Die herfs is so-te-sê verby – hierdie wonderlike noordelike herfs wat ek gedink het ek gaan nooit sien nie, omdat ek die enkele kere wat daar ‘n kans was, verkieslik oor Kersfees kom kuier het. Toe gebeur Covid-19 en ek kan my gunstelingseisoen beleef in hierdie wêreld van woude: heuwels bedek met hoë bome wat van ver af gloei − geel, goud, rooi, oranje, bruin, met die immergroen aksente van die naaldbome tussenin.
Die bome hier se blare is groot en sterk. Dit bedek sommer maklik ‘n hele grasperk waar ‘n enkele boom groei en word deur die mense wat daar woon met blaarblasers bymekaargemaak vir die blaarlorrie wat soms met sy kolossale stofsuier die hope blare kom verwyder.
Na ses dae van heerlike warmte en stralende son reën dit vandag al van vroeg af aan. Dis sulke vet druppels, maar dit val sagweg en omdat die dakke nie sink is nie en die vensters geïnsuleer is, hoor mens nie die reën nie, dis elke keer vir my ‘n verrassing om die blink strate en plasse water daarbuite te sien. Die bure voorspel dat dit nou koud gaan word. V sê op sulke grys dae skakel mens ligte aan en brand lekkerruik-kerse en sy’s reg, dit help om misrabelgeid te beveg.
Ons het saam met vriende gery om drie dae lank in Virginia te gaan blare kyk. In die een kar is die meisies: ek, V, haar vriendin en Honey die hond; in die tweede motor is die manne met hulle gholfstokke. Ons ry deur die Shenandoah National Park, bo-op die Blue Ridge Mountains aan die een kant van die vallei waar die Shenandoahrivier vloei. By die “overlooks” hou ons stil en verkyk ons aan die vergesigte terwyl die liedjie “Oh Shenandoah” deur my kop dwaal.

Ons eet op die stoep van ‘n restaurant “The Blue Frog” in ‘n klein dorpie, waar heldergeel mums (klein astertjies) in potte pryk en ‘n man wat seker net so oud soos ek is, met ‘n grys poniestert en ‘n bandana, ons bedien en vir ons ekstra varsgebakte broodjies bring.
In Basye, in die Bryce Mountain Resort, bly ons drie dae in ‘n pragtige houthuis met drie verdiepings. Dis ‘n Air B&B-plek, met die gevolg dat ons kan sien hoe die eienaar se gesin hulle vakansies daar sou deurbring. Daar is memorabilia van die James Madison University en ‘n 1994-erelidmaatskapplakker van die plaaslike gholfbaan. Daar is boeke en speletjies en legkaarte. In die basement pryk ‘n werkende pinballmasjien wat vir baie pret sorg. Die kamer waar ek slaap, het ‘n kwilt met ‘n beermotief wat by die stort langsaan se stortgordyn met die beerprent aansluit.

Die blare begin nou net verkleur, ons is eintlik ‘n week of twee te vroeg om die volle herfsglorie te beleef.

Die manne gaan speel gholf en ons gaan stap ver ente met Honey langs die kronkelende teerpaaie deur die woud.

Na die eerste dag se “stappie” is ek poegaai, met die gevolg dat ek die volgende dag nie saamstap toe die pragtige meer ontdek word nie.

Ek knutsel doodgelukkig om die huis rond.


Terug in Pennsylvania is daar die pragtigste herfskleure, letterlik “in our own backyard”.

Op Oom Paul se verjaarsdag vat V my en Honey op ‘n stappie straat-af.

Laatmiddag val die lig skuinsweg en verlig ‘n klein boompie op dramatiese wyse.

Ek doen my bes om die prag in te drink en in my hart te bewaar, maar eintlik is dit oorweldigend.

Dankie, my liefste kinders, vir hierdie vreugde!

