• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: April 2019

Z staan vir slaap (my alfabet van vreugdes)

30 Dinsdag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 9 Kommentaar

snork

Mense het my al as “so rustig” beskryf. Mmm, ek verkies daardie kompliment bo my eie besef dat ek eintlik vrek lui is!

Daar is niks so lekker soos ‘n Sondagmiddagslapie nie. My kleindogtertjie het my laasweek betrap en verklaar: “Jy is besig met jou gunstelingding om te doen: om te lêêê…” Die kindjie is ‘n goeie waarnemer.

Aprilmaand is verby en die A-Z-uitdaging is afgehandel. Julle kommentaar het my daardeur gedra – baie dankie, liewe blogmaats, julle is kosbaar.

Y staan vir Ys (my alfabet van vreugdes)

28 Sondag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 4 Kommentaar

Desember 2013, net nadat ek afgetree het, gaan ek by my dogter in die VSA kuier. Daar sien ek vir die eerste keer in my lewe rêrige-êrige sneeu.

My dogter was toe nog ‘n werknemer van die Girl Scouts. Dié middag vat sy my saam na ‘n onthaal wat ‘n troepie Girl Scouts vir ‘n groep senior burgers aanbied. Ons sit in ‘n pragtige saal met yslike vensters wat oor die tuin met hoë bome uitkyk toe die eerste sneeuvlokkies begin val – ‘n asemrowende gesig, omraam deur die sierlike vensters!

Ek bou sneeumanne (dis harde werk), maak sneeu-engeltjies (dis louter pret), sit my elke dag en verkyk aan die sneeulandskap. My flukse Amerikaanse skoonseun skraap sneeu van die motors, die oprit en die houtstoep af – as mens dit nie gou verwyder nie, ontaard dit in ys. Daisy die hond huppel soos ‘n dolfyn deur die sneeu; die buurman laat my met ‘n sleetjie teen die afdraand in sy tuin afgly.

In die helder sonskyn skitter die ysdrupsels aan takkies soos juwele…

sneeu 2013
sneeuboom
Sneeumannetjie
Ys 1
Ys 2

X staan vir Soentjie (my alfabet van vreugdes)

27 Saterdag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 3 Kommentaar

Sy is nie vanaand hier nie – sy slaap oor by haar oupa (Gewese Liefling) en sy geliefde, wat ook ouma genoem word. Ek gun dié fyn vrou daardie eretitel en ek weet dat klein Gabby vir haar, wat drie seuns het en nou ook net seunskleinkinders, ‘n bron van plesier en vreugde is.

Die huis is onnatuurlik stil en haar kamer is leeg. Saans as haar mamma haar vat om te gaan slaap, kom sy altyd eers vir my met ‘n soentjie nagsê. Sy trek haar mooi mondjie op ‘n plooi – kaplaks! – “Nag, ouma.”

O, hoe mis ek daardie vreugde vanaand…

Family-96 (3)

 

 

W staan vir Water (my alfabet van vreugdes)

26 Vrydag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 5 Kommentaar

Vanaand voel ek sommer vies vir myself, dat ek nooit daadwerklik plangemaak het om iewers by die see te gaan woon nie; dat ek iets wat my soveel vreugde gee, ‘n hele lewe lank vrywilliglik ontbeer het!

Wanneer ek die see hoor ruis, kom daar rustigheid in my gemoed. Ek sit graag na die golwe en kyk, veral as daar iewers ‘n rotsrif is waarteen die golwe breek en opspat – wit pluime bokant glinstergroen water.

Die kere wat ek in ‘n rivier kon swem, kan ek op my een hand tel – maar ai, dit was elke keer ‘n avontuurlike belewenis.

Plaasdamme en swembaddens het ek nog altyd behoorlik benut, ten spyte van paddaslyk en chloor.

Wanneer dit reën, dink ek aan ‘n geliefde predikant, ‘n Wes-Transvaalse boerseun, wat altyd so uit sy hart uit die Skepper vir die reën dankie gesê het.

Dit gaan goed met mense
wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring. (Psalm 84:6-7)

V staan vir Vlieg (my alfabet van vreugdes)

25 Donderdag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 13 Kommentaar

Om te vlieg, is vir my heerlik – of dit nou in ‘n brommende Hercules is; in ‘n Cessna hoog bokant Pretoria op ‘n warm lentedag, met die jakarandas daar onder in sulke lang rye, nes pers bolle wol; in ‘n groot, raserige helikopter wat oor Hartebeespoortdam skeer; of in ‘n yslike passasiersvliegtuig op pad na my dierbares.

