• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Oktober 2018

Hoe ek en H mekaar ontmoet het

28 Sondag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 13 Kommentaar

Gisteraand kon ons weer oor die foon gesels, dit was so lekker om H se mooi stem te hoor en die innige geneentheid tussen ons te beleef. Vanoggend dink ek aan Toortsie se uitnodiging om te kom vertel hoe ons van ons vriendinne ontmoet het:

Net so aan die buitewyke van die middelste middestad staan Unisa se blou gebou. Hierheen ry ek elke dag bus van Arcadia af om my brood in die Afrikaanse Departement te kom verdien. Dis die laat sestigerjare van die vorige eeu; Afrikaanse skrywers vertel van Parys, taalkundiges delf diep in die struktuur van hierdie jong taal, filosowe bepeins die verskynsel van volk en vaderland.

Self is ek te besig met my ligsinnige jonkwees om enigsins ‘n bydrae te lewer, maar ek bring darem my kant met die elkedagse werk. In die teekamer, waar daar elke oggend amptelik tee gedrink word, hoor ek van die belowende jong student wat sulke puik werkstukke lewer.

Eendag stap ‘n jongmeisie saam met my in die hyser in en druk die knoppie vir die verdieping waarheen ek op pad is. Haar lang hare is sag en sorgvuldig om haar kop gevou, sy glimlag skaamweg vir my. Ek sit twee en twee bymekaar en met my gewone voortvarendheid vra ek of sy dalk mej. HB is. “Ja!” antwoord sy verras. Net daar terwyl ons boontoe ry, vertel ek haar van haar goeie naam in die departement en hoe beïndruk haar dosente met haar is. Ons stap by die hyser uit sonder dat ons besef dat dit die begin van ‘n lewenslange vriendskap is.

Daar is soveel kiekies van haar in my hart: Saterdagoggend se kuier in Sunnyside; Sondagmiddag aan haar mammie se etenstafel; elke oggend se koffiesessie in die kafeteria; ‘n volmaanaand op die dak van Fort Namutoni met ons spoorwegbustoer in Suidwes-Afrika; aan’t studeer by die tafel in haar mammie se kombuis; op haar troudag; sy en haar twee seuntjies in die voordeur van hulle huis, al drie vol waterpokkieletseltjies (hoe vinnig het ek daardie dag spore gemaak!)…

Laterjare is sy en haar gesin Kaap toe, maar steeds het ons moeiteloos die drade opgetel wanneer ons by mekaar kon uitkom en kon ons ure lank in ‘n winkelsentrumkafeetjie sit en gesels terwyl die wêreld verbydruis. Nou-die-dag stuur sy vir my ‘n WhatsApp-prentjie van ‘n verjaarsdagkaartjie van my af wat sy langer as 40 jaar tussen haar dokumente bewaar het. Self het ek ook iewers ‘n lêer met memento’s.

Wanneer H verjaar, blom Facebook van die gelukwensinge. Sy het ‘n besonderse belangstelling in en aanvoeling vir mense en die vermoë om bande te skep en in stand te hou.

Deur al die jare het sy steeds met kenmerkende deeglikheid haar vak beoefen en hierdie liefde vir Afrikaans het haar op interessante en indrukwekkende paadjies gelei. Tog bly sy een van die mees beskeie mense wat ek ken.

Hoe bevoorreg is ek, om haar my vriendin te kan noem.

Kuier-safari: Sirkels in Pretoria

17 Woensdag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 80 Kommentaar

SafaribusHierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ‘n virtuele toer deur Suid-Afrika onderneem. Die gasblogger van die week moet op ‘n Donderdag, op die datum wat toegewys is, ‘n blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ‘n fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel Lys van Deelnemers om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ‘n blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ‘n eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas foto’s wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, klik op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Kaart

Opmerking: Om die een of ander rede was Hester van Dis Ekke besonder stil op hierdie skof van ons reis, seker maar omdat sy so besig was om die orde te (probeer) handhaaf. Haar blog is uitgesproke gekant teen toekennings, dus kry sy nie ‘n sertifikaat of medalje nie, maar as meesterbrein van die hele Lê-Jou-Eier-inisiatief, skuld ons haar ten minste ‘n grasieuse kniebuiging… Dankie ook aan Una van Bali Drome, wie se breinkind hierdie landstoer is.

