Sleutelwoorde
‘n Kollega het my dit begin noem: ‘Tannie Frannie’ (‘Frannie’ rym met ‘Tannie’). Ek het besef dis uit toegeneentheid – maar dit het my ‘n rukkie geneem om vrede daarmee te maak. Toe ek in 2011 op Litnet begin blog, het ek doelbewus hierdie skuilnaam gekies om myself van my weerstand teen ‘Tannie’ te bevry.
Daar op die Litnet-blogs het ek heerlik geskryf en gekuier, sielsgenote ontdek en ook bloggers wat heel anders as ek dink en my verwysingsraamwerk verbreed het. In 2014 het ek saam met baie ander bloggers uit die visdam van Litnet in die wye oseaan van WordPress ingespring, toe die frustrasie met die gebrek aan tegniese ondersteuning net te groot geword het. Ek’s bly ek het saam getrek – kyk nou net: ‘n kursus oor blog! Vir ‘n BBT (‘born before technology’) soos die uwe, is dit nou regtig welkom.
Dis my plekkie hierdie en daarom skryf ek in my moedertaal: Afrikaans. Engels maak vir mens deure oop – soos nou weer met WordPress se kursus, maar hier skryf en kuier ek in my hartstaal. Ek kon baie Litnetters nie weer gevolg kry nie en ek mis hulle – dalk help hierdie inskrywing?
Die Afrikaans wat ek gebruik, word deesdae op Facebook as ‘argaïes’ bestempel. Dit hinder my egter nie – want ek hanteer oudword deur volslae ontkenning 😀
In 2014 het ek oor ouma-wees gemymer. Deesdae hardloop ek agter ‘n peuter aan en blogtyd is maar skraps. Tog bly dit ‘n heerlike, verslawende bedrywigheid.