Vandag, nadat sy reeds die kinders by die skool gaan haal het, stamp my skoondogter die kar se een wiel met ‘n vaart teen ‘n randsteen stukkend, soveel so dat dit met die noodwiel vervang moet word. ‘n Barmhartige Samaritaan wat naby woon, gaan roep haar man om te kom help. Mense kom aangestap, drom saam en betuig besorgdheid en omgee.
Terwyl hy die petalje staan en bekyk, lewer Joshua (ses jaar oud) droogweg en kliphard kommentaar: “Darem het die kar nie omgedonder nie.”
Kosbare herinneringe aan ‘n kosbare ouma. Ek herblog graag, want hier is ‘n vaardige skrywer aan die woord, iemand wie se vertellings, weet ek, vir my blogmaats ook genot sal besorg.
lovely grandmother, old lady knitting a handmade sweater , logo, label or emblem for your yarn shop
Ouma Pien, my ma se ma, het vier dogters gehad en ons praat nog gereeld onder mekaar van hierdie legendariese ouma wat enig in haar soort was. Ek persoonlik het altyd gevoel sy is nie te gek oor my nie, seker maar omdat sy nie ʼn liefie-ouma was nie. Nooit stroperig en oorvriendelik nie. Net ʼn ouma met ʼn rok en skoene en hare op haar kop. Sy het wel ʼn sagte plekkie gehad vir ʼn mossie wat sy mak gemaak het, so dalk het sy van my gehou, dis nie die punt nie.
Van grondpad loop ken sy goed. Van sente omdraai, spaar en deel met ander was sy ʼn meester.
Sy het ons poppe se rokke gesmok, dadels vertroetel, dadelbrood gebak, klein voëltjies geverf op enige pot wat nerfaf is, want…
Joshua het een van sy waaiers se ronde plastiekskyf wat voor op die draadskerm vasskroef, met dik wit verf bygekom. Nou moet die verfsel m.b.v. sy staanwaaier droog gewaai word. Ouma maak ernstig beswaar, want sy is nog grootgemaak om op haar hoede te wees vir ‘n trek, en hierdie is immers haar kamer.
Ouma: “Joshi, vat jou waaier, dan gaan maak jy die verf in jou kamer droog.”
Joshua, adamant en ergerlik: “Nee, ouma, ek gaan nie in my kamer nie, nie in die werkskamer nie, nie in die sitkamer nie, ek bly net hier. Byt maar vas.”
My dogter, wat haar hart lank gelede aan ‘n Amerikaner verloor , getrou en ‘n burger van die VSA geword het, vertel hulle ry gister Atlanta toe om die akwarium daar te gaan besoek. Dis ver, so drie ure se ry. Op pad gaan hulle by die “South African Emporium” aan, wat tradisionele Suid-Afrikaanse lekkernye aanhou en deur “die Odendaals” bedryf word.
“Mamma, toe kry ek ‘n smakie van ons tradisionele Suid-Afrikaanse gasvryheid. Ons vra of hulle paais het en hulle nooi ons na die kombuis toe, wat deur ‘n gordyn van die winkel self geskei word. Hulle trek die gordyn toe en die pasteie word voorberei – eers in die mikrogolf en dan in die ‘toaster oven’, sodat dit lekker bros is. Dis ‘n produk van Georgia, maar dis die naaste wat ek nog aan ‘n Suid-Afrikaanse paai geproe het.”
Sy vertel verder hoe mense van heinde en verre daar aankom, om iets van hulle vaderland te beleef, en hoe mense soms net agter daardie toegetrekte gordyn sit en huil…
Gereeld sit ouma vas met haar seun Laatlam, Joshua se pa, oor sy kwistige gebruik van die f-woord, hy strooi dit soos kommas in sy sinne rond.
Vanaand bring Joshua sy gebruiklike tydjie na aandete in ouma se kamer deur. Hy sit ‘n elaborate netwerk ou elektroniese apparate aanmekaar, mens sien net liggies flikker. Skielik pluk hy ‘n kabel uit en alles is morsdood.
Ouma sit en werk terwyl sy na ‘n CD luister (ja, outydse tegnologie, ek weet…)
Langs haar op die lessenaar werskaf Joshua met ‘n klein stroombaantjie wat hy vir Kersfees gekry en nou weer opgediep het. Die dingetjie is fyn en fieterjasierig, dis maar ‘n gesukkel.
Skielik raap hy dit op en woerts, uit by die deur is hy, met die ernstige woorde: “Ek kan net werk as daar stilte is.”