Toerprogram

Saterdag 9:00 – 10:00 Arriveer ter verfrissing en kennismaking by Laatlam se huis in Garsfontein.

10:30 – 13:00 Sjampanjepiekniek in Springbokpark, Hatfield. Hierdie sjarmante parkie met sy inheemse plantegroei is reeds in 1905 opsygesit, sedert 1930 ontwikkel en is nog steeds ‘n gunsteling onder die Tukkies. Dit is dag en nag oop, sodat ernstige studente bedags daar oor hulle boeke kan sit en sweet en die ligsinniges saans daar kan gaan kafoefel, of wat hulle dit ook al deesdae noem.

Springbokpark

13:30 Boek in by die Premier Boetiekhotel in Kerkstraat (ag askies, ek bedoel Stanza Bopapestraat), Arcadia. Elkeen kry haar eie knusse, luukse suitetjie met ‘n koningingrootte bed, baie spieëls en ‘n asemrowende uitsig oor die Uniegebou.

15:00 Kooruitvoering in die Z K Matthews-saal by UNISA. Die uwe is ‘n groupie van Gerben Grooten, die dirigent van die Bachkoor en die Pretoriase Simfonie-orkes. ‘n Hele paar jaar gelede het ek ‘n uitvoering van Dvorak se Nuwe Wêreld-simfonie in die Brooklynteater bygewoon en vir die eerste keer hierdie lang, maer Hollander in aksie gesien en gehoor. Vooraf het hy die gehoor in twee verdeel en ons in kompetisie met mekaar aan die sing gekry! Ons moes die geestelike lied “Going Home” sing, wat ‘n tema in die simfonie is – nostalgies en so eg “Deep South”… Ek sien altyd vreeslik uit na sy praatjies voor ‘n uitvoering: hy het geweldige kennis en ‘n vonkel in die oog, ‘n onweerstaanbare kombinasie. Hierdie foto is gegaps van die PSO se fb-blad.

PSO

18:00 Terug hotel toe vir ‘n behoorlike mooimaaksessie. Die son sak en kleur die Uniegebou pienk. In die ooste hang die volmaan soos ‘n koperskinkbord laag bo die horison. Oor die stadstrate sweef die subtiele heuninggeur van bloupers jakarandablommetjies. Ruk uit daai stiletto’s, meisies, vanaand gaan ons Brooklyn op horings neem!

19:30 Betrek die private eetkamer in Kream om ons te vergryp aan hulle fantastiese disse. Mmm – skaapboud en crème brulée vir my, asseblief!

Sondag 8:00 – 11:00 Luilekker ontbyt, óf in die hotel se mooi restaurant, óf in jou eie kamer, nes jy verkies.

11:00 Ontruim julle kamers en pak die Broodbus vir ons volgende skof.

12:00 Arriveer by Lynnwoodbrug en kyk rond. Die atmosfeer van hierdie sentrum is elektries: om die een donkiestandbeeld speel kleuters jillend in die spuitfonteintjies; op die ander donkiebeeld klim die waaghalsigstes om voor en agter die ruiter te gaan sit.

13:00 Koffie en broodjies (sonder diamante) by Tribeca. Dis ‘n besige plek net langs die donkiestandbeelde, met ‘n bruisende atmosfeer en parmantige kelners.

14:00 – 15:30 Karoo-suite deur Coenie de Villiers en Deon Meyer in die Atterburyteater. Hierdie pragtige, intieme teater is waarlik ‘n aanwins vir Pretoria!

Karoo-suite, ’n musieksuite vir woord en lied, is struktureel geskoei op Vivaldi se Vier seisoene. Maar dis nie seisoene wat Deon Meyer in sy wonderskone teks belig nie: dis die mense, die stories en die persoonlikheid van die Karoo. Meyer is ook die verteller op die verhoog. De Villiers het die musiek gekomponeer en die internasionaal bekende skrywer stel sy talent ten toon buite die spanningsgenre. Die bykomende lekkerte is Meyer se asemrowende fotografie en projeksies wat ’n agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering van woord, beeld en musiek skep. Meyer is een van die suksesvolste skrywers in sy genre ter wêreld, maar ook ’n fotograaf van internasionale gehalte.

