Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-25, dailyprompt, dailyprompt-1828
Die heel eerste ding wat ons gesin met vakansie gedoen het, was om tydelik by die plaaslike biblioteek te gaan aansluit. Dit was hoe dit gekom het dat ek skemertyd Sy kom met die sekelmaan op die sandduine van die Natalse Suidkus sit en lees het; ‘n leeftyd gelede, maar steeds onthou ek die verrukking van singende, huilende Afrikaans teen die geruis van die golwe.
Biblioteke was nog altyd deel van my lewe: van die saaltjie met die krakerige houtvloere in ‘n ou geboutjie in my tuisdorp, via ‘n deurmekaar, onderbefondste munisipale biblioteek in die onlangse verlede tot by die huidige pragtige en ruim gebou met spesiale uitstallings en wonderlike fasiliteite. Daar was ook ‘n reeks boekrakke oor die jare. In my ouerhuis was daar net ‘n kleinerige een, want my ouers se boekery het saam met al hulle besittings verbrand in ‘n pakhuis waar dit gestoor is terwyl hulle huis laat bou het. My pa het daarna slegs enkele boeke gekoop; my mammie se boekklubromans was daar, ‘n paar verskroeide dele van die Arthur Mee Children’s Encyclopaedia wat sy uit die as van hulle besittings gaan opgrawe het, en my eie Afrikaanse Kinderensiklopedie en storieboeke. In my eerste woonstel het ek ‘n stellasie van steiers met planke gebou en laterjare het ‘n yslike houtboekrak van plek tot plek saam met my geswerf, asook die swart imbuiaboekrak met die Queen Anne-pootjies wat my mondigwording-geskenk van my ouers was. Dit was hartverskeurend om winkelsakke met geliefde boeke na ‘n boekesmous aan te dra, maar tot op hede het ek nog nie alles opgeruim nie, want my versameling het maar weer aangegroei en opgehoop – dié keer in die dennehoutboekrak wat my dogter in SA agtergelaat het.
Ek is so dankbaar oor my Kindle, ‘n 2019-kersgeskenk van my Amerikaanse kinders, want nou kan ek nog steeds Afrikaanse boeke in die hande kry: die nuutste Deon Meyer, die Vywerbaai-trilogie van Chanette Paul, Gebeente deur Etienne van Heerden. Helaas, ek is verslaaf aan fiksie! Miskien is dit hoekom die “magiese realisme” van Van Heerden en die Discworld van Terry Pratchett my so boei.
Iemand wat lief is vir lees, kan nooit verveeld wees nie.