Saterdagoggend.
Daar buite op die erf blaf die Great Dane, by name Great Dave.
Joshua (5 jaar oud): “Jissie daai hond is stout. Ons noem hom stupid.”
Foto deur Joshua geneem.
28 Saterdag Aug 2021
Posted Uncategorized
inSaterdagoggend.
Daar buite op die erf blaf die Great Dane, by name Great Dave.
Joshua (5 jaar oud): “Jissie daai hond is stout. Ons noem hom stupid.”
Foto deur Joshua geneem.
24 Dinsdag Aug 2021
Posted Uncategorized
inToe sy oom-hulle terug is Ierland toe, het hulle ‘n stewige batterylamp kom aflaai wat vir Joshua ‘n voorwerp van verwondering en verkneukeling is. Vanoggend wil hy dit vir sy ouma wys. Baie opgewonde, terwyl hy na die kas toe stap waar dit tereggekom het:
“Ek sal hom net gou uit-bêre en dan weer in-bêre.”
22 Sondag Aug 2021
Posted Uncategorized
in…het ek begin blog.
Op die een of ander manier het ek op LitNet se adreslys beland en begin toe eers aan die blogs daar lees en later self deelneem. Daar was interessante bloggers, maar ook kwaaies wat ek maar geïgnoreer het. Die tegniese ondersteuning was nie na wense nie en in Mei 2014 spring ‘n klomp van ons onder leiding van Zeppie uit LitNet se visdam in die oseaan van WordPress in. In die proses verloor ek ‘n klomp blogmaats, na wie ek tot vandag toe nog verlang en oor wie ek wonder. Daar is ‘n groep “ou Litte” op Facebook, met die spitsvondige leuse: “Net uit Lit uit, nie uit lit uit nie”. Maar omdat die lede nou nie meer hulle blogname gebruik nie, weet ek met enkele uitsonderings nie wie is wie nie. Op WordPress huppel ek egter gelukkig rond saam met die enkele LitNetters wat ook hier is en al die nuwe maats wat ek kon maak.
Vandag sê ek dankie aan almal wat hier kom lees en kommentaar lewer, julle is die kruie en speserye wat my blogdisse geur. Dankie vir julle empatie, bemoediging en toejuiging. Julle virtuele vriendskap is vir my kosbaar.
19 Donderdag Aug 2021
Posted Uncategorized
inJoshua (vyf jaartjies oud) is in die wolke: hy speel vandag met ‘n ou stofsuier wat nog loop, maar glad nie meer kan stof optel nie. Ouma vermoed dat die ding teen more ook nie meer sal kan loop nie en op dag drie gaan sy skroewe orals rondlê.
Joshua: Ek gaan hom nou aansit.
Ouma, wat sit en werk: Oe, ek gaan skrik!
Joshua: Jy kan net jou ore toedruk.
Ouma: Maar ek luister musiek, ek kan nie my ore toedruk nie.
Joshua, terwyl hy demonstreer: Jy kan jou neusie toedruk…
14 Saterdag Aug 2021
Posted Uncategorized
inVandag kon ek weer by my kosbare “katvriendin” kuier. Toe Lelik, my wilde wit kat, jare gelede reddeloos in die meenthuiskompleks rondgeswerf het nadat dié se vorige baas weggetrek het, het ek M ontmoet: die skraal vroutjie met die vanghok, die lepel en die blikkie vis waarmee sy al honderde – dalk selfs duisende − katte uit ellende gered het.
Met haar bruin krulhare en blou oë is M ‘n sagte, deernisvolle mens, maar absoluut gedrewe wanneer dit op “haar” katte aankom. Volgens haar predikant het sy ‘n bediening onder die straatkatte van Pretoria en ek beaam dit heelhartig, want hierdie bediening voldoen aan al die kenmerke: dit is ‘n heilige opdrag; dit verg toewyding, moeite en inspanning; en dis allesbehalwe maklik. Daarby is dit ook nog ‘n ondankbare taak, want katte ontlok mos maar altyd hewige gevoelens, hetsy dit liefde of haat is. En kathaters verstaan glad nie M se besorgdheid oor die haweloses nie.
Die reglement is eenvoudig: vang, steriliseer, plaas terug in die bekende omgewing en gaan voer dan tweekeer per week. Hierdie voerdery is egter die vangplek, want dit is ‘n onlosmaaklike verbintenis met die katte en moet week na week, jaar na jaar, volgehou word. Vandag het ek saam met haar gery: Sunnyside toe om katkos by iemand af te lewer; na die middestad om een enkele oorblywende kat te voer; terug Sunnyside toe om op twee plekke kattekolonies te gaan voer. Dit was net ‘n paar take, want M het reeds gister die meeste van die plekke besoek waar sy vandag sou gevoer het, om tyd in te ruim vir ‘n middagete saam met my. Haar tyd is skaars en kosbaar en ek voel geëerd dat sy vandag daarvan aan my afstaan, want ek is lief vir haar. Eintlik voer sy my ook, nes die katte: geskenksakkies met neutemengsels, marmelade, sjokolade en die lekkerste beskuit. Soos die katte, kry ek ook onverdeelde aandag en omgee.