(Met erkenning aan die kopieskrywers van die KKNK 2016 en Google)

Die uwe is ‘n groupie van Deon Meyer, het hom lank gelede by ‘n skrywersgeleentheid aangebied deur UNISA beleef. Die nederigste mens, met daardie kenmerkende attribuut van ‘n naasteliefhebber, naamlik dat hy steeds van homself af wegkyk en op sy medemens fokus. Coenie de Villiers se liedjies maak my al baie jare gelukkig, veral Karoonag wat ek en my kinders altyd saam gesing het.

16:00 Klim in die giggelgroen bus vir die volgende skof van ons reis…

Wat toe gebeur het

Soos julle uit die toerprogram kan sien, wou ek graag die safarigangers op ‘n rustige, nostalgiese sirkelgang deur die stadskern van Pretoria neem. Dis net die regte tyd van die jaar om die jakarandas in volle blom te geniet. Dis vroegsomer, warm en windstil, lieflik.

jakarandas
jakarandas 3
jakarandas 2
jakaranda-op-motor-300x225

Maar nouja – hierdie toerprogram is deur die grille en streke van die safari-susters (en hulle agtervolgers – kamtig “beskermhere”, ha!) toetentaal omvergegooi!

Ek moes geweet het hier kom moeilikheid, toe die bus van Laatlam se huis af moet vertrek en twee van die reisgenote is soek. ‘n Frenetiese soektog spoor vir Trommeltjies op, saam met Gabby (amper vyf) heelbo op die klimraam se platformpie, besig om modderkoekies te geniet. Aan die ander kant van die huis het Una van Bali Drome saam met Joshi (twee en ‘n driekwart) in ‘n boom geklim, waar hulle oor en weer vir mekaar blaartjies en takkies present gee. Die uwe het haar stem so dik gemaak dat sy sommer vir haarself geskrik het. (Lorenzo is ook glad nie so aantreklik wanneer hy vies is dat ons sy skedule vertraag het nie. Hester moes mooipraat voor hy die bus se wiele weer laat rol het.)

Ewentwel, toe stap ons deur Springbokpark se hekkie… Watter voorreg, dat Perdebytjie vir ons elke voëlgeluidjie kon identifiseer en Bondelsgedagtes vir ons kon vertel watter van die inheemse plante in die beddings is eetbaar! Wonderlike spyseniers het ‘n yslike piekniekmandjie voorsien met genoeg pikante lekkernye – soet en sout − vir 14 lekkerbekke (plus busbestuurder), asook oorvloedige sjampanje om met so ‘n titseltjie lemoensap te verdun (nie vir die busbestuurder nie). Ons het heel stigtelik begin, maar iemand (ek het my vermoedens wie dit was… Hesterrrr?) het my broodmandjie ook uit die Ventertjie opgediep en saamgesleep. Ons beland toe, nou al goed gesellig, by die dammetjie met die eende en dit kan nie hoër of laer nie, die eende moet gevoer word – MET MY BIERBROODJIES!! Ek en Perdebytjie besef gelyk watse brode nou hier deur die lug seil om op die water gewerp te word en duik tegelyk oor die heininkie in die modderwater in om te red wat te redde was. Gelukkig kon ons al die broodjies insamel, weliswaar so effe klam (wat praat ek, my broodjies was kletsnat!!) maar dis darem nie bedoel vir menslike konsumpsie nie en Pretoria se heerlike hitte het hulle gou uitgedroog. Soos wat ek in my roekelose jeug deur ondervinding geleer het (drie sopies jenewer, lemmetjiestroop en limonade voor mens in die branders gaan speel, is deksels simpel…), en soos ‘n paar weke gelede weer op Harties bevestig, meng water en drank glad nie goed nie (dis hoekom daar “mixers” is). So amper het ek in my mimosa-toestand nie die kant van daai dammetjie gehaal nie…

Hoekom op aarde die parkopsigter ons by die parkie uitgeboender het, verstaan ek ook nie so mooi nie. Die eende het toe mos ander gewone broodjies gekry. Bome hou daarvan om geklim te word. Mooi blomme moet gepluk word, eetbare plante moet geproe word! Openbare rusversteuring? Vandalisme? Wie, ons??

