Die Goue Vroue is ’n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Klik op die volgende skakel as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…
https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711
Net toe die groepie bedremmelde, seervoetgedansde Goue Vroue dog dis klaar met hulle, roep die dreigende soldate se bevelvoerder: “Nee, wag, manne! Ek ken daardie een vrou…” Hy kyk skerp na VirgoC en vra: “Jy is mos die nooi wat daar in die siekeboeg werk, nie waar nie? Ja – dis jy! Ek was op die boot wat skulpe van Robbeneiland af bring vir ons bouwerk, toe die swart Suidoostewind gewaai het. My been is vasgedruk tussen die kaai en die boot – onthou julle, manne? Gert en Jannes het my na die siekeboeg in ons fort gedra en daardie ou sleg chirurgyn het gesê hy kan niks vir my doen nie!” Hy stap na VirgoC toe en met ’n hoflike gebaar plaas die man sy hand op sy hart: “As dit nie vir jou was nie, juffrouw, het ek nie vandag hier gestaan nie. Jy het vir my aftreksels gemaak en my gedwing om dit te drink (hy ril effens toe hy aan daardie bitterwortelkonkoksies dink). Op die een of ander mirakuleuse manier het jy die sagste, spierwit lap in die hande gekry om die diep skrape en kneusings mee te verbind, nadat jy sulke groen pappe op die wonde gepak het. Jy het gemaak dat my been volkome genees het (hy buig diep) – ek het my lewe aan jou te danke!” Hy tree agteruit: “Dames, ’n rustige nag vir julle almal.”
“Aha,” dink Frannie so by haarselwers, “Dan is dit VirgoC wat my bloomer teen die vlagpaal opgehys het! Sy wou natuurlik steriele verbande hê, toe gaps sy my ekstra onderding, kook dit en hang dit op om vinnig droog te word. Daar was seker nie tyd om my daarvan te vertel nie, ek was ennieway te besig met roosterkoek bak – die arme mens werk haarself oor ’n mik daar in die siekeboeg. Bwahahaaa, wonder wat sou hierdie dapper soldaat van die herkoms van sy verbande dink, darem het sy die kantvalletjies afgeknip voor sy dit gebruik het!”
Frannie draai af op pad na die eetkamer waar die Goue Vroue slaap en kies koers na een van die vier punte van die fort wat Van Riebeeck met hout en potklei laat bou het. (Bouwerk aan die bekende “kasteel” met die vyfpunt-ontwerp sal eers in 1666 begin.) Sy groet die wag, een van die groep wat hulle so ampertjies gearresteer het, met ’n kopknik, en gaan staan teen die skans om oor die maanverligte landskap uit te kyk. Die onmiskenbare vorm van Tafelberg troon teen die helder hemel uit en sy sug van verligting omdat dit nie verlig is, soos in die twintigste eeu nie – daardie beligting was nog altyd vir haar soos ’n aantasting van die berg se waardigheid. Vlugtig wonder sy of dit nog steeds verlig word – wat nou van beurtkrag? Sy moet tog onthou om die Kapenaars daaroor te vra. Sy verstom haar aan die gedagte dat die see, wat nou tot amper teen die fort aanspoel, in die twintigste eeu drooggelê sal word sodat 65 hektaar by die middestad gevoeg word. Sy dink aan die luukse hotelle, winkels en restaurante van die Waterfront, die akwarium, die standbeelde van Jan en Maria van Riebeeck wat nog langs die Heerengracht gaan pryk, die wingerde wat geplant sal word, die Kaaps-Hollandse woonhuise, die bekoorlike huisies van die Bo-Kaap, Kirstenbosch se botaniese tuin, al die ontwikkeling wat sy bevoorreg was om te sien en te geniet. Die moederstad is nie haar woonplek nie, maar die tye wat sy daar kon deurbring, was wonderlik…
Skielik kreun die wag en gaan sit plat met sy rug teen die skans geleun. “Wat’s fout, mijnheer?” vra Frannie onthuts, dis mos nie hoe ’n wag hom moet gedra nie! Die man kreun: “Ag, tante, noem my sommer Hans. Ek is so vreeslik honger dat ek skoon swak voel. Vandat ek in die zielverkooper se kloue beland het, is ek heeltyd honger. Meel is skaars en daar is geen rys in ons rantsoene nie…vleis is ook skaars…” Frannie voel verskriklik skuldig dat sy so lekker geëet het op die troue vandag. Uit haar laphandsakkie pluk sy die laaste roosterkoek van haar mees onlangse baksel en gee dit vir die soldaat aan. “Min vleis, niks rys nie? Julle kan mos nie werk op leë mae nie?? Toemaar, ons klompie sal ’n plan maak – net more sal ek met my vriendinne praat, hulle is baie vindingryk!”
Die volgende oggend is daar ’n ernstige vergadering in die eet-/slaapkamer. Frannie verduidelik van die honger soldaat. “Ja!” stem Una saam, “Hierdie arme jongmanne is almal brandmaer, iets moet gedoen word!” “Gelukkig is daar geen tekort aan vars groente nie, ons Kompanjietuin floreer,” sê Aalsie. “Ek hoor die Kommandeur wil graag seekoeivleis hê, hy sê dis ‘een goede voetsel’ – hoe lyk dit met nog ’n jagtog, Toortsie?”