2nd & Charles – Die wonderlikste boekwinkel in Harrisburg, Pennsylvania
Toe ek afgeskaal het om in my kamer onder Laatlam se dak in te pas, het ek winkelsakke vol boeke by tweedehandse boekwinkels gaan aflaai. Ten spyte van daardie opoffering, sit ek steeds met twee vol boekrakke en noudat die gemeentebasaar nader kom, is dit die ideale geleentheid om verder uit te dun. Maar ek sukkel …
Ek wéét daar is mense wat op basaardag gaan snuffel en van “my” boeke sal opraap. Hier is bv. JC Steyn se biografie van NP Van Wyk Louw, die twee lywige volumes mooi verpak in ‘n kartonomhulsel, amper nuut – net ek het dit nog gelees. Toegegee, ek gaan maar hardhandig met ‘n boek om – nie soos my liewe dogter nie, wat ‘n boek sagkens behandel, sodat mens skaars sou kon dink dis al gelees. Dis juis sy wat hierdie kosbare biografie vir my gegee het, hoe kan ek dit dan nou ooit wegmaak? Nog een van die mooi hardebande wat ek van haar present gekry het, is Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee, wat lank weg was uit my lewe en weer opgeduik het toe ‘n vriendin wat dit geleen het, dit aan my teruggee. (Skuldig voel ek nou, want hier is ten minste drie geleende boeke wat ek nooit aan hulle eienaars terugbesorg het nie …)
Sal ek nou maar tog uiteindelik ontslae raak van die ou sagtebandboekies vol Engelse poësie uit my studentedae, wat ek ten spyte van vrome voornemens nooit ooit weer oopgemaak het nie? En wat van Shakespeare se individuele dramas, sulke eenderse boekies met eenvormige omslae? Hier is nog van my dogter se boeke, ten spyte van die swaar tasse wat ek soms vir haar na die VSA toe aangesleep het, maar hulle kan ek maar wegmaak, want sy het self erken dat sy soortgelykes agtergelaat het toe hulle ‘n rukkie terug na ‘n ander staat verhuis het. Die paar Nora Robertse kan ek dalk onder in ‘n boks wegsteek, sodat niemand by die kerk sal weet dis ek wat hulle daar aangebring het nie. Hmm, wonder of iemand daar hulle sou wou aanskaf … Hier is een of twee outobiografieë van Afrikaanse persoonlikhede wat dalk byval sou vind, maar hoe sal ek ooit my enkele boeke oor die Afrikaanse toneel kan laat gaan? En wat van die Nederlandse voorgeskrewe werk wat ek nog altyd weer wou lees?
Iemand sou dalk die eerste sangbundel van die F.A.K. waardeer; moeilikheid is net dat my mammie voorin geskryf het: “Aan V met baie liefde Van ouma 1987”. Ek blaai daardeur en ontdek ‘n musiekrapport van Middelkind, uit die dae toe hy tuba gespeel het in die kadetorkes en toe by Pro Arte gaan les neem het. 80% en sy meneer skryf: “Pragtig gespeel dankie”. Ek onthou ‘n heerlike artikeltjie wat ‘n bibliotekaris geskryf het oor die wye verskeidenheid boekmerke wat mense agterlaat in die biblioteekboeke wat hulle kom omruil – hierdie rapport sou ‘n waardige plek in daardie versameling kon beklee.
As ouma het ek liederlik gefaal in my roeping om die twee kleinkindertjies wie se onderdak ek deel, lief te maak vir lees. Hulle sit graag voor skerms, waar histeriese prototipes van die luide Amerikaner te kere gaan – hoe sou ouma met haar gekraakte stem en ‘n ou boek in die hand nou daarteen kon meeding? Maar die hoop beskaam nooit – juis hierdie wintervakansie beplan ek ‘n biblioteekbesoek. Dit lyk asof Gabby boekwurmneigings toon, sy is opgewonde oor die skoolbiblioteek en het nou-die-dag Diary of a Wimpy Kid by ‘n maatjie geruil en met net twee sittings deurgelees (twee, want die aand het laat geword). Joshua is ook vatbaar vir betowering, dus sal ek kyk wat ek kan regkry.
My ouers was lief vir boeke – toe hulle boeke en meubels geberg was terwyl hulle huis laat bou het en die hele stoor afgebrand het, het my mammie ‘n paar van hulle boeke uit die puin gaan opgrawe. Alhoewel my pa nooit weer eintlik boeke vir homself gekoop het nie, was ‘n boek altyd ‘n gewilde geskenk aan my en my boetie. Voorin is die opdrag geskryf: “Aan … op jou verjaarsdag”; of “Aan … met liefde van …” en die jaartal. Ek het van daardie blaaie uitgeknip voor ek boeke weggemaak het en dit was pynlik. Een boek wat ek nie gaan wegmaak nie, is DJ Opperman se Groot Verseboek van 1973, met die opdrag voorin: “’n Klein geskenk vir ‘n wonderlike sus. Luv T.” My boetie en sy gesin woon nou al lange jare in Nieu-Seeland – ai, hoe mis ek hom! Bo-aan dieselfde bladsy het my dogter haar volle naam in kinderlike potloodskrif geskryf toe sy die bundel oorgeneem het vir haar hoërskoolloopbaan. Daarna was die boek maar weer myne.
My Kindle is wonderlik, ‘n teenvoeter vir die ellendige beurtkrag wat nou weer aand vir aand ons lewens versuur en ons slaappatrone om-ellie, maar daar is niks soos die belofte van ‘n nuwe, stewige hardebandboek of ‘n voos gelese biblioteekboek nie.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!