Ek is mal oor die opwinding van opstyg: wanneer die enjins al harder loop, die vliegtuig al vinniger oor die teer jaag en dan uiteindelik die oomblik wanneer die wiele die aarde verlaat en die landskap skielik onder ‘n mens wegval en in ‘n speelgoedtoneel verander.

Ek hou van die effense angs van ‘n landing: wanneer die grond al nader en nader kom, totdat die wiele net-net bokant die aanloopbaan hang en dan die landing self en die oorweldigende krag van die remme en hoe die vliegtuig daarna ewe sedig voortrol tot dit tot stilstand kom.

Lughawens is vol mense en stories – die ure se wag op ‘n aansluitingsvlug gaan sommer gou verby. Ook die wete dat iemand vir ‘n mens wag, is kosbaar. My liewe dogter moes al ‘n hele klompie kere vir my wag, maar die dag toe ek die vlug van Washington na Harrisburg verpas het (gelukkig nie my skuld nie!) is haar geduld behoorlik beproef. Harrisburg se lughawe is ‘n hele entjie uit die stad uit en toe ek nie op die vlug is nie, moes sy onverrigtersake terugry om maar weer die volgende vlug te kom ontmoet. Ek skaam my om dit te erken, maar my slimfoon was toe nog splinternuut en ekself tegnologies bitterlik dom, met die gevolg dat sy nie my boodskappe, wat haar vertel ek’s  op pad, ontvang het nie. In ‘n boekie het ek haar fb-inskrywing bewaar, want hierdie woorde van my geduldige, liefderike kind loop oor van haar liefde vir haar ou ma:

FOUND: One Mom. Very late and slightly jet lagged, minus one suitcase – the one with most of my South African loot, eek!! – but in good shape overall. Answers to: Mams, Mamma, Ouma, Skattebol and Liefie. Skills include, but are not limited to: translating, baby-sitting, flying halfway around the world to visit her first born (and favourite!) child.

(In die kommentaar het sy en Middelkind gestry oor wie die gunsteling is. Eintlik het ek drie gunstelingkinders.)

U staan vir Uitpak (my alfabet van vreugdes)

22 Maandag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 15 Kommentaar

Kom toe vandag uiteindelik so ver om my lessenaartjie se laaie uit te pak en te (probeer) orden. Dit was ‘n fees van ontdekkings, maar ook ‘n onthutsende ervaring, want ek het besef my opgaardrang is iets ysliks. Tog is ek bly oor elke enkele kaartjie, foto en papiertjie wat my vandag laat terugdink en glimlag het.

Die kaartjies en papiertjies het ek in vyf hopies gepak: van my dogter en haar man; van my boetie en sy mense; van Laatlam en sy dierbares; van ander mense – vriende, kollegas, bure; van Middelkind en sy gesin. Dit wemel van die katprentjies – duidelik het my katversotheid dikwels die keuse van ‘n kaartjie vergemaklik.

In die hopie van my dogter is daar ‘n kaartjie uit haar hoërskooldae, met die hele gesin (vier troeteldiere inkluis) se name almal in haar handskrif onderaan: “Pa, Vilette, Joon, Flip, Oscar, Mattewis, Garfield en Appel”. Sy het duidelik besef dat dit ‘n onbegonne taak is om die hele ou spulletjie in hulle eie handskrif te laat teken. Daar is ‘n klomp Moedersdagkaartjies, duur Amerikaanse skeppinge op luukse dik papier, met ekstravagante loftuitinge aan “Mother”, en onderaan afsonderlike persoonlike boodskappies van haar en haar man. Die verjaarsdagkaartjies verseker my dat ek goed vaar in my stryd teen die ouderdom, bv. die een van ‘n kroeserige, valerige, sopnat en befoeterde kat wat my vertel: “You’re not washed up…” en as mens dan omblaai: “You’re just soaked in experience!”

Op my boetie kon ek altyd staat maak om snaakse verjaarsdagkaartjies uit te snuffel – so is daar een met ‘n blou strokiesprenthaas op die buiteblad wat vra: “Chillin’?” en dan aan die binnekant kom die antwoord: “Grillin’!!” met die einste haas wat sy hande verwarm deur hulle na ‘n verjaarsdagkoek uit te strek wat kreun onder ‘n allemintige vrag brandende kersies. Daar’s ‘n pragtige selfgemaakte kerskaartjie van my broerskind wat my vertel hoe bly sy is dat ek in Nieu-Seeland by hulle kon kom kuier oor die Kersgety van 1915; ‘n reeksie uitgeknipte kartonnetjies waarop haar boetie as klein seuntjie onder andere vir my geskryf het dat ek lekker pasta maak en “die beste” is.

