saam met my studenteboetie in my rooi Volkswagenkewer; na Mosambiek saam met Una, Positief en Woestynkind in Una-hulle se dubbelkajuitbakkie. Elke tog was heuglik en gedenkwaardig, maar die reis wat ‘n regtige padtoer was, met enkele aande se oorbly en lang ente pad tussenin, was die reis saam met die swerwer in ons donkergroen Volkswagenkewer, lank voor GPS en selfone.
Ons was jonk en domastrant. Ons het daardie 4 weke-lange reis met die minimum beplanning en sonder ‘n enkele bespreking aangepak, sommer net pad gevat en voortgefoeter. Die swerwer wou Suidwes-Afrika sien en ek het gewillig saamgepiekel. Dit was net na Nuwejaar – die wêreld was witwarm en dor. Ons het die Visrivierskeurvallei op die heel verkeerdste tyd van die dag bereik, toe die son van die oorkant af só geskyn het dat ons glad nie die skouspel van die canyon kon sien nie – ons was dus dáár, maar ons het dit nie gesien nie! Toe ry ons maar in die rigting van Keetmanshoop, maar ons verdwaal verskriklik… Dit raak laat en dit raak skemer en die pad strek so ver as wat die oog kan sien. Uiteindelik beland ons op Karasburg en kry ‘n kamer in die gehuggie se enigste hotel. Ek dink nie daardie lakens is geruil na die vorige gaste vertrek het nie… Walvisbaai het na vis geruik, maar Swakopmund was bekoorlik.
By Windhoek het ons omgedraai en teruggery, sodat ons nie die beboste noordelike dele van Namibië beleef het nie. Die Augrabieswaterval was in volle vloed, dit was asemrowend en skrikwekkend. Dwarsdeur die Noord-Kaap het die Volksie se wiele gerol, tot in Kaapstad waar my boetie met diensplig besig was. Na ‘n paar dae se blaaskans het ons weer die pad gevat, dié keer al teen die Ooskus op.
Dit was die eerste keer dat ek by die Tsitsikamma Seekuspark was. Daardie aand het ek ‘n groot swart pylstertvis in die groen water van Mooibaai sien swem en op Stormsriviermond verlief geraak. Ons houthuisie was vlak by die see op die rotse gebou – mens kon op jou bed sit en kyk hoe die golwe teen die rotse breek. Daardie huisies is laterjare platgeslaan, ek dink dit was as gevolg van stormskade – hulle was net te naby aan die see. Ons het al die paadjies gestap, teen die Rots van die Vier Winde uitgeklim en in al die baaitjies geswem. Enigiets daarna sou ‘n antiklimaks wees en ons is reguit huis toe, Johannesburg toe.
As ek reg onthou, het ons altesaam ongeveer 10 000 kilometer afgelê. Daardie padtoer het my laat besef dat ek nie só vakansie wil hou nie: ek wil op een plek afpak en die wêreld rustig verken.