Daar is ‘n ou grappie van ‘n tannie wat beweer sy kla nooit nie, sy brom net so ‘n bietjie.
Nouja, as ek nou bietjie moes brom, sou dit oor die liewe Eskom wees. Hier van ver af neem ek gereeld op die straat-WhatsAppgroep kennis van die beurtkragskedule en die stand van watertoevoer, wat eintlik ook maar aan Eskom se genade uitgelewer is.
Vanwaar kry daardie organisasie die vermetelheid om te beweer “loadshedding will be suspended”, so asof beurtkrag die normale stand van sake behoort te wees – dis om van te stik! Hoeveel werksure word aan daardie ingewikkelde skedules gewy – plaas dat die spulletjie die kabels loop en beskerm teen die alewige diefstal!! En dan kry hulle elke jaar salarisverhoging en verhoogde elektrisiteitstariewe!!!
Ummm – nee wag, voordat ek al die uitroeptekens opgebruik, swyg ek liewer…
My kind pas bedags ‘n vierjarige op – Josie, met die kuiltjies op elke kneukeltjie. Soms moet ek instaan, want V is baie besig, en vandag was weer so ‘n dag.
Ons hoor ‘n kat weeklaag en sien hom deur die venster: die ou groot wit-en-gemmer rondloperkat wat so af en toe hier kom kos bedel. Hy lyk gehawend, met ‘n groot wond op sy wang waar ‘n abses oopgebars het, waarskynlik as gevolg van ‘n bakleiery. Ons gaan gee hom ‘n pierinkie “nat kos”.
Dis koud buite, maar die son skyn helder op die kindjie se gladde voorkoppie waar die hartseer en bekommernis plooi, al probeer ek haar verseker dat die kat darem nou nie meer honger is nie.
Wanneer Josie en ek nou weer ‘n konfrontasie het – want sy het ‘n sterk wil – sal ek terugdink aan die erbarming op haar gesiggie vandag …
Die uwe is ‘n gebore toeskouer en dit geld veral vir sport, want toe sportiwiteit uitgedeel is, was ek agter in die ry. My kinders het gelukkig, danksy die 50%-bydrae van hulle eerstespan-pa, darem op derdespanvlak netbal en rugby gespeel en dan het ek graag gaan kyk.
Deesdae kyk ek saam na Amerikaanse “football” op TV, omdat ek my verstom aan die atletiese manier waarop die spelers val, rol, opwip en verder hol. “Basketball” is ook vir my mooi: daar is ‘n bepaalde glybeweging net voordat ‘n speler die bal loslaat om deur die net te zirts wat mens amper aan ballet laat dink. Rugby is glad nie “mooi” nie, maar verlede jaar se wêreldbeker was hoogs opwindend!
Die dag toe die dobbelmasjien in Sun City my nadergewink en toe AL my geld ingesluk het, het ek besef dat ek maar liewer moet verby hou – maar dit keer nie dat mens droom oor wat jy met die geld sou maak nie!
Ek sou aldrie my kinders se huislenings vereffen, sodat hulle ‘n stukkie aarde het wat net aan hulle behoort, met “vier mure teen die suidewind”. Daarna sou ek die huisie hier langs my Amerikaanse kinders koop en my vindingryke dogter loslaat om dit te verfraai, terwyl ek al die rekeninge by Lowes en Homegoods en Ollie’s betaal.
Wanneer dit klaar is, sal ek daarvan ‘n Airbnb maak en in ‘n skrikwekkende landlady verander, wat jaloers oor haar eiendom waak en nie skroom om mense weg te jaag wanneer haar kinders wil kom kuier nie.
Aaaag ja – “If wishes were horses, beggars would ride…” (Elke keer as ek Google vra om te vertaal en die ou sukkel – “As wense perde was, sou bedelaars ry” – voel ek verlig, want die menslike brein bly nog bo.) Wat is tog die regte Afrikaans hiervoor?
