Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-03, dailyprompt, dailyprompt-1806
Die Universiteit van Pretoria (Tukkies) is my alma mater – ek kyk ‘n leeftyd later terug op verheerlikte herinneringe:
In die Ou Lettere-gebou (nou ‘n museum!) het my voetstappe gehelp om die trappe holrug te slyt. Op die boonste verdieping het die siniese Kunsgeskiedenisprof die krytstof aan sy hande teen die blou fluweelgordyne afgevee; in die klein kamertjie onder die trap het ons sjarmante dosente tevergeefs probeer om ons Afrikaanse tonge die Franse klanke te laat vorm. Onder regs was die saal waar die eksentrieke dosente Engelse letterkunde aan ons bekend gestel het; bo regs het die Duitse proffie se twee worshonde, met naels wat so klik-klik op die houtvoer, tydens lesings rondgedwaal; agter die Ou Lettere het die Afrikaansdosente hulle bes gedoen om ‘n klas van 600 barbare onder bedwang en geïnteresseerd te hou. Die Merensky-biblioteek was ‘n wondergrot met ‘n skat van rakke der rakke boeke omgewe deur die geur van ou papier, waar kwaai biblioteekpersoneel hulle skatte soos drake bewaak het. Eksamentyd was nagmerrietyd; al wat mens daardeur gehelp het, was die hoop dat een van die jakarandabloeisels op jou kop sou val, as vaste belofte dat jy sou slaag.
Dit was in die tyd voor televisie, ook voor die instelling van die dramadepartement, en Tuks se skakelafdeling het jaarliks puik regisseurs gekry om toneelopvoerings op die planke te bring: meestal in die Musaion, maar ook eenkeer ‘n heuglike Shakespeare-opvoering in die Amfiteater; in my eerste jaar ‘n stuk met ‘n groot rolverdeling in die Aula. Destyds was dit dié teater in Pretoria, waar ons ook kon gaan plek aanwys en tee skink om gratis die opvoerings te sien. Ek was so bevoorreg om onder andere Cobus Rossouw en Mario Schiess as regisseurs te hê.
O, die windstil skemeraande, wanneer mens lang ente kon gaan stap saam met die maat wat vir jou kom “voordeur” het! Saterdae was mooimaaktyd: elaborate toringkrulle (nou skud ek my kop in verbasing dat ons ooit kon dink dit was mooi!) en naelsverf. Daar was huisdanse, formele dinees en bokjolle; daar was konserttoere, jooloptogte en Lentedae. As dit die jeug se plig is om die lewe te geniet, het ek my behoorlik van my taak gekwyt.
‘n Ruk later, toe die werklikheid van elke dag gaan werk en vir jouself sorg reeds toegeslaan het, het ek ook aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer. Dit was ‘n worstelstryd – alle eer aan my mentor en studieleier, sonder wie ek dit nooit sou gemaak het nie.