• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Februarie 2021

Verf volgens nommers op Rebusfontein

24 Woensdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 30 Kommentaar

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein.

Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.

Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Rebus is ons wegloopplek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.

As jy ooit lus het om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Terwyl Una, Frannie, San en Toortsie nog besig is om Seegogga se kunstige, kleurvolle koei Blommetjie te bewonder, wat heel in haar skik na haar spieëlbeeld kyk, kom Lelik die wilde wit kat aangedraf.  “Nooi, nooi!” miaau sy benoud. “Kom help, die Rebusdiere is besig om te baklei doer in die Rebusrus Amfiteater!”

Frannie lê die rieme neer Amfiteater toe, met die ander Goue Vroue agterna. Daar gekom, sien hulle chaos daar onder op die proscenium: Rebus se diere het poot- en vlerkgemeen geraak, hulle baklei dat die stof so staan, die hare en die vere waai. Eintlik sien mens net die groot stofwolk, met so nou en dan ‘n kat- of hondepoot of ‘n vlerk wat uitsteek en weer verdwyn, dit lyk kompleet soos die strokiesprente altyd ‘n bakleiery voorstel. Die diere blaf en knor, tjank en miaau, tjirr en skrrree dat hoor en sien vergaan.

Toortsie storm teen die kliptrappe af en roep met ‘n stentorstem: “Hokaai! Wat dink julle vang julle aan?! A nee a, Rebusfontein is ‘n plek van rus en vrede!!” Geleidelik raak die diere rustig en die stof gaan lê. Geluk, Kameel se swart kat met die wit pootjies, begin haarself energiek was, volgens die immergroen katbeginsel soos deur Paul Gallico verwoord: “When in doubt, wash!” Die Bengaalse kat Liefkat wat aan Woordnoot behoort gaan lê lankuit in die son, haar flanke hyg op en af van uitputting. Abby-kat van San ruk haar stert verontwaardig op en af.

Op ‘n ander deel van die proscenium lê die honde, behoorlik pootuit. Rondloper Rof, die rooibruin reun, lê op sy rug met Bybie, Hitler se hond Blondie se baba, styf teenaan hom. Trompie lê op sy magie met ‘n fronsplooi tussen die oë, want hy voel half aandadig aan hierdie onmin – die bakleiery was oor die geskenk wat hy vir Dawie, Appeltjie se Yorkie, gestuur het: die Verf-vlgs-nommers-stel. Dawie huil lang trane, want sy pragtige verfstel is weg, Porkie die Morepork-uil wat Scrapy van Nieu-Seeland af saamgebring het, het dit gegryp en daarmee weggevlieg. Die ander Yorkie, Twinkles, probeer hom troos terwyl Karolus, Trommeltjies se Staffie, en die Labrador Charlie van San besorgd om hulle rondmaal.

In een van die hoë dennebome sit Pasella en Bekkie die spulletjie en bekyk.   

In die voorste ry sitplekke sit die diere wat nie deel van die bakleiery was nie: Kieterkat, Lelik, Danie, en Christa se drietjies BB, Shilo en Sjobek. Botter kan nie in hulle bekkies smelt nie, hulle blink van die vroomheid. Heel bo in die amfiteater is daar ‘n groepie kreature: Appeltjie se lemur Lemmie, die luidier Blits, die ietermagog Rocky, Francis die bromvoël en Faye die feetjie, geskaar rondom ‘n verwonderlike, glorieryke verskynsel. Dis Floki, VirgoC se Noorse boskat, maar in ‘n nuwe gedaante. Voordat daar onmin tussen die diere gekom het, het hulle almal saamgewerk aan hierdie wonderlike projek om Floki te verf. Hoekom? Om dankie te sê vir al die groen raad wat Floki se nooi so gulhartig met die Rebusfonteiners deel.

En toe gebeur die ramp, soos wat so dikwels met goeie bedoelings gebeur: die diere het begin stry oor wie volgende aan die beurt is om geverf te word, wie die verfwerk gaan doen, en wat die motivering vir die nuwe projek sou wees. Dit was vinnige denke aan die kant van Scrapy se uiltjie om die verfstel weg te raap, anders het die stof nog lank nie gaan lê nie…

Seegogga wink die ander: “Kom julle, ek het nou tee en vrugtekoek nodig. Kom ons gaan sit op my huisie se stoep en kyk of daar nog van die ander Goue Vroue opgedaag het, dis tyd vir ‘n behoorlike avontuur!”

