As mens buite op die stoep sit, hoor jy hulle – die mooiste volgehoue klank. Hulle klink anders as die sonbesies van Afrika – wat Google noem “the shrill thorntree cicada found in Africa”. By Stormsriviermond in die Tsitsikamma is daar ‘n klein strandjie wat net uit spoelklippers bestaan – as die branding die klippers rondrol, klink dit nogal soos hierdie cicadas in die suide van die VSA, maar op ‘n laer noot as wat die goggas hierso sing. Eintlik maak hulle ‘n klikgeluid, maar teen so ‘n vinnige tempo dat dit aaneenlopend klink, met ‘n effense tekstuur. Wanneer die son agter die wolke verdwyn, raak hulle liedjie weg, net om weer toe te  neem as die son helderder skyn – g’n wonder die Afrikaanse naam is “sonbesies” nie.

Vanjaar is daar ekstra baie cicadas – hulle is die hele wêreld vol en ek is dankbaar dat ek nie vir hulle gril nie, want dit sou my lewe gedurende die vier tot ses weke wat hulle bogronds leef erg versuur het. Die rede vir vanjaar se oorvloed is omdat twee groepe van die insekte se siklusse vanjaar oorvleuel, sodat daar ‘n dubbele hoeveelheid goggas verskyn, iets wat laas in 1803 gebeur het en eers weer oor 221 jaar gaan plaasvind. Die een groep se ondergrondse leeftyd is 13 jaar en die ander groep bring 17 jaar ondergronds deur. Onder die grond leef hulle van die wortelsap van die hoë bome van Noord-Amerika, bv. eikebome en esdorings. Benewens hierdie periodieke groepe, is daar ook tweejaarlikses wat sorg dat daar steeds cicadas verskyn, maar nie naastenby so volop soos vanjaar nie. Hoe weet hulle dat die 13 of 17 of twee jaar verby is? Die entomoloë meen dat die verskillende fases van die bome deur die seisoene hulle help om rekord te hou omdat die wortelsappe na gelang van die seisoen verander. Wanneer die jaar van hulle verskyning aanbreek, wag hulle totdat die grondtemperatuur 18 grade Celsius bereik het, wanneer hulle boontoe begin grawe.

Hier in die tuin het elke plant sy kwota bruin nimfe en teen die huismuur klou hulle in hordes vas. Plek-plek is die uiteindelike weergawe van die insek besig om los te kom van die lelike bruin dop oftewel eksoskelet – ek het aanvanklik gedink dis twee verskillende soort insekte, totdat ek gaan googleloer het. Hulle het nou begin vlieg, want hulle moet die hoë bome in, waar hulle hul eiers gaan lê. Die eiers broei na ses tot tien weke uit en lewer die eerste vorm van die nimf, wat soos ‘n wit, amper deurskynende sespotige miertjie lyk. Die nimf kou aan die boomtakke; val op die grond; en begin grawe, tot op ‘n diepte van 2,4 meter. Daar vervel dit vier keer om uiteindelik weer die bruin nimf te word wat uit die grond gaan kruip en sulke ronde tonneltjies agterlaat. Hierdie nimf lyk soos ‘n monster uit Star Wars, maar nadat dit nog een keer vervel het, is dit ‘n pragtige insek: twee tot vyf sentimeter lank; met ‘n blouswart lyf; rooi voorpote; twee helderrooi oë, elk met ‘n swart kolletjie in die middel (en nog drie oë tussenin gerangskik); en pragtige deurskynende vlerke met patroonlyne wat goudbrons glinster in die son.

Photo by Ashlee Marie on Pexels.com

Hulle vreet nie die tuinplante nie – die bome is hulle voedselbron – en eintlik doen hulle net goed: Hulle “snoei” die bome wanneer die wyfies vore in die takke knaag om eiers in te lê; deur hulle ondergrondse gegrawe gee hulle die grond lug; hulle is kos vir diere wat ongewerweldes eet; en hulle oorblyfsels voed die grond sodat die bome kan floreer.

Les bes, is hulle ‘n nimmereindigende bron van vermaak vir Batman, ons swart kat, wat letterlik nie weet waar om te vat en waar om te los nie …