Jou beskrywings is so goed – ek voel asof ek ook daar was!
Jy is so lief vir die natuur, jy sou dit so geniet…
Jy lyk pragtig met jou lang hare!. Die herfsblare is besonders. Ek het eenkeer n video gesien van n kano-rit in kanada met die mooiste herfsbome weerskante vd rivier. Ingeloodlik mooi1
Dankie, Seegogga – dis alweer afgeknip, dit was my grendelstyl 😄
Wi. Jy kan maar weer begin groei!
Wonderful story… If one day you are in Amesville (Northern Virginia) say Hello of me to Bruce Geiser (her knows South Africa and he is crazy about horses.
Watter ongelooflike foto’s sou jy met jou kunstenaarskamera in Virginia kon neem!
I know….. ❤
O maar dis mooi. Ek lief die gekleurde blare. Huis toe kom tyd kom nader tannie, geniet die laaste saam wees tyd🥰
Ai Bondeltjies, die afskeid hier gaan bitter moeilik wees.
Sjoe, oogfeeste!!
Dis eintlik oorweldigend, mens kan later nie meer alles inneem nie.
Jou fotos is so mooi
Dankie Appeltjie, die mooies is my dogter s’n!
Die herfskleure is so mooi! Geniet elke oomblik Frannie!
Jy is so lief vir kleur, jy moes dit eintlik ook kon sien en afneem.
Ek sou wat wou gee Frannie!
Hoe mooi!
Herfs op sy allermooiste!
Pragtig, jy moet dit baie geniet. Amper tuis.
Maak so, dankie Christa. Die terugkoms lê soos ‘n berg voor my.
Dit sl goed gaan. Mens stres maar oor die reis, eral as dit so ver is. Ons het 10 000 km gevlieg. Maar die Here is al die pad met mens.
Dankie vir jou bemoediging!
Herfs, ook een van my gunsteling seisoene, ek kan ure daaroor skryf. Geniet dit!
Hoop jy pos van daardie skryfwerk hier op die blogs!
Daar is beslis alreeds van herfs op my blog, maar ek sal vir seker weer oor dit skryf as ons beurt kom 😉
Jy het gesien waarvoor ek kraag Amerika toe wil gaan… al daardie bome in hulle herfsgewaad. Dis pragtig Frannie en daardie houthuisie lyk so cozy.
Ons het ‘n hond uit die bos uit gekuier in daardie plek!
Dit klink fantasties Frannie en die foto’s is pragtig! Wanneer jy hier voet aan wal sit, gaan jy ‘n lekker warm, nat somer beleef. Ek is seker jy is al baie opgewonde oor die terugkoms.
Opgewonde maar nogal bangerig – gaan die Covid-toets wat SA wil hê se uitslag betyds gereed wees? SA laat ‘n venster van net 72 uur tussen toets en vertrek toe! Gaan die kleinkinders darem nog op hulle gemak wees met hierdie vreemde ouma? Daar’s ‘n kolossale nuwe hond by die huis – Great Dave, ‘n Great Dane – hoe gaan hy en ek klaarkom? Ag dankie Hester, ek voel beter nou dat ek so by jou kon kla…
Ek is seker alles sal vlot verloop en dat jou kinders aan hierdie kant net so opgewonde is oor jou koms. Great Dave – ag hulle is sweetie pies, daardie groot honde met die klein hartjies.
Dankie Hester, jy gee my moed! Ek sal DV vir Great Dave hier op die blogs aan julle kom voorstel.
Ek het op my foon gekyk na jou pos. Ek kom nou eers daarby uit om op my laptop te kyk want die tel is so klein dat die pragtige herfstyd nie tot sy reg kom nie. Dis pragtig, al daardie kleure en selfs die gevoel wat mens kry as mens daarna kyk dat dit besig is om kouer te wordBaie mooi. .
Daar is nou net hier en daar ‘n paar blare wat nog vasklou, dit laat mens regtig nostalgies voel. Maar dis baie lekker om skop-skop soos ‘n kind deur die blare te gaan stap!
Ja-nee so stap die tyd aan en die seisoene ook. HIer wag ons nou op die somer wat blykbaar hittegolwe kan oplewer en ook droogte.
Ek sou bitter graag ‘n herfsseisoen in d VSA wou beleef. Ek was verlede jaar vir die eerste keer in Amerika na ek jare nooit belanggestel het om soontoe te reis nie en ek was aangenaam verras. Soos my man voorspel het! Ek sal enige tyd teruggaan. Dalk nog in ‘n herfs…
Dis ‘n wonderlke ervaring, party blare is so groot soos sopskottels! en dan die wonderlike kleure. Het jy oor jou Amerika-ervaring geskryf? Ek sou dit graag wou lees.