‘n Paar dae na haar lang vlug van 16 uur, sit ouma in South Carolina, VSA vir die hoeveelste keer na die video en kyk: verfilm deur Joshua se mamma die aand van sy gradeplegtigheid. Volgende jaar is hy ‘n volwaardige graad eentjie.
Die kindertjies lyk pragtig – die dogtertjies in wit rokkies en die seuntjies in langbroekies en hemde met ‘n kraag. Joshi dra sy wit-en-swart geruite hemp wat ouma laas uit die VSA vir hom saamgebring het.
Hy waai skamerig vir sy mamma, gebruik die verkeerde handjie vir die eerste beweging op maat van die musiek, maar van daar af gaan dit voor die wind. Wanneer die koortjie, handjies in die lug, soos bome heen en weer wieg, hoor ouma die videograaf sug: “Awwww…”
“Ek is gemaak om vir God te sing…” Iewers is daar sekerlik ‘n juffrou wat die gebare saam met die kindertjies maak. Ouma het net oë vir daardie een ou seuntjie, haar hart se punt, wat so verskriklik ver weg van haar af is…