Toortsie se oë rek groot: “Ek is baie jammer vir die soldate, maar ’n seekoei is verskriklik gevaarlik. Dink julle nie ons moet liewers probeer skape ruil by die Namakwas nie?” “Ek het die amptenare hoor kla dat daardie skape te maer is, dalk moet ons liewer probeer om beeste in die hande te kry? Of wat van ons gaan vang vis?” vra Seegogga, “Ek kan baie lekker snoek vir die seuns braai!”
Trommeltjie se oë vonkel: “Wat ons ook al besluit, ek stel voor ons los vir Lolla, EkMyselff en Sonèll net hier in die fort, julle voete is nog te seer van gisteraand se lekker dansery.” Lolla giggel: “Neewat, ons is lankal weer reg vir allerhande avonture.” “Ja,” stem EkMyselff saam: “Ons gaan beslis nie agterbly nie – sê net waar ons kan help.” Sonèll sug: “Julle, ek mis my lipstiffie…” “Jaaa!” stem Kameel saam: “Mens flirt net nie so lekker as jy nie ’n rooi tuitmondjie kan maak nie.” “Sien,” sê Christa, “Dis hoekom ek julle so waardeer, ons verstaan mekaar se behoeftes en verlangens. Rooi lippies is deel van ons mondering!”
“Julle,” roep Positief die vergadering tot orde: “Ek stel voor ons stel drie doelwitte: vleis, vis en brood vir die soldate. Omdat ek, Toortsie, Scrapy en Appeltjie reeds op ons elandjagtog was, stel ek voor ons vier probeer weer vleis in die hande kry, op watter manier ook al. Appeltjie leopard crawl so goed, ek weet sommer sy gaan ’n aanwins wees in hierdie poging.”
Seegogga spring entoesiasties op: “Kom, julle – Sonèll, EkMyselff, Lolla en Kameel – lipstiffie oftenot, julle moet nou daar onder by die hawe die bemanning van ’n vissersboot gaan oorreed om vir ons hulle skuit te leen. Kyk, dis ’n lieflike dag met ’n sagte suidoostewindjie, vandag vang ons snoek vir Afrika!”
Frannie sug swaar – sy’s alweer met broodjies opgesaal! “Okay, ek sal in die kombuis meel vir roosterkoeke gaan bedel en bak dat ek blou word…”
Woordnoot kommandeer die res van die Goue Vroue op: “Christa, Aalsie, Una en Trommeltjie, vandag gaan ons ernstig met die Kommandeur se vrou praat. Sy het die oor van die grootbaas van die verversingstasie en ons weet almal dat mens berge kan versit as jy die manne laat dink iets is hulle idee! Sy moet hom oorreed om meer groente vir die soldate beskikbaar te maak – Aalsie, omdat jy en Una so hard in die groentetuin werk, is julle die ideale keuse om haar te oorreed om van julle oes aan die jongmanne af te staan. Trommeltjie, jy en Christa weet mos hoe om mense te benader, vandag het ons julle takt en oorredingsvermoë baie nodig.” Woordnoot draai na VirgoC toe en vat altwee haar hande vas: “Jy het gekeer dat ons almal gisteraand gearresteer word, omdat jy so onbaatsugtig en passievol in die siekeboeg werk. Sal jy asseblief daarmee voortgaan?” VirgoC bloos en knik skaamweg.
Almal slaan hulle aangewese koerse in – pasop, Kaap de Goede Hoop, hier kom ons alweer!
Woordnoot – nou is dit jou beurt.
Epiloog
Het julle geweet dat Jan van Riebeeck ook ’n gelofte afgelê het? Dit lees só:
“Waar dit vandag die tweede verjaardag is van die dag waarop ons deur die Here gelei, met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters Here XVII – die Direkteure van die VOC te bou en te bestendig, en opgelet dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ’n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”
Nou eers verstaan ek waarom my kosbare vriendin Helena elke jaar op 6 April ’n facebook-inskrywing maak om ons aan Jan van Riebeeck te herinner. Ek plaas graag met haar toestemming een van haar gedigte.
lemoenroos
lig anker by die hawe van die teks
woestyntog, voëlvlug en goeie hoop
op gekarteerde onverkende wel en seë
van storms, windstiltes en trae tydsverloop
die langtafel met spierwit kleed gedek
kunstig langs blom- en blaarmotief gesoom
berge van wind en leeu op oervaste plek
die suiderkruis se koers ’n sterredroom
tuinier in opdrag uit vrye keuse
berei die boord en bewerk die grond
somer, seën en druppels sagte reën
voltooide arbeid ryp en afgerond
hiermee die eerste roos, my lief
en hiermee die eerste lemoen
uit Provence die broospienk honderdblaar
uit Orange die sonvrug vir ’n duisend jaar
Helena Liebenberg
(Uit: Rooswater – Bloemlesing, 2012)