Die Goue Vroue is ’n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Klik op die volgende skakel as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang, want, jy sal die vorige hoofstukke eers moet lees om hierdie een te verstaan …
https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711
***
Laatnag staan Frannie op haar gunstelingplek – die skans van die Fort de Goede Hoop wat die naaste aan die see is. Sy doen haar bes om haar nie aan die gegiggel van die Goue Vroue te steur nie, wat opklink daar waar hulle in die eetkamer deur Jacques die seerowerkaptein gemasseer word. Ag, sy wéét haar maats het die afgelope weke ’n moeilike tyd verduur hier in die vreemde, outydse Kaap en hulle verdien vertroeteling en ontspanning – sy gun hulle dit ook, maar ai, sy wéns net só dat iemand haar moet kom help dink oor hoe om hulle terug te kry op Rebusfonten. Die Goue Vroue is uitgeput en die rustigheid van Rebus roep…
Al die gebeure sedert die Goue Vroue dit op die een of ander geheimsinnige manier reggekry het om saam met Van Riebeeck en sy geselskap aan die Kaap de Goede Hoop aan land te gaan, speel voor haar geestesoog af: die vroue se harde werk in die groentetuin, VirgoC wat in die siekeboeg verpleeg, Scrapy se heldedaad toe sy die vlermuis verbloomer, die jagtog met die gesteelde pangeweer, hoe die soldate vir die Goue Vroue in die begraafplaas skrik, hoe Toortsie en Positief hulself loslieg met ’n gestroopte eland op hulle wa, die deftige en feestelike troue van Van Meerhoff en Eva Krotoa, die missie van die Goue Vroue om vir die soldate beter voeding te beding, Maria se besoek en hoe sy en die Goue Vroue mekaar wedersyds respekteer, die dramatiese verskyning van die seerowerskip in die baai en die gevangeneming van Seegogga, Lolla, EkMyselff, Sonèll en Kameel. Sy beleef weer die angs en triomf van die reddingspoging, sien hoe die seerowerskip wegsink, onthou hoe Jacques die seerowerkaptein vra of hy mag saamgaan na Rebusfontein toe.
Net daar slaan haar kop vas – ’n man op Rebusfontein, is dit nou ’n goeie idee? Sy kyk terug oor die jare: daar was die langtafel met al die moleste, hoofsaaklik deur die manlike gaste veroorsaak. Lorenzo se verblyf het darem gelukkig geëindig, toe hy en Camilla verlief, verloof en vir Rebus verlore geraak het. Aan Silver en hulle katastrofiese uitval wil sy liewer nie dink nie – ai, as sy tangomusiek hoor, dan loop haar trane nog steeds… Wat op aarde het van Boetie geword? wonder sy. Dan is daar die reaksies van die Goue Vroue toe Jacques daardie gelade vraag vra: volstrekte weiering, onsekerheid, of bereidwilligheid om ’n kompromie te tref.
“Pssst!” – ’n donker silhoeët in die absurde wye rokke van die era kom nader, dis Kameel. “Kameel! Ek is so bly jy is hier, ek is moeg gedink, dis net vrae en g’n oplossings nie: Moet ons Jacques saamneem na Rebus toe? En hoe op aarde gaan ons by Rebus uitkom? Ons weet nou nog nie hoe ons hier in die Kaap beland het nie, newwermaaind hoe op aarde ons sal kan teruggaan na ons toevlug, ons rusplek, ons Rebus…” Frannie se stem knak, sy snik en snuif en snak, dis duidelik dat die arme vrou aan die einde van haar kragte gekom het. Sy laat rus haar kop teen Kameel se skouer en huil haar papsopnat; Kameel wens eintlik sy het nou een van daai nuttige bloomers gehad om al die snot en trane mee af te vee.
Sy vat Frannie se bo-arms vas en hou haar ’n entjie weg: “Frannie, luister nou mooi. Terwyl die romantiese girls onder ons rondom Jacques gekloek het, het die plannemakers eenkant beraadslaag. Ons het besluit Jacques moet maar vir eers saam met ons terug Rebus toe, ons kan later finaal oor hom besluit. Jy weet ek kan Renier Boom om my pinkie draai, nè?” Frannie knik instemmend. “More lei hy ’n ekspedisie na die binneland. Hulle opdrag is om die wêreld te verken, na minerale te soek en soveel vee as moontlik by die Khoi-Khoi te ruil. Ek het aan hom verduidelik dat ons net eenvoudig móét saamgaan, dat ons kragte getap is en dat dit ’n saak van lewe en dood is. As ons eers in die binneland is, weg uit die Kaap de Goede Hoop, sal ons maar verder moet planne maak om by Rebus uit te kom. Renier is juis op hierdie oomblik besig om ponies vir al die Goue Vroue in die hande te kry. Ons het Maria van Riebeeck van ons voorneme vertel en sy het die kombuis in rep en roer om vir ons genoeg proviand te kan saamstuur.”
