Laas Maandag het ‘n nuwe sieletjie in my kinders se huis ingetrek – en tuisgekom.
Vroegsomer in die suide van die VSA verskyn die straatkatjies: die Humane Society verhuur hokke waarmee barmhartiges die diertjies kan vang; hulle reël geleenthede vir aanneming – maar dit kan nooit genoeg wees nie. Net om die hoek is daar ‘n verwilderde mammakat met drie klein swart katjies. Dae later lê die een kleintjie dood op die sypaadjie… ‘n Groot ou gemmer-en-wit mannetjieskat swerf nou al vandat ek hier is, in die buurt rond, daardie mammakat lyk verdag baie asof hy haar pa kon gewees het.
Smokey gryp haar geleentheid aan, maak ‘n briljante loopbaankeuse en word deel van ons huishouding.
Op die plaas langs die kinderhuiskampus is daar plaaskatte – met voorspelbare gevolge. Een klein swart katjie soek skuiling in die “crawl space” onder die huis waar my kinders as huisouers werk. “Crawl space” is ‘n uitstekende benaming, want dis ‘n lae, onafgewerkte ruimte wat as buffer dien tussen die grond en die huis self, wat dit moontlik maak om die pype en kabels van die huis maklik by te kom. In hierdie “grot” gaan kruip die vriendelike ou katjie weg – en kry terstond die naam “Batman” by die seuntjies van die huis.
Batman is besonder vriendelik – as enigiemand naby kom, knie die outjie met sy voorpootjies op die harde sement. Hy bly ‘n buitekat, so rondom die huis; kry sy eie plastiekkas met die Batman-logo op die voorkant danksy my dogter V se liefde vir versiering; kos en water word vir hom uitgesit. Hy speel ewe getroos met die plastiekgholfballetjie en die swart gomlastiektennisbal wat buite die cottage rondlê. Die seuntjies kom sit soms buite by hom, gesels en streel – dis ‘n goeie lewe. Maar o wee: ‘n kat op kampus is teen die beleid!
V begin planne maak. Sy oorreed haar man om die katjie na hulle huis hier in Greenwood te bring, waar ek, Smokey en hulle twee ander katte Diesel en Midnight bly. Sy vra amptelik toestemming by die seuntjies. Toe die seun wat die liefste vir die katjie is “ja” sê, skiet haar oë vol trane. Batman kom huis toe.
Op sy magie is daar twee diep groewe en op sy maer flank ‘n paar spierwit haartjies, wat groei uit die plek waar ‘n tand of ‘n klou ‘n wond gemaak het. Die outjie het ten minste een van sy lewens reeds afgestaan…
Eintlik moet mens nou fyntrap hier, so tussen al die diere. Die twee ou katte vlug stoep toe, waar hulle nog rus en vrede kan hê, want die klen katjies het nog nie agtergekom hoe werk die katdeurtjie nie. Daar is nou ‘n weerligafleier vir Smokey se nagtelike kerjakkery, want die twee hou kammagevegte wat help om hulle oortollige energie te verminder.
Twee klein katjies het ‘n heenkome gekry, maar wat van die res? Ek dink deesdae so baie en met nuwe begrip en respek aan my katvriendin in Pretoria…