By die boetiekhotel aangekom, moes ons vinnig speel om stof en modder af te skud sodat ons weer oordintlik lyk.

Om by die Z K Matthews-saal uit te kom, klim mens trappe dat jy amper wil gaan lê. Ons kry elkeen ‘n program met die libretto van die koorwerk, word gemaan om asseblieftog ons hoogs gewaardeerde applous te bêre tot heel aan die einde van die uitvoering, en klim nog ‘n lot trappe om dankbaar in die sagte stoele neer te syg. Ag, en waar slaan hierdie ou tannie toe haar naam met ‘n plank en raak rustig aan die slaap… Dankie, Scrapy, vir die taktvolle manier waarop jy my elke nou en dan so liggies met die elmboog gepor het, anders het ek dalkies nog gesnork ook… Na die jubelende applous en ruikers wat links en regs uitgedeel word, kry ons my vriendin wat in die koor sing in die voorportaal, sodat sy mijnheer Grooten aan ons almal kan voorstel. Hy neem elke towerin se hand saggies en sjarmant in syne (lang, slanke vingers waaruit die musiek vloei wanneer hy op die podium staan), maar as hy by Kameel kom, vergeet hy van al die ander bewonderaars om hom en fokus net op haar. Ek kon slegs dele van die gesprek hoor, frases soos “in ‘n ander lewe… só na jou gesoek… nou, hier, in Afrika… heel onwaarskynlik… my verlore beminde…” Met ‘n sagte snikkie keer Kameel haar weg en strompel blindelings die trap af met die res van ons agterna. Dankietog ek het, met die oog op daardie einste trap, die Towerinne aangeraai om liefs gemaklike, veilige skoene aan te trek!

Saterdagaand, omgewe deur sagte wolkies parfuum, stap ons gesofistikeerd op ons stiletto’s verby Kream se kroeg op pad na ons private eetkamer. Vier manne sit in ‘n ernstige bondel by mekaar – jouwarempel! Ons ken mos daai lotjie! Danie Coetzee uit Suid-Amerika het die kroegman aan die gesels gekry oor sy wedervaringe, Lewies sit en mymer oor sy whisky, Baron von Room se stiletto-letsels lyk nie meer so erg nie (dalk te danke aan Hia de Sint se tere sorg?) Die vierde persoon is onbekend, maar Lekkervurig, wat haar op die plek vervies het oor die manne se teenwoordigheid, pyl op hom af: “Nou wie’s jy nou altemits, meneer?” “Ek is Vuurklip, me Lekkervurig, en ek skat ons twee het heelwat gemeen? Aangename kennis!” “Wat maak jy hierso, wat’s jou orders en waarheen is jy op pad, Vuurklip?” “Sjoe, metafisiese vrae so vroeg in ons vriendskap!” Met dié ruk Lekkervurig haar op en om: “Kom, girls…” en daar gaat ons eetkamer toe, laat die manne maar val waar hulle wil…

(‘n Vinnige persoonlike tjommeltjie: Wanneer ek soms drieuur-in-die-nag sit en blog, kan die bloggers se kosvertellinge my rasend honger maak. Hiermede neem ek wraak – vatso!)

Kleurryke sushi vir diegene wat van rys en vis hou, kapokaartappels delikaat met grasuie gegeur, smeltsagte skaapvleis in die heerlikste sous, gekaramelliseerde pampoen, bros groenboontjies, verstommende slaaikombinasies… Malvapoeding met rêrige vla, sorbet in drie verskillende vrugtegeure, crème brulée, ‘n sjokoladekonkoksie uit die sjef se wildste drome…

Halfpad deur die aand gaan nooi Bondelsgedagtes-met-die-sagte-hart die bedremmelde manne by die kroeg om by ons te kom aansluit, nadat sy eers lank met Lekkervurig gekoukus het. Gretig aanvaar hulle die uitnodiging en kom skuif by die groot vierkantige eettafel in, een aan elke kant, ewe mooi gebalanseerd. Die wellewende gasvrou wat in Una skuil (is dit dalk haar alter ego – Amelia met ‘n A?), spring aan die werk: sy bestel ‘n sappige biefstuk vir Danie, ‘n allemintige porsie sushi vir Lewies (hy het mos nou al geleer seekos eet daar by die kus waar hy nou woon), ‘n galjoen vir Vuurklip en tiramisu vir Baron von Room. Daar is ek nog ‘n diamant kwyt… Gelukkig het Trommeltjies van haar beroemde en berugte rooiwyn ingesmokkel, sodat ek nie nog vir drankies ook hoef te betaal nie!