In die oomblik – 2021(1)

20 Saterdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 25 Kommentaar

Toe Afrikaans nog as “ons pêrel van groot waarde” beskou is, is kinders gemaan om dit suiwer te gebruik – g’n Engelse uitdrukkings tussenin nie! Destyds was dit ook maklik, want daar was ‘n ryk Afrikaanse omgewing: puik kinderprogramme op TV, talle Afrikaanse tydskrifte en koerante, Afrikaanse flieks, universiteite waar Afrikaans vanselfsprekend die voertaal was.  

As selfaangestelde bewaarder van my moedertaal, het ek probeer om my kleindogtertjie Gabby ook te leer dat mens enigiets in Afrikaans kan sê. Soms het dit gevoel of ek met my hande ‘n oorstroming probeer keer, want sy word in ‘n gans ander taalomgewing groot: Engels op die TV en YouTube, Engels in partytjie-uitnodigings, Amerikaanse superheroes en pop stars. Sy het my egter geduldig verdra – en toe is ek vir 14 maande weg uit haar lewetjie en die Engelse ranke groei welig…

Ouma is terug en vasberade om al daai Engelse woorde in haar oogappeltjie se taalgebruik met mag en mening te beveg. Vandag is die wind egter behoorlik uit my seile gehaal, want dit kom toe uit dat Gabby nog altyd gedink het haar ouma verstaan Engels nie so mooi nie. Want ouma het dan altyd gevra wat die Engelse woord in Afrikaans beteken!

Kleinkinders help oumas om hulself nie so bitterlik ernstig op te neem nie…

Photo by Sharon McCutcheon on Pexels.com

Maandag=Wasdag 7: Vreugde

18 Donderdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 13 Kommentaar

Verklarings volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT):

Vreugde: 1. Groot blydskap 2. Plesier 3. Oorsaak van geluk

Geluk: 1. Toestand van tevredenheid; bevrediging van jou wense en verlange; vreugde

Plesier: 1. Gevoel van vreugde, veroorsaak deur iets wat mens aangenaam vind 2. Vermaak, genot

Om tuis te wees, is ‘n groot aanpassing. Ouma het al “bietjie gevergeet” presies hoe lewendig twee klein lyfies kan wees!

Ek sit buite en kyk hoe Joshi op sy blou fietsie ry, om en om op die plaveisel. Gabby hardloop rondtes en Ouma hou haar hart vas dat die twee nie met mekaar bots nie. Gabs kom haar op my skoot neervly: die asempie jaag en die hartjie klop woes. Ek verkyk my aan die pragtige kindergesiggies: gladde vel en rosige lippies. Gabby se lang, laang vlegsels swiep deur die lug; Josh se blondekoppie blink in die laatsomerson.

Toe Scrapy ons nooi om oor vreugde te skryf, het ek gewonder presies wat daardie woord beteken. HAT werp ook nie eintlik lig nie – mens sal dalk na sielkundige verklarings moet gaan soek. Vir my is dit soort van die oortreffende trap van gelukkigheid, dis dalk daarom dat HAT dit gróót blydskap noem. Is hierdie innige oomblikke buite onder die koelteboom in die Afrikalug vreugde? Of is dit sagter: gelukkige tevredenheid gemeng met dankbaarheid, teen ‘n agtergrond van verlange na my liewe dogter wat nou so baie ver is?

Vandag is ek reeds ‘n week terug in Suid-Afrika, terug onder Laatlam se dak. Dis ‘n woelige huishouding: Laatlam loop soos ‘n groot ou beer rond met sy selfoon teen die oor, of sit voor die rekenaar en maak ergerlike geluide – hy werk nou al van laas Maart van die huis af… My skoondogter wip op en af teen die trap, besig met die menigvuldige pligte en verpligtinge van ‘n mamma. Gabby stort in duie van angs oor die nuwe skooljaar; Joshua gesels en ek kan hom nie meer verstaan nie, ek sal vir my ‘n kode moet uitwerk: t beteken k; s beteken g. Die twee nuwe troeteldieraanwinste is Kwazimoto, ‘n yslike Tuxedokat uit C se ouerhuis, en Great Dave, ‘n Great Dane. Muis die Africanishond en Lelik my ou wit kat weet nie wat hulle getref het met die “inkommers” nie.

Watter versameling eiesoortige, eienaardige wesens! Skielik besef ek met ‘n skok dat ekself as inwonende ouma wat in die tuin sit en juig en hande klap, vir seker tot hierdie eksentrisiteit bydra…

Maandag=Wasdag 6: Frustrasie

14 Sondag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 23 Kommentaar

Scrapydo nooi ons om oor frustrasie te skryf…

As daar een tydvak in ‘n mens se lewe is waar jy met frustrasie te kampe het, is dit die ouderdom. Ek verstaan maar al te goed waarom “a grumpy old woman” ‘n gesegde geword het!