September 2024 gaan die volgende Jackson Brodie-verhaal verskyn: Death at the Sign of the Rook. Kate Atkinson is ‘n Britse skrywer en dit is haar sesde roman oor die privaatspeurder se wedervaringe. Soms laat sy Jackson in sy gedagtes reageer op iets wat een van die vrouens in sy lewe gesê het, dis ‘n wonderlike tegniek. Ek sien uit na September.
Net nou-die-dag kon ons die volgende aflewering van Bennie Griessel se wedervaringe lees en nou moet ons weer twee jaar wag. Vir my is Bennie Jackson Brodie se Afrikaanse eweknie en ek kan nie wag om verder aan sy storie te lees nie. Skryf, Deon Meyer, skryf! (‘Seblief?)
As mens ‘n nominale bedrag per maand betaal, kan jy boeke by Kindle Unlimited leen. Dis meestal verstrooiingsleesstof, maar ten minste keer dit die benoude gevoel van “Ek het niks om te lees nie!” Af en toe kom mens egter op ‘n juweel af, soos “West With Giraffes” deur Lynda Rutledge. Sal graag haar “Mockingbird Summer” wil lees.
Orals in my aantekeningboeke is notas van titels en skrywers – hoekom is ek so ‘n warkop? Dalk moet ek maar net duim vashou dat die regte boek – net soos die regte kat – my sal kom vind.
Elke jaar op 18 November, my mammie se verjaarsdag, het my pa die eerste ryp perske uit sy boord op sy oop handpalm vir my mammie gebring. Dit was ook my pa wat ons Saterdagaande in die kar gelaai en inry toe gevat het. Sondagmiddae het ons “‘n entjie gaan ry” en toe ek uit die huis is, het hy hierdie Sondagritte verleng en my ma en my boetie gevat om vir my in Pretoria te kom kuier. Die eenvoudige roetines van ons gesin het gespreek van sorg en liefde.
Daardie sorg en liefde geniet ek steeds danksy my kinders. My dogter is die oudste en haar man en ek verjaar op dieselfde dag. Dis ‘n groot okkasie wanneer ons by mekaar is en daar is altyd verjaarsdagkoek betrokke. Met die eerste twee gesamentlike vieringe, in 2017 en 2020, het ons elkeen ons eie koek gekry, maar in 2023 was daar net een koek, want ons het nie ‘n partytjie gehou soos voorheen nie. Ek en P was erg geamuseerd toe ons sien die syferkerse op die koek verteenwoordig ons gesamentlike ouderdom.
Middelkind is weer die een wat van uitstappies hou. Hy het my al soveel heerlike avonture laat beleef…
iewers oor die naweek braai Laatlam graag vleis. Dan “verkool” (sy woordkeuse) hy spesiaal vir my ‘n skaaptjoppie en maak “braaipizzas” – die klein bevrore pizzatjies wat mens by die supermark koop, op mekaar geplak met kaas en tamatie as vulsel. Ai, hoe water my bek nou…
Die heel eerste ding wat ons gesin met vakansie gedoen het, was om tydelik by die plaaslike biblioteek te gaan aansluit. Dit was hoe dit gekom het dat ek skemertyd Sy kom met die sekelmaan op die sandduine van die Natalse Suidkus sit en lees het; ‘n leeftyd gelede, maar steeds onthou ek die verrukking van singende, huilende Afrikaans teen die geruis van die golwe.