Uit die dae toe Laatlam nog onder sy ma se dak gewoon het, in plaas van andersom soos wat nou die geval is, is daar lawwe, liefderike briefies aan “Mamsling”. Daar’s ‘n pragtige verjaarsdagkaartjie in die vorm van ‘n swart “fuzzy-wuzzy” kat, met ‘n dierbare, lang boodskappie van my skoondogter; ‘n bedagsame briefie wat sê: “Ons is gou winkels toe. Liefde, C & G”.

Daar is afskeidsboodskappies van verskillende werksplekke se kollegas; poskaarte uit Edinburgh, Zambië, Tsitsikamma en die Grand Canyon. Een briefie is in babataal deur my buurvrou aan Laatlam geskryf toe hy een jaar oud geword het:

Fllppppp –
Agrrrrr! Glugghlughlglugh
Llliefffffff!!!
Brrrrr – kouddddd
Mmmmmmooooooi!
Sssssskkktttt!
Tttttann Kttttttta

In Middelkind se hopie is daar die mooiste handgemaakte Moedersdagkaartjie met ‘n afdruk van die pragtige houtskoolskets wat my begaafde skoondogter van ons eerste kleinkind gemaak het. Daar is ‘n potloodtekeninkie van ‘n son, wat hierdie einste seuntjie gemaak het terwyl hy prewel: “I’m drawing the sun, so it can shine on us…” (sy moedertaal is Engels – my skoondogter is ‘n Engelse Vrystater). My kleindogter het ‘n kleurige kaartjie geteken met vlinders en ‘n vrolike meisie in ‘n groen rok. Boaan staan: “I love you ouma.” In ‘n gekoopte Moedersdagkaartjie skryf my liewe ou seun: “…aanvaar asseblief hierdie soetsappige kaartjie met my hartlike liefde…”
Maar die heerlikste van alles is die opstel wat ons eerste kleinseun geskryf het (ek dink dit was vroeg in graad een):

The Lion
A lion is a mamel.
It gives birth to live youn.
And it is part of the cat family so it can see in the darc.
It is a carnivall which means it is a meat eater!
It lives in Africa.
It lives in a family calld a pride.
A family of lions has between 3-5 members in its pride.
A lion can eat 28 killer grams a day.

Nou vra ek jou: Hoe kan ek enigiets hiervan net weggooi??

T staan vir Trompet (my alfabet van vreugdes)

21 Sondag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 7 Kommentaar

Die Heer het opgestaan! Die Heer het waarlik opgestaan.

Gisternag het ek nog gewonder oor die letter T en vanoggend is die antwoord daar:
T staan vir Trompet.

Van al die instrumente is ‘n trompet vir my suiwer triomf – bygesê, mits dit in die hande van ‘n meester is, wat wel vanoggend die geval is.

Donderdagaand het ons by kerslig die nagmaal met ongesuurde brood gevier; Vrydagoggend het ons in bittere stilte uiteengegaan; vanoggend dra baie mense wit, oor die kansel hang wit draperings, wit lelies en rose juig in ‘n lieflike rangskikking.

Die kerk is stampvol. Ons staan terwyl orrel en trompet die Hallelujakoor uitjubel; ons sing terwyl die trompet bo ons stemme uitstyg. Toe ons die tweede vers van die laaste lied (VONKK 277: U is die lig) sing, op die wysie van Highland Cathedral, sluit die verrassende klank van ‘n doedelsak skielik by die orrel en trompet aan en dra ons stemme in ‘n verruklike loflied.

Hoor jy die Paasfeesklokke?
Hul lui van vroegdag af;
hul jubel oor die wêreld:
Die Heer is uit die graf!

S staan vir Suiker (my alfabet van vreugdes)

20 Saterdag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 11 Kommentaar

Met die “skoolfunksies” (= basaars) van my kinderjare was fudge ‘n belangrike deel van die lekkerte. Die ma’s het houers fudge skool toe gestuur, waar ons kinders dit dan in klein versierde papiermandjies verpak het. Daar was allerhande soorte: donkerbruin met kakao gegeur; die tradisionele pienk-en-wit klapperys; fudge met neute en dan die ware jakob – die gewone heerlike ligbruin soort met die karamelsmaak. (‘n Mens skrik as jy sien hoeveel suiker, kondensmelk en gouestroop in so ‘n kooksel fudge ingaan.) Mikrogolfoonde het eers baie later in kombuise verskyn; hierdie basaarfudge is vir baie lank op stoofplate geroer, om en om, totdat dit daardie allesbelangrike stadium bereik waar mens dit in ‘n pan moet uitgooi voordat dit te styf word. Die eindproduk is romerig, maar tog harderig – mens se tande moet so aan ‘n blokkie kan knaag. Fudge wat te sag is, is vir my ‘n groot teleurstelling – om nie eens te praat van die karameltoffies wat in Ierland as fudge bestempel word nie! Baie lank het ek probeer om self fudge te maak, maar dit was die een mislukking na die ander, totdat die oulike vroutjie van een van GL se kollegas aangebied het om my in my eie kombuis te kom wys hoe om dit te doen. Daardie resep maak ek vandag nog so af en toe, as die lus my oorweldig. Dan staan ek by die stoof, storieboek in die hand, en roer…

