My kind in Amerika het die Checkers60-toep ontdek, wat vir haar ma groot voordeel en vreugde bring. So word daar in die week voor Moedersdag twee yslike bosse rose afgelewer. Hoe sê mens dankie vir soiets? Ek het maar elke dag ‘n fototjie gestuur…
Joshua (hoogs ergerlik omdat ouma wil help): “Nee, los ouma! Onthou, ek’s ‘n baie slim mens en my ogies is wyd oop. Oumas se ogies is nie meer so wyd oop nie!”
My pa het ‘n gesegde gehad: “I despair of myself.” Hy het dit speels gesê, gewoonlik effens verleë, wanneer hy homself op ‘n algemeen-menslike swakheid betrap het. Vandag is sy dogter egter behoorlik de vieste in vir haarself en totaal wanhopig oor haar sentimentaliteit en onvermoë om enigiets weg te gooi – hieroor het ek al geskryf, maar vandag is dit weer nodig om terapeuties te skryf.
Ek is besig om op te ruim en kom op ‘n plat sjokoladeboks af, wat iewers in die tagtigerjare van die vorige eeu kersie-en-brandewynsjokolades bevat het. Ai, die herinneringe wat uitpeul toe ek daardie deksel lig ‒ Pandora lyk ‘n mooi een! Ek wéét ek gaan daardie boks weer net so toemaak en bêre, as ek nie nou dadelik die herinneringe opskryf en uitskryf en die kaartjies en briewe wegmaak nie.
Hier is ‘n paar amptelike kaartjies van vooraanstaandes, swaar papier met ampswapens voorop en dun velletjies binne-in, waarop die bewoording in goue letters gedruk is: kerskaartjies, ‘n verjaarsdagkaartjie en ‘n uitnodiging na ‘n jaareindfunksie, uit die dae toe Gewese Liefling nog hard aan sy loopbaan gebou het, met my ewe entoesiasties neffens hom. Ag, dis maklik: knip die spulletjie in klein stukkies en gooi dit weg…soja.
Nog kerskaartjies…wanneer het ek opgehou om hulle te ontvang? My kinders in die VSA kry nog die mooiste kaartjies – ‘n algemene gebruik daar is ‘n gedrukte kaartjie met ‘n kleurfoto van die gesin langs hulle boodskap. Hier is ‘n sneeutoneelkerskaartjie aan GL van ‘n Amerikaanse vriend met ‘n persoonlike nota in onleesbare handskrif, asook die mooiste gedrukte boodskap: “May Christmas bring Friends to your Fireside, Peace to your Pathway, and Good Health throughout the New Year.” ‘n Boodskap van my peetmammie, my Tannie Katy met die mooi blou oë: “Mag u in hierdie rustelose, ingewikkelde wêreld geseën wees met vrede en innerlike vreugde, nie alleen met Kersfees nie, maar dwarsdeur die jaar.” My liefste tannie, ek gryp hierdie boodskap aan, ook nou – 37 jaar later – nou dat ek dit so nodig het… Nog kaartjies van bure, vriende en familie, ook aan ons kindertjies. ‘n Selfgemaakte kaartjie van Middelkind af – hy het met groot moeite die voorblad geteken en toe agtergekom dis eintlik die agterblad, waarna hy maar ‘n flouer prentjie op die voorkant geteken het. Hierdie ene gaan ek hou – hy was seker so agt jaar oud toe sy ou handjies daardie sorgvuldige deelteken op die verkeerde e gemaak het: “Gesëende Kersfees”. Nog ‘n kaartjie wat ek nie kan wegmaak nie, is die een van my dogter se graad 1-onderwyseres in die tweede helfte van die jaar (V moes van skool verwissel omdat ons destyds ses maande in die Kaap en ses maande in Pretoria gebly het). Watter wonderlike juffrou was sy tog, wat gehelp het om my dogtertjie se aanpassing in ‘n groot en vreemde skool vlot te laat verloop.
‘n Verjaarsdagkaartjie met ‘n stroperige boodskap, gebêre omdat my dogtertjie haar naam daarin probeer skryf het. ‘n Kaartjie aan Middelkind van die bure oorkant die straat ‒ as mens dit oopmaak, steek ‘n yslike groenbont padda vir jou tong uit: “Gelukkige verjaarsdag, ou malle!” ‘n Partytjie-uitnodiging, wat bondels en bondels partytjieherinneringe oproep.
Nog kaartjies: ‘n Randall Wicomb-konsert in 1985 ten bate van Kleuterskool Trekvoëltjies, dankies, afskeid, beterskap, huweliksherdenkings… Die hopie wat ek net nie kan weggooi nie, groei steeds aan.
Nou die briewe. ‘n Brief met allerhande brokkies nuus van ‘n liewe vriendin wat ek nie op fb kan opspoor nie; een brief elk van my twee skoonsussies (hulle het ek darem nog albei op WhatsApp); ‘n briefie van waardering van ‘n gesiene akademikus; die lys van afskeidsbydraes toe ek my loopbaan weggegooi het deur te bedank; briefies van my mammie; en – ‘n groot verrassing: ‘n brief aan my, toe 12 jaar oud, met my mammie se handskrif bo-aan: “F se eerste seunsbrief”. Oja, ek onthou hierdie karakter – eendag toe hy bel, was ek buite besig om paadjies vir my speelgoedkarretjies in die modder te skraap.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!