Amerikaanse cuisine is ‘n eienaardige kreatuur waaraan ek nie eintlik vat kan kry nie (al sou die vetrolle wat ek in ‘n jaar hier bygekry het, dalk anders getuig). P se ma het die heerlikste gebakte ham en kapokaartappels gemaak en Tomato Pie Café se “Fall Salad” is ‘n salige konkoksie, maar oor die algemeen smaak Amerikaanse kos nie rêrig vir my lekker nie. Bygesê: ek is nou nie juis ‘n goeie proefkonyn nie, want ek hou nie van pasta en pizza nie (gee my goeie ou boerekos!), en “spicy” is myns insiens ‘n ander woord vir selfhaat.

Die Britte het ‘n gesegde wat hulle uit Shakespeare aangepas het : “Gilding the lily” = om iets wat reeds goed/mooi is, onnodig te versier. Amerikaners is meesters in hierdie kuns! Niks het net een geur nie – gaan stap maar in Bath and Body Works rond en lees ‘n bietjie: Vanilla & Patchouli; Rose Water & Ivy; Eucalyptus & Tea; Lemon, Citrus & Bergamot. Mens raak al te maklik deur hierdie speletjie meegevoer – toe ek byvoorbeeld die fynskrif van my gunstelinggeur, Champagne Toast, lees, kom ek agter dit bestaan uit Bubbly Champagne, Sparkling Berries & Juicy Tangerine en in plaas daarvan dat dit my olfaktoriese sintuig vir ewig konfoes, ruik dit vir my heerlik…

So leer V&P se oulike buurvrou oorkant die straat my in 2013 op my eerste besoek van Baked Oatmeal. Nou-die-dag het sy weer vir my ‘n yslike porsie present gegee, waarvan ek vanoggend omtrent een-derde ewe plegtig op Thanksgiving-oggend verorber het. Dit bevat outydse hawermout (sy is adamant: not instant), bruinsuiker, sout, bakpoeier, eiers, melk, kookolie, vanielje, vrugte en neute en word in die oond gebak. Hoe weet ek so presies wat alles daarin is? Omdat sy vir my die resep neergeskryf het en ek gaan hopelik nog my kleinkinders daaraan onderwerp…

Photo by Life Of Pix on Pexels.com