Daardie dag is die vakleerling-katengeltjie vir die eerste keer toegelaat om self ’n werkkaart af te handel. In sy hoekie van die groot werkswinkel was daar vier blikke verf: grys, ’n klein bietjie donkergrys, roomwit en so ’n eetlepel of twee van die eienaardigste pienkerige gemmer. Die opdrag het só gelui:
Katjie om te troos en geliefie te word Vir ’n ouma in ’n vreemde land wat na haar kleinkinders verlang. Werk uit hoe om die katjie op ‘n oorspronklike manier by haar te besorg. |
“Aa,” dink die engeltjie, “dit sal ’n fluweelsagte wyfiekatjie moet wees wat lekker hard kan spin en graag snoesel. Met die grys en donkergrys kan ek oefen om strepies te verf – net so effentjies, want daar is net ’n katspoegie donkergrys. Die roomwit gaan ek gebruik om die kennetjie die kenmerkende half-halfverdeling van ’n skilpaddoppatroon te gee en dan sal die pienkerige gemmer goed werk vir ekstra vlekkies kleur oor die hele lyfie.”
Die engeltjie spring aan die werk. Dit gaan goed met die strepies, maar teen die tyd dat hy die sjabloon vir die skilpaddop gebruik, sit die katjie nie meer mooi stil nie, sy wriemel! Die halwe roomwitkennetjie en die gesigmaskertjie is effens skeef.
Die vlekkies gemmer word sommer so lukraak opgeverf, waar die engeltjie ook al kans kry om daardie lyfie by te kom – daar is tot ’n paar gemmerpienk vingermerke op die grys pels.
Die katjie trap met haar voorpote op die deksel van die pienk-gemmer verfblik, wat met die verfkant na bo op die werkbank lê, en kry een pienkerige voetkussinkie en ’n gevlekte toontjie. Die engeltjie probeer om die agterpootjies met glimstrepe te versier, maar die kat is nou behoorlik omge-ellie en die haailaaits is windskeef en lukraak. Daar sit ’n skuins roomwitstreep oor die borskassie…
Die engeltjie is gedaan, hy wou nog werk aan die kat-ogies, hy’t gedink ’n diepgroen sou pragtig lyk, maar nou besluit hy om maar die gemmerkleurige ogies net so te los, want die katjie is reeds op pad na die reënboogglyplank wat haar op aarde gaan besorg. Die katjie land bo in ’n bos en die engeltjie gaan lê op ’n wolkie, skoon uitgeput – hy hoop maar die ouma en die kat sal van mekaar hou.
Liewe katengeltjie, innig dankie vir jou eerste poging tot ’n skilpaddopkatjie, sy is die heel, heel mooiste kat op aarde en die heel, heel diepste in haar ounooi se hart.