Daarbuite het ‘n sterk bui reën uitgesak en wanneer ons uiteindelik terugstap bus toe, is alles heerlik koel en die stadsligte weerkaats in die blink teerstrate. Ons bus is op die Brooklyn-verkeersirkel tussen die taxi’s geparkeer. Soos ons aangeloop kom, hoor ons die slepende Afrikamusiek en sien ons hoe ‘n klompie Uber- en taxibestuurders dit voor die groen bus uitkap. Toortsie ruk haar kitaar agter uit die bus uit en val in by die ritmes, terwyl die Towerinne elkeen op haar eie manier die musiek in dans vertolk. Baron von Room en Perdebytjie langarm in die straat af; Lekkervurig en Vuurklip bop te lekker; Una en Danie wals al in die rondte; Positief en Lewies kap dit uit met ‘n swing-item; Hester en Lorenzo foxtrot vir die vale. Die uwe ken net een dans waarvoor mens nie ‘n dansmaat benodig nie en daarom lei ek die res van ons in ‘n lewendige macarena-nommertjie, min wetende dat paparazzo-foto’s van ons almal more op Rapport se agterblad gaan pryk!

Skielik staan Silver voor my – die musiek is so hard dat ek nie die Harley se kenmerkende gebrul gehoor het nie. Hy pluk ‘n rooi roos uit een van Tshwane Parke se beddings, byt dit tussen sy tande vas, gryp my in ‘n meesterlike greep en daar tango ons dwarsoor Brooklynsirkel tot by die anderkant, waar hy my soos ‘n veertjie optel en saggies op die agtersaal van die Harley neersit. Positief kom aangedartel en spring agterop Big Daddy Cool se baaik en VirgoC klim agter Padda op die derde pragtige Harley, de ene chroom en veters. Die laaste wat ek van die sirkelfees sien en hoor, is Toortsie wat haar kitaar goedkeurend in die lug rondswaai en ululeer soos g’n Oos-Kaapse vrou haar dit sou kon nadoen nie. Waar op aarde het sy daardie kuns aangeleer?

Net voor middernag sleep die Towerinne die hotel binne, voetseer en vroom in die wete dat hulle al daai uitspattige aandetes afgedans het, en gou is almal rustig in droomland. Niemand bekommer hulle enigsins oor ons vier “beskermhere” nie, wat glo in die Uniegebou se tuin in Abrie se stapperstentjie uitkamp…

Sondagoggend seweuur word Rapport voor elke deur neergesit en baie gou trek die gegiggel soos ‘n veldbrand deur die Towerinne se gang. Woordnoot lees met haar welluidende stem en professionele aanbieding hardop die enkele paragraaf en al die byskrifte voor:

Verstommende Saterdagaandtonele by die Brooklynsirkel

“Reënboognasie” het laat Saterdagaand ‘n nuwe betekenisfaset bygekry. ‘n Groep elegante dames, vier verkeerdeveer-mans, ‘n uitlandse busbestuurder en die Uber- en taxibestuurders van Brooklynsirkel het spontaan saam begin dans. Neon- en straatligte het feestelik in die reënplasse geblink en die toneel met al die kleure van die reënboog geverf. Rapport kon ongelukkig geen bevredigende antwoorde kry toe ons na die dansers se identiteit en ouderdomme verneem het nie. Die dames het eienaardige name verstrek en een het selfs beweer dat hulle towerinne is, waarna hulle in ‘n groot groen bus geklim en weggejaag het. (Fotokrediet aan ‘n onbekende paparazzo in ‘n lang swart jas.)

Onbekende musikant speel verruklik kitaar

Onverskrokke dansers in besige straat

Bop en swing in Brooklynsirkel

Meesleurende walsdraaie

Die macarena is weer mode!

