Scrapy nooi ons om oor musiek te skryf.

My tyd hier in die VSA is deurdrenk van blomme en gospelmusiek.

In my kinders se gemeente speel die predikant soms kitaar en sy kosbare vrou dra die gemeentesang met haar spel op die klawerbord. Sy het ‘n ligte sopraanstem en die manier waarop sy deur haar sang en musiek aanbid, is iets besonders. Daar sing ons stemmige gospelliedjies en tradisionele liedere uit ‘n blou hardebandboek, soms is daar selfs melodieë wat aan my bekend is, al kan ek nooit op daardie oomblik die Afrikaanse woorde onthou nie. 

Donderdagmiddae om twaalfuur is daar ‘n spesiale byeenkoms, die “Houseparents’ Church”, in ‘n kerk naby die kampus. Daar sing ‘n jongman gospelliedjies met kitaarbegeleiding: hy gooi sy kop agteroor en maak sy oë toe in eenvoudige, opregte vervoering.

Die stilte hier in hulle huis wanneer my kinders op kampus werk, verdryf ek met ‘n plaaslike radiostasie wat ligte geestelike liedjies speel. Dis eenvoudige melodieë met voorspelbare akkoorde. Daar is allerlei stemme, maar as Mark Hall van Casting Crowns of Zach Williams sing, ruk hulle opregtheid my elke keer tot stilstand.

Soms luister ek na klassieke kerkmusiek, in Glomedia-programme wat ons predikant en orrelis spesiaal gedurende die grendeltyd geskep het. Dan besef ek weer dat daar niks is wat ‘n tradisionele orrel kan oortref nie (mits die persoon wat speel ‘n meester is!) en dat orrel en trompet ‘n hemelse kombinasie kan wees.

Vanaand het ek gaan terugluister na die Rebusfonteinkonserte wat die Towerinne in die middel van 2019 vir mekaar opgevoer het. Dit was ‘n fees.

https://fresh.inlinkz.com/p/24f3cd306d0d4f75a62c1f4aaa1fa76f