‘n Oumens word weer soos ‘n kleuter: klein goedjies ontstel haar uitermate; sy mors maklik tee in haar piering; sy vat lank om aan te trek en sy beweeg stadig in vergelyking met die grootmense (= jonger mense).

Haar hande raak swak en dom en sy moet telkens hulp vra om flesdoppe oop te skroef. Fyn vingerwerkies soos om die plastiek om ‘n plakkie kaas te verwyder, raak amper onmoontlik. Gelukkig is diegene soos die uwe, wat net met styfheid gepla word, sonder dat hulle nog teen pyn ook moet stry!

Klank raak dowwer; beelde raak vaer. Buk is ‘n hele proses. As sy so gelukkig is om nog plat op die grond te kan gaan sit, is dit ‘n geweldige uitdaging om weer op te staan – sy kyk met verstomming en diepe naywer na die “American football”-spelers wat orals op die veld soos vrot velle neerslaan en moeiteloos weer op hulle voete terugwip.

Daar is die flou grappie van die ou oom wat, toe sy mense op pad dorp toe was, vir ‘n jongman gevra het: “Het jy gehoor of ek saamgaan?” Dis hoegenaamd nie snaaks nie, omdat dit so waar is! As mense nie spesiaal moeite doen om die oumens by hulle planne in te sluit nie, dwaal die oumens verwese en ontredderd rond – gelukkig is hierdie frustrasie my gespaar; ek is elke dag dankbaar oor die bedagsaamheid waarmee my kinders my behandel.

Photo by Inga Seliverstova on Pexels.com

Jesaja 46:3-4 Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.

The Colours of Cold — SEVEN CIRCUMSTANCES

14 Sondag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 4 Kommentaar

Hierdie blogger is myns insiens geniaal en ‘n meesterlike digter. Dan is sy nog van Afrikaanse herkoms ook!

I was thinking about a comment that Fran, one of the bloggers whom I follow, made the other day about snow – that when it snows, the light reminds her of the colour on the inside of a mussel shell. True, that, I thought. So I wrote a poem about it, “The Colours of Cold”. […]

The Colours of Cold — SEVEN CIRCUMSTANCES

Afrika-avontuur

12 Vrydag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 30 Kommentaar

“Besluit wat Mamma wil doen en ons sal ons bes doen om dit te laat gebeur.”

Dit was my dogter se woorde toe die kwessie van teruggaan na Suid-Afrika onder die huidige omstandighede vir die tweede keer ter sprake gekom het (die vorige keer is daar ‘n stokkie voor gesteek omdat my kinders twee weke lank in die “student home” onder kwarantyn geplaas is. Alles het goed afgeloop, niemand het siek geraak nie behalwe die een seuntjie, wat met vlieënde vaandels die hele korona-affêre deurgemaak het. Dit is my gegun om ‘n tweede Kersfees in die VSA te beleef en daar was kanse om heerlik in die sneeu te speel.)

Na my gebruiklike wroeging het die roepstem van Suid-Afrika maar weer die oorhand gekry. My kinders het vir my ‘n nuwe enkelkaartjie na SA gekoop – die vorige nuttelose retoerkaartjie was met die Suid-Afrikaanse Lugdiens… Ek is aangery na ‘n Covidtoetssentrum toe, waarvan die uitslag danksy die Amerikaners se gebruiklike doeltreffendheid binne twee dae beskikbaar was. My kinders het drie uur lank na Newark Airport, New Jersey gery om my op die vliegtuig te kry. Ten spyte van gerugte van sneeu, was die pad skoon en die rit voorspoedig, al het daar die oggend vet vlokke sneeu op die oprit langs hulle huis geval – vlokke wat so gespat het wanneer dit die teer tref.

Ethiopian Airlines het die direkste vlug gebied: 9 h 45 min na Lome (iets soos “lô-mie” uitgespreek, met ewe veel klem op albei lettergrepe) in Togo, ‘n landjie aan die onderkant van die boog van Afrika; een uur oorstaan; 5 h 25 min na Addis Ababa; 2 h 20 min oorstaan; 5 h 25 min na Johannesburg. Vlugtyd altesaam 23 h 55 min – en iewers langs die pad sou ek sewe uur in die toekoms inspring vanweë die tydsverskil tussen waar ek was en waarheen ek op pad was. ‘n Groot avontuur: om so oor die breedte en lengte van Afrika te vlieg.