Dis koud, bewolk en winderig. Die wêreld is vaal en stowwerig, die ou jakarandas geel en verflenterd. Die middestedelike kat se voerplek is in die agterplaas van ‘n woonstelblok, in ‘n stoorkamer waarvoor M ‘n sleutel het – die kat gaan in en uit deur die traliehek. Buite teen die baksteenmuur is daar roetkolle waar die woonstelbewoners soms vuurmaak, dit lyk na braaiplekke. ‘n Groepie verveelde kinders staan en klets op die kaal grond teen die agtergrond van verflenterde gordyne in die woonstelblok langsaan se vensters. Ek bewonder M se ordelike kattebak (“kattebak”! 😄): ‘n houer met skoonmaakmiddels (hierdie katte se voerbakke is skoner as Lelik s’n!); die waterbottel, want daar is nie krane nie, sy moet die water ook saamry; plastiekbakke met droë katkos, dan word skeppe reeds oopgemaakte blikkieskos uit ‘n ander bak bo-oor geskep en as afronding, word een van daardie klein sakkies met nat kos vir die lekkerbekkiges uitgegiet (hierdie katte kry lekkerder kos as Lelik!).
In Sunnyside loop mense heen en weer, elkeen op sy eie missie. Drie jong mans met bont broeke en helderkleurige gestoffeerde jasse slenter straat-af, dan weer straat-op. Ek is onder streng orders om nie saam met M te stap nie, net in die lekker warm kar te bly sit, terwyl M by ‘n spazawinkel ‘n sleutel gaan haal om ‘n kettingslot mee oop te sluit, dan by die agterplasie inglip en gaan katte voer. Ons ry verby die straatjie waar ek in my jeug gebly het en so in die ry sien ek daardie ou enkelverdiepingwoonstelgeboutjie staan nog steeds – die balkonstoepies nou toegebou en die hele ding giftig groen geverf.
Nou gaan ons restaurant toe. M: “Hoe lyk ek? Kan ek maar so gaan eet, is ek nie te stowwerig nie?” Sy grawe in haar handsak: “Ek het darem my pêrels gebring…”
06 Vrydag Aug 2021
Posted Uncategorized
inDie Goue Vroue is op ‘n avontuur in Afrika. Elkeen is die outeur van haar eie storie. Maar die Jumanjibord gooi ons rond. Lees al die avonture hier: https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea
Elkeen kry haar beurt om die dobbelsteen te gooi wat hulle in ‘n nuwe ondervinding bring. Voor almal nie die dobbelsteen gegooi het en hulle die eindpunt bereik en JUMANJI! skree nie, kan hulle nie teruggaan Rebusfontein toe nie. Intussen storm elkeen van die diere waarmee hulle te doen kry, met ‘n verwoestende spoed Rebusfontein toe en skep daar chaos.
Jumanji, ‘n spel vir die wat soek om te vind, ‘n manier om hulle wêreld te verlaat. Jy rol die steen om jou teken te skuif. Dubbels kry nog ‘n beurt. Die eerste speler om die einde te bereik wen. Aan die ander kant: Avontuurlustiges, pasop. Moenie begin tensy jy beplan om klaar te maak nie. Die opwindende gevolge van die speletjie sal eers verdwyn wanneer ‘n speler Jumanji bereik en die naam uitroep.
Nadat Woordnoot se hiënas en Volstroois met al sy volstruise na Rebusfontein weggevoer is:
Dis skemertyd in die Afrikabos. Die moeë Goue Vroue sit in ‘n kringetjie om die kampvuur wat Positief en VirgoC uit grassies, stokkies, droë houtjies en ‘n paar stompies aan die gang gekry het. Teen die aandgloor toring ‘n hoë krans, terwyl ‘n ronde goue maan in die ooste opkom.
Heelbo op die krans, afgeteken teen die rooskleurige aandlug, is ‘n bobbejaansilhoeët sigbaar. Die trop is besig om op die rotslyste reg te skik vir die gevaarlike nagure. Daar’s ‘n verskrikte getjank as ‘n klomp kleintjies getugtig word omdat hulle nie wil rustig raak nie. Die leier bôgom ‘n paar keer kwaai en die geraas bedaar. Iewers in die bos snou ‘n luiperd…
“Julle,” sê Toortsie, “ons sal hierdie vuur vannag aan die gang moet hou, anders word ons luiperdkos.” Aalsie werk ‘n wagrooster uit en een na die ander raak die uitgeputte vroue aan die slaap. San neem die eerste wagbeurt waar – sy tuur diep in die vlamme in. Positief neem by haar oor en skud later vir Toortsie wakker. So sleep die donker ure verby…
Vroegoggend gooi Una die laaste stompies op die vuur. Die vlamme verbleek in die oggendlig. Una skrik haar besimpeld toe ‘n yslike bobbejaanmannetjie skielik die wit buffiesakkie met die laaste kosbare broodjies onder Frannie se kop uitruk. Gelukkig gryp hy dit aan die knoop aan die onderkant, met die gevolg dat die broodjies en die los diamante in die stof uitrol. Nou het bobbejaan se kind ‘n probleem! Hy gryp ‘n broodjie en knyp dit onder sy arm vas. Soos wat hy ‘n tweede broodjie gryp, lig hy sy arm om die broodjie te bêre en die eerste broodjie val op die grond. Bôjaan probeer ‘n derde keer, wat veroorsaak dat die tweede broodjie in die stof val. Una giggel, half histeries van skok. “Jou bobbejaan!” skree sy.
