Mense in Suid-Afrika hou hulle reënmeters fyn dop en kan vir jou tot op die naaste millimeter vertel hoeveel reën daar geval het. Hier in die suidoostelike VSA sal die petieterige reënmeters van SA deur ‘n enkele reënbui oorstroom word – trouens, my reënmeter is die omgekeerde deksel van klein Josie se sandput! Na ‘n nag se reën is hy so vol dat dit ‘n stryd is om hom om te keer sodat die oorvloedige water kan uitloop.

Photo by Ali Hassan on Pexels.com

Die reën begin onverwags val – as mens weer sien, is die hele wereld nat. Soms is daar ‘n sterk wind – ander kere onderlangse donderweer, maar nooit die drama van ‘n Afrika-donderstorm nie. Gisternag was dit weer sulke tyd. Ek onthou hoe my skoonseun homself – en vir my – met ‘n ou kinderrympie getroos het tydens ‘n lang reënerige week ‘n paar jaar gelede: “April showers bring May flowers.”

Ek verstom my aan al die water en wens dat ek daarvan kon aanstuur na droë streke. Die grond hier is kleierig en as die water ‘n versperring soos die randstene in my kinders se tuin teëkom, lê dit in diep poele totdat ‘n steen weggerol word sodat die water die loop kan neem. Orals loop blink tydelike stroompies teen die afdraande na die sloot hier onder waar die singel sy draai vat. More gaan die paddatjies weer daar sing soos besetenes.