Frannie draai verlig na die skansmuur en tuur oor die maanverligte strand en die see daar onder. “Dankietog, Kameel – dis so wonderlik dat ek nie alleen hoef te dink en planne te maak nie! Een vir almal en almal vir een!” Skielik kyk sy met meer aandag na die lang gestalte wat teen die skuimende golwe afgeteken staan: “Kyk, is dit Jacques wat daar staan?” Kameel lag saggies: “Ja, dis einste hy – het seker gevlug om bietjie rus en vrede te kry. Maar wag ’n bietjie – wat kom daar oor die water aan?”

Versteen staar die twee vroue na die vreemde verskynsel: ’n Hollandse fluijt, ’n driemaster met al die seile gespan, wat nie te diep in die water lê nie en in volle vaart al hoe nader aan die strand beweeg. Of nee, wag – die skip vaar glad nie op die water nie, dit sweef bo die golwe! Omhul deur ’n eienaardige, spookagtige rooi gloed kom dit al hoe nader. Dit is windstil, maar die seile staan bol. Hulle hoor die geflap van die seile, die gekraak en gekreun van die skeepsplanke, die geskaaf en geskuur van die toue. Op die dek met die stuurwiel vas in sy hande staan ’n gestalte met lang hare en jaspante wat wapper in die wind wat nie daar is nie. ’n Aaklige wanhoopskreet weerklink oor die water, gevolg deur die noodlottige woorde: “Ik zweer dat ik rond het vervloekte Kaappunt zal zeijlen, ook al duurt het tot de dagh des oordeels!”
Toortsie, Seegogga en Aalsie het ook intussen die skans betree. Hulle fluister opgewonde en dan roep Toortsie uit: “Dis Die Vlieënde Hollander! Dis die spookskip wat gedoem is om vir ewig te bly seil.” “Kyk daar!” skree Aalsie, “Jacques, Jacques, pasop!!” ’n Tou skiet blitssnel van die dek af, ruk Jacques van sy voete af en sleep hom deur die water na waar twee matrose wat aan ’n touleer teen die kant van die skip hang, hom beetgryp en na die dek laat ophys. Dan vervaag die rooi gloed, die klanke verstil en al wat oorbly, is die geruis van die golwe in die maanlig.
Seegogga hardloop teen die trap af: “Jacques, Jacques!” roep sy, totdat sy voor die verbaasde vroue in die eetkamer tot stilstand kom. “Waar is hy?” Seegogga se oë is wyd gerek. “Hy het ’n entjie langs die strand gaan stap,” antwoord Christa, “Hoekom vra jy, wat is fout?” want sy kan sien dat Seegogga en die ander vier wat nou agter haar staan, erg geskok lyk. Met horte en stote word die hele episode oorvertel. “Die Vlieënde Hollander! Is julle seker?” vra Appeltjie. “Dis die Bredasdorpse vroue wat die skip herken het – hulle ken skepe, die Skeepswrakmuseum is nie verniet op hulle dorp nie,” antwoord Una. Christa sit verslae, terwyl Lolla en EkMyselff haar probeer troos. VirgoC gaan maak melk warm in die kombuis en strooi skelmpies kruie daarin sodat die vroue vannag sal kan slaap. WoordNoot, Trommeltjie en Positief is daar besig om die padkos vir die volgende oggend se tog voor te berei, sodat dit in die saalsakke gepak kan word.
As almal se melkbekertjies leeg is, kyk Scrapy veelbetekenend vir Sonèll. Dis al laat en moreoggend met dagbreek vertrek die ekspedisie. Hulle help die een na die ander Goue Vrou om rustig te raak, gee ’n ekstra dekentjie vir ’n koulike aan, tik iemand wat bly rondrol gerusstellend op die skouer, totdat die slaapsaal stil word en hulle ook kan gaan inkruip.
Toe die rooidag breek, is die Goue Vroue gereed. Vaak-vaak groet hulle al die vriende wat hulle gemaak het en klim op hulle ponietjies. Party is skrikkerig, maar dit kan nie anders nie – perdry sal hulle nou maar moet perdry. Op die voorpunt van die kavalkade ry Kameel en Renier Boom, gevolg deur vier soldate. Dan kom die vroue in ’n bondel, gevolg deur nog vier soldate wat die agterhoede vorm. Toortsie jil vrolik: “Rebus, hier kom ons!” en onder ’n gelag vol bravade, met enkele snikke tussendeur, wuif almal vir die Kommandeur en sy vrou, wat hulle spesiaal kom afsien het.
’n Week later spoor die lyfseer spulletjie een vir een hulle ponies op ’n voetpaadjie tussen die verwonderlike rotsformasies van die Sederberg aan, om een vir een op ’n wonderbaarlike manier deur ’n towerportaal ingesluk te word. As Renier omkyk om iets vir Kameel te sê, sien hy net sy agt manskappe – die Goue Vroue is skoonveld.
Op die dorpsmeent op Rebusfontein wei daar 16 ponies en 16 Goue Vroue slaap rustig, elkeen in haar eie huisie.