En (‘skuus Lou) het ek dit nie geniet nie! Ethiopian Airlines het my aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens se beste dae herinner: vietse, vriendelike lugwaardinnetjies; vlieëniers wat die logge vliegtuig soos ‘n veertjie laat land; lekker kos; aankondigings in drie tale – Amharies (‘n semitiese taal wat binne die Afro-Asiatiese taalfamilie ontwikkel het), Engels en Frans. Die lughawe in Lome is klein en stowwerig; daarna vlieg ons laag genoeg dat ek die kronkelende riviere deur die bruin landskap kan sien soos wat die kosbare water na ‘n vloeiplek gesoek het – ‘n geweldige kontras met Pennsylvania se breë, reguit riviere. In Addis Ababa klap die passassiers vir die vlieënier se puik landing hande en ‘n enkele helder jongvroustem ululeer ‘n aanprysing – ek is terug in Afrika, hoe het ek dit tog gemis.

Op pad is daar gebare van deernis: iemand wat my swaar rekenaarsak vir my uit die oorhoofse bagasierak tel, iemand anders wat my help om die tweede tas op die eerste een in die trollie gelaai te kry. Terwyl ons iewers sit en wag om oor te klim, vra ‘n jong meisie: “Are you South African?” en ek antwoord “ja” in Afrikaans. Sy is op pad huis toe na twee jaar as au pair in die VSA; daarna waai ons elke keer vir mekaar op ons moeisame weg deur die lughawe op pad vliegtuig toe. Laatlam staan in die nag op om my te kom haal en ons ry deur die sagte oggendlig huis toe, waar ‘n sak vol bederwe op my wag…

…en so ook die kleinkinders. Hier sit hulle onder my lessenaar, in die beknopte ruimte wat Gabby haar “HQ” noem.

Dit was ‘n geseënde reis.

Foto

In die oomblik – VSA31

09 Dinsdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie | Filed under Uncategorized

≈ 11 Kommentaar

“Do you wanna build a snowman…”

04 Donderdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 12 Kommentaar

Nouja, ek neem Elsa nie kwalik dat sy nie op Anna se uitnodiging gereageer het nie – alhoewel, met Elsa se superkrag sou sy waarskynlik een-twee-drie ‘n wonderbaarlike sneeuskepping opgetower het.

Na twee dae se sneeu en nog ‘n dag se rondsittery, kry ek myself eindelik so ver om die sneeumanbouery aan te pak – alleen, omdat my kinders werk. Maar toemaar, ek het mos nou al geleer: mens rol drie balle, sorg dat die onderste een ‘n stewige basis vorm en pak die ander twee bo-op. Dan kom die lekker deel: serp om die nek, twee kersfeesballetjies vir oë, ‘n wortel vir ‘n neus, takkies vir arms.

Die sneeu het begin smelt en daar is nou ‘n yslagie bo-oor. My sneeustewels (daarsonder sou ek nie durf waag om in die sneeu rond te loop nie – dankie, liewe V!) kraak die yslaag en sink weg in die sagte sneeu. Ek kry net nie die nodige balle gerol nie – skep sommer ‘n hoop sneeu met die graaf bymekaar, val op my knieë en stamp-stamp met sandkasteeltegniek, terwyl ek besef droom en werklikheid is vandag kontinente ver van mekaar verwyder…

Die uiteindelike produk: ‘n kort, stewige Suid-Afrikaanse sneeudogtertjie

Om ‘n sneeuman te bou, verg krag, kundigheid en vaardigheid. Ek hou egter by my stelling dat dit nie die regte soort sneeu was nie…

In die oomblik – VSA30

02 Dinsdag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 6 Kommentaar

Sneeu-engel

“Die werk van U hande”

01 Maandag Feb 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 18 Kommentaar

Gisternag het die wêreld soos die binnekant van ‘n oesterskulp gegloei: die stadslig is heen en weer gekaats tussen die spierwit sneeu en die digte wolklaag, sodat dit heelnag nooit regtig donker was nie.

Vandag lyk dit soos ‘n potloodskets daarbuite – skakerings van grys en wit – met die sneeuvlokkies wat vir die tweede dag steeds aarde toe dwarrel. Die sneeu teken die takke kunstig af.

Hoe mooi is die sneeuvalletjies op die naaldboom!

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Nuutste kommentaar

Una oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Weerberig, 25 Januarie 20…
woordnoot oor Weerberig, 25 Januarie 20…
scrapydo2.wordpress.… oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Sondagstap

Argief

  • Januarie 2023
  • Desember 2022
  • November 2022
  • Oktober 2022
  • September 2022
  • Augustus 2022
  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

DeWetsWild Photography

Disappearing into South Africa's wild places... Again!

Hannes van Eeden

Bodemklippe

Docendo discimus

Enelda

Sonder 'n masker

Wild Adventures Blog

Journey to the wild

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

'n Webwerf vir die Afrikaanse digkuns

Masha du Toit

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 223 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...