Harleys brul deur Brooklyn

Na ‘n rustige ontbyt pak ons die bus en sit af Lynnwoodbrug toe. (Nouja, dit was rustig totdat Woordnoot begin broodjies van die balkon afgooi na die straat toe, waar die vier Uniegebou-kampeerders dit vang om in hulle kitskoffie te gaan doop… Ag, en toe was daar nóg ‘n kommosie toe die koerier Trommeltjies se busvrag wyn aflewer… Gelukkig kon Lorenzo die probleem van genoeg bêreplek oplos deur ‘n kis onderkant elke bussitplek in te skuif.)

By Lynnwoodbrug gekom, sien ons Tribeca het toegemaak! Ag, dis nou ‘n ramp. Gelukkig is Stephnie’s net oorkant en ons stap soontoe. “Tafel vir dertien?” Dertien? Wie’s weg? Ek kan my oë nie glo nie: daar sit Scrapy hoog en droog en agterstevoor op die donkiestandbeeld! Wys jou net: as daardie vrou iets nuuts geleer het, beoefen sy die vaardigheid. Dis Bondeltjies se boeresport se skuld!

Intussen het Seegogga op die rug geklim van die donkiestandbeeld wat tussen die fonteintjies lê, sy kla lankal dat Gauteng se lug haar uitdroog en dat sy see toe verlang. Umm, dis maar ‘n flou plaasvervanger vir die wonderlike see, en daar’s ook niks sand nie, maar darem dra Bondelsgedagtes vir haar tee en koek aan wat sy net daar in die watertjies kan geniet. (Die flentertjie diamant waarmee ek die gekrenktheid probeer salf het van Stephnie’s se bestuurder oor haar porselein op ‘n donkierug, het gelukkig gewerk.)

Donkietjie-300x224

Skielik kom gisteraand se drie Harleys stadig om die hoek aangebrul met Silver, Big Daddy Cool en Padda agter die stuur. Ek, Positief en VirgoC klouter elkeen agterop ‘n masjien en ewe statig ry ons verder, tussen die mense deur, in ‘n wye sirkeldraai verby al die winkels totdat ons weer by die donkiefontein afgelaai word. (Die knewel van ‘n diamant waarmee ek die verontwaardiging van die kompleks se bestuur oor hierdie toneeltjie moes laat bedaar, is met liefde prysgegee…)

Die teatergangers in die voorportaal van die Atterbury kyk verstom hoedat ons by die voordeur instap – ja, julle Pretorianers, Harley-mense het ook kultuur! Ná die sirkelrit is daar geen huis met Positief te houe nie – toe ons weer sien, sit sy op die verhoog aan Deon Meyer se voete na hom en luister. Gelukkig het die man ‘n oog vir ‘n mooi nooi en hy gaan rustig voort met sy voorlesing. Aan die einde bars Positief in trane uit en snik teen sy skouer oor hoe sy Karoo toe verlang… (Die heel laaste diamant uit die bierbroodjies verdwyn in die sak van die verhoogbestuurder wat dreig om Positief te laat toesluit. Twee tronkselle binne twee weke – mens kan dit mos nooit laat gebeur nie!? Gelukkig kon Hester die man oorreed om nie te prosedeer nie.)

Met die flair van ‘n ervare reisiger maak Trommeltjies ons almal bymekaar en boender ons by die giggelgroen bus in, op pad na Mokopane onder Scrapy se leiding. Die bierbroodjiediamante is nou wel op, maar danksy Woordnoot se Cullinantrippie is daar ‘n hele nuwe voorraad, en ‘n wêreld se avonture lê nog voor.

xxx

In die oomblik…

14 Sondag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 17 Kommentaar

Vanoggend reën dit nog steeds – bestendig en genadig. Die heerlike geluid voer my terug na ‘n naweek in die Laeveld, lank, lank gelede. My destydse geliefde en ek het by sy pa gaan kuier en dit het net so gereën. Die wêreld was groen, groen met pers spatsels agapant. Ons het na die klankbaan van Zorba geluister, daardie heerlike uitbundige Griekse musiek wat die verloklike filosofie van dans, dans deur die lewe! gedra het.