Skielik gryp die bobbejaan Una aan die hare en hardloop rats teen die krans op, langs lysies wat net hy ken. Una kan nie anders nie – sy moet saam hardloop, anders trek die ondier haar hare te seer! Haar bloedstollende gille maak almal wakker. Die twee figure verdwyn oor die lip van die krans. Daar is ‘n kommosie onder die bobbejaantrop en die vroue hoor hoe die geraas al hoe dowwer raak, hoe verder die trop weg beweeg.
In die yslike wildevy daar eenkant grom-hoes die luiperd wat hom in die nanag daar tuisgemaak het, dit klink amper asof hy oor die petalje daar onder op die grond sit en lag. Die geluid kry die verslae vroue aan die gang. Woordnoot gryp Aalsie aan die arm: “Vandag moet jy al jou tolktalent inspan, ons sal die luiperd om hulp moet vra om Una op te spoor!” “Kom!” sê VirgoC, “ek gaan saam met jou!” Katvoet stap die twee tot by die boom. Dis te ver vir die ander om te hoor wat daar gesê word, maar aan hulle maats se liggaamstaal kan hulle sien dat die onderhandeling suksesvol was. (Hulle het later gehoor dat die luiperd jonk en onnutsig is en dat hy sommer gou ingewillig het om te help om Una terug te kry, aangesien die bobbejaantrop hom erg irriteer.)
Lui-lui spring die luiperd van die een tak na die ander, totdat die vroue hom in sy volle glorie onder die boom sien staan: lang, swiepende stert, geelbruin pels met die sierlike rosette, donker kolle onder sy ken wat soos ‘n kraag lyk, glansende groen oë en ronde ore. Hy kies koers met ‘n ompad sodat hulle nie teen die krans hoef uit te klim nie. “Oe,” sê Christa, “kyk, soos wat hy so vooruit loop, die ligte halfsirkels aan die bopunte van sy donker ore,” en sy pluk haar kamera uit. Appeltjie is ook besig om lustig foto’s te neem.
Sonell waarsku: “Trommeltjie! Jy sal jou blouwildebeeskalfie baie goed moet wegsteek vandag, anders eis hierdie luiperd hom dalk as vergoeding vir sy hulp!” “Nee!” Trommeltjie kyk wild rond. “Toemaar,” troos Seegogga, “Hierdie buffie van Frannie rek lekker – ons kan die kalfie daarin sit, dan dra jy hom so onder jou arm soos wat sy die broodjies gedra het. Nou moet jy net ver weg van die luiperd af bly, dan sal alles oukei wees.”
‘n Rukkie later kom die eienaardige optog in ‘n groen vallei op die bobbejaantrop af. Una sit heerlik met die klein bobbejaantjies en speel, maar sy lyk darem bly om die Goue Vroue te sien. Die luiperd grom bloeddorstig en al wat ‘n bobbejaan is, laat spaander – reguit Rebusfontein toe, met die groot kat agterna. Frannie gryp die dobbelstene en druk dit in Seegogga se hande: “Gooi, Seegogga, gooi!” skree sy.
stitchings and musings on the art of quilt making by Mariss Stevens
Travel inspiration, tips and tricks when in South Africa
Lees saam...
The blogging challenge keep you motivated and start the new year on the "write" track!
In die hoenderhok, kekkel ons lustig voort met woorde van elke soort
Ysbere kan dalk smelt of gekielie word!
Finding my feet on the journey as a creative
my adventures in learning Dutch
Kleurvolle Platteland Stories
Alles wat mooi is
Disappearing into South Africa's wild places... Again!
Docendo discimus
Sonder 'n masker
Journey to the wild
Exploring Our Connection to People and Place
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Leer, Speel, Skep
want die maan is van kaas gemaak
Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer
Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies
Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas
A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough
Every journey begins with the first step
Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten
Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir
Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer
Resilient Minds, Thriving Lives: Unveiling the Art of Purposeful Living
Afrikaanse kortverhale
Missives from far and near
Skrywer
Camino Stories & Other Journeys
Saam kan ons ‘n verskil maak
Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend
Idees, raad en pret !
Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!
Home
My journey, my lewe in Skotland
Reisjoernaal oor Hier, asook Daar
Musings about my travels...
'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.