Ek is so innig dankbaar dat ons kerkbasaar nog ‘n poedingtafel het, met die bakkies poeding soos dit nog maar altyd was: stewige skeppies kouepoeding – iewers moet daar Idealmelk en kondensmelk in wees – liggeel, pienkerig, so ‘n sagte oranje; rooi of groen jellie; lekker dik tuisgemaakte vla – sonder klonte! – en as mens gelukkig is, ‘n koekerigheid om substansie aan die hele konkoksie te gee.

Dit bly vir my ‘n teleurstelling dat ek na die hoofgereg nooit kans sien vir nagereg as ons gaan uiteet nie, ek het dit al dikwels oorweeg om eerste nagereg te bestel, maar nog nooit die moed van my oortuiging gehad nie.

My ouma se glansworteltjies; gebraaide soetpampoen; stowepatats; ertjies in ‘n vlasousie – waar wil mens lekkerder kry?

R staan vir Repliek (my alfabet van vreugdes)

19 Vrydag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 7 Kommentaar

Volgens HAT is “repliek” ‘n deftige woord vir “antwoord”, dus kan ek dit seker gebruik om te verwys na my blogmaats se kommentaar? En (‘skuus Lou) dis nou iets wat aan my baie vreugde verskaf!

Veral die afgelope rukkie het julle kommentaar my hart bly gemaak. Julle het my vertel van julle gunstelingbome en van die bome van julle jeug:
Kameel en Bondelsgedagtes is lief vir ‘n koorsboom. Kameel het as kind in ‘n groot ou vyeboom weggekruip en klein Bondeltjies het haar hond probeer leer boomklim. Anne het graag in ‘n groot suurlemoenboom weggekruip om te lees en dan sommer van die growweskilsuurlemoene geëet. Perdebytjie vertel van die vaderlandswilg wat vir haar huis welkome koelte gee en Vuurvliegie verwys na vanwykshout en witstinkhout. Kleintyd het sy in ‘n bloekom weggekruip en gelees. As kind het Hester aan peper- en bloekomboomtakke geswaai en sy verlang nou nog na die ou peperboom in haar Gautengse tuin. Scrapy het ‘n luiperdboom geniet wat in haar meenthuis se tuintjie gegroei het.

Ek leer so baie by julle! Perdebytjie het selfs die duif geïdentifiseer wat ek amper raakgery het: ‘n geelbekbosduif (watter heerlike naam).

Julle moedig my aan om oumastories te vertel en verdra my sentimentaliteit deur die gedagte aan ‘n reënboogbrug met heengegane troeteldiere aan die anderkant te beaam en my te verseker dat julle ook in beskermengeltjies glo.

Ek verkneukel my in julle fyn begrip, wanneer julle kommentaar duidelik laat blyk dat julle die subteks raakgelees het.

Q staan vir Quiche (my alfabet van vreugdes)

18 Donderdag Apr 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 6 Kommentaar

Dis vir my lekker om te bak en brou en te sien hoe die resultate verorber word. Toe ek in my eie huishouding nog elke aand ‘n maaltyd moes voorsit, het ek graag nuwe resepte probeer, anders voel dit darem al te veel na sleurwerk. Hierdie eksperimente was nie altyd geslaagd nie – ek onthou een aand toe my kinders die poging as “katkos” bestempel het! Quiche – of souttert, soos ek dit sommer genoem het – was gelukkig altyd ‘n gunsteling.

← Older posts

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Nuutste kommentaar

Una oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Weerberig, 25 Januarie 20…
woordnoot oor Weerberig, 25 Januarie 20…
scrapydo2.wordpress.… oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Sondagstap

Argief

  • Januarie 2023
  • Desember 2022
  • November 2022
  • Oktober 2022
  • September 2022
  • Augustus 2022
  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

DeWetsWild Photography

Disappearing into South Africa's wild places... Again!

Hannes van Eeden

Bodemklippe

Docendo discimus

Enelda

Sonder 'n masker

Wild Adventures Blog

Journey to the wild

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

'n Webwerf vir die Afrikaanse digkuns

Masha du Toit

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 223 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...