Ag, ek is lief vir dans…en vir reën…waar is jy nou, Tom? leef jy ooit nog? hoe het die lewe jou behandel? waar is al die jare heen…

Kuier-safari: e-pos aan die bestuur van Sun Eden

13 Saterdag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 20 Kommentaar

Safaribus

Geagte Bestuur

Graag wil ek mits dese die mense van Sun Eden hartelik bedank vir u bereidwilligheid om ‘n groen bus vol grootogige dames uit die verknorsing te help deur goedgunstiglik die bus se wiel vir hulle om te ruil. Sien, ons busbestuurder was so ‘n mooi seuntjie dat sy ma hom gruwelik bederf het en hy is nooit geleer om enigiets vir homself te doen nie – laat staan nog hoe om ‘n band om te ruil!

Vergun my voorts asseblief die geleentheid om ‘n aanbeveling te maak: ter wille van mense se senuwees behoort Sun Eden se naambord iewers ‘n aanduiding te gee van die soort kleredrag wat mens daar gaan aantref…

Met agting die uwe

Tannie Frannie

Gedroom

13 Saterdag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 5 Kommentaar

Hierdie skrywer laat my glimlag, lag, huil en steeds diep dink.

Hervormend

Afrikaans, Afrikaanses en Afrikaners

Afrikaans kry jy met moedersmelk in.  Afrikaner is aangeleer.

Jy sit op ʼn Septemberoggend en wag vir Siembamba.  Radio Suid-Afrika speel somber klassieke musiek.  Ouma huil toiletrolle vol.  Jy leer omgee vir Verwoerd.

Eendrag leer jou volkspele.  Ek het ʼn foto van my en Juanita van Schalkwyk – dis ʼn swart-witfoto, maar ek onthou dit was geel, haar Voortrekkerrok.  My serpie ook.

Dan kom die geskiedenis van volksplanter Jan, goewerneur Simon, Wolraad Woltemade en die sinkende skip, gelowige Hugenote wat met nagmaalwyn op reis gaan, die verdomme Engelse, die tragiese Trek, dapper Dirkie Uys en beginselvaste Jopie Fourie en liefdevolle Racheltjie de Beer.  Jy vereenselwig.  Jy maak mag.

Op Saamwerk ontmoet jy jou mentor, ʼn seldsame geskiedenisonderwyser wat jou doodgewoon laat vra “Hoekom?”  Die gevolg is nie soseer geskiedenis nie, maar geesteswetenskap.  Jy kan nie anders nie, jou hart loop sit daarin.  Jy identifiseer.  Jy lees…

View original post 1 097 more words

Kuier-safari: Kameel se karavaan

08 Maandag Okt 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 44 Kommentaar

Safaribus

Kameel se karavaantog deur Pretoria was verruklik.

Blou honde en spoke en ‘n blink nuwe sangster – opwinding en glorie!

Toe ek nou so verby die piekniekplek in Rietvlei Natuurreservaat slenter, sien ek ‘n pa, ma en seun – maar ek ken hulle mos! Dis Dries en sy gesin van de Wets Wild. Ek stap nader en stel myself voor. Ons het soooo lekker gekuier…

Sjuut, moenie vir Kameel sê nie, maar ek het kleinkoppie getrek vir daai valskermstorie. Ek het ewe gedweë in die vliegtuigie ingeklim en toe die vlieënier gaan smeek om my groot asseblieftog weg te steek. Nee, julle, ek’s nie bang nie, dis net – ek moet my wang- en nekvelle deesdae goed oppas en die ryery op ‘n Harley veroorsaak ook maar “wear ‘n tear”…

 

 

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Nuutste kommentaar

Una oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Weerberig, 25 Januarie 20…
woordnoot oor Weerberig, 25 Januarie 20…
scrapydo2.wordpress.… oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Sondagstap

Argief

  • Januarie 2023
  • Desember 2022
  • November 2022
  • Oktober 2022
  • September 2022
  • Augustus 2022
  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

DeWetsWild Photography

Disappearing into South Africa's wild places... Again!

Hannes van Eeden

Bodemklippe

Docendo discimus

Enelda

Sonder 'n masker

Wild Adventures Blog

Journey to the wild

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

'n Webwerf vir die Afrikaanse digkuns

Masha du Toit

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 223 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...