Biblioteke was nog altyd deel van my lewe: van die saaltjie met die krakerige houtvloere in ‘n ou geboutjie in my tuisdorp, via ‘n deurmekaar, onderbefondste munisipale biblioteek in die onlangse verlede tot by die huidige pragtige en ruim gebou met spesiale uitstallings en wonderlike fasiliteite. Daar was ook ‘n reeks boekrakke oor die jare. In my ouerhuis was daar net ‘n kleinerige een, want my ouers se boekery het saam met al hulle besittings verbrand in ‘n pakhuis waar dit gestoor is terwyl hulle huis laat bou het. My pa het daarna slegs enkele boeke gekoop; my mammie se boekklubromans was daar, ‘n paar verskroeide dele van die Arthur Mee Children’s Encyclopaedia wat sy uit die as van hulle besittings gaan opgrawe het, en my eie Afrikaanse Kinderensiklopedie en storieboeke. In my eerste woonstel het ek ‘n stellasie van steiers met planke gebou en laterjare het ‘n yslike houtboekrak van plek tot plek saam met my geswerf, asook die swart imbuiaboekrak met die Queen Anne-pootjies wat my mondigwording-geskenk van my ouers was. Dit was hartverskeurend om winkelsakke met geliefde boeke na ‘n boekesmous aan te dra, maar tot op hede het ek nog nie alles opgeruim nie, want my versameling het maar weer aangegroei en opgehoop – dié keer in die dennehoutboekrak wat my dogter in SA agtergelaat het.
Ek is so dankbaar oor my Kindle, ‘n 2019-kersgeskenk van my Amerikaanse kinders, want nou kan ek nog steeds Afrikaanse boeke in die hande kry: die nuutste Deon Meyer, die Vywerbaai-trilogie van Chanette Paul, Gebeente deur Etienne van Heerden. Helaas, ek is verslaaf aan fiksie! Miskien is dit hoekom die “magiese realisme” van Van Heerden en die Discworld van Terry Pratchett my so boei.
Iemand wat lief is vir lees, kan nooit verveeld wees nie.
Die Voortrekkermonument, ontwerp deur Gerard Moerdijk, speel ‘n rol in my eie storie, want my ouers is daar getroud, met die hoeksteenlegging in 1938.
Ek onthou vaagweg besoeke aan die Monument toe ek klein was – trappe en trappe om te klim, en appeltert om te eet op ‘n piekniek tussen grasse teen Monumentkoppie. Die silhoeët het maar altyd oor my geliefde Pretoria getroon soos ek my lewe deurloop het, maar soos dit gewoonlik met plaaslikes gaan, het ek selde daar besoek afgelê.
Jaarliks kom mense bymekaar om daar ‘n Geloftediens by te woon en om twaalfuur die middag die sonkol op die senotaaf se woorde te sien: “Ons vir jou, Suid-Afrika”. Die marmerfries met beelde uit die Groot Trek is die langste bestaande fries ter wêreld – dit weeg altesame 180 metrieke ton en is gegiet uit ‘n mengsel van marmer en sement. Daar is ook ‘n reeks tapisserieë ontwerp deur W.H. Coetzer, wat in agt jaar deur nege vrouens borduur is en uit 3,3 miljoen stekies bestaan.
Maar ek was mos al daar, hoekom skryf ek hieroor? Dis om twee redes: Eerstens het ek versuim om toe te sien dat my Amerikaanse skoonseun die Monument beleef, en tweedens was ek nog nooit by die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings se Afrikaanse Liedjietuin wat ook op die terrein is nie.
Mense wat weer hulle geboorteland besoek, se kuiers is (benewens vreugdevolle weersiens) ‘n warrelwind van verpligtinge en vermoeienis. My kinders wou die middag die Voortrekkermonument gaan besigtig, maar ek kon dit net nie oor my hart kry om die vlugvoos reisigers, wat daardie oggend in SA aangeland het, wakker te maak nie…
Hierdie onderwerp het my so laat kopkrap dat ek sommer ‘n dag laat is! Eintlik het ek nie meer “pret” nie – ek verkeer eerder in ‘n permanente toestand van geluk en tevredenheid, wat myns insiens beter is as uitbundige pret en plesier.
Ek gaan graag na geleenthede waar daar mense is en verkyk my aan hulle. Hier in die suide van die VSA is ‘n straatfees die wonderlikste geleentheid om allerhande haarstyle, eienaardige familiedinamika en verskeie soorte eetgoed te sien. Dan hang my bek sommer oop…
My lewe lank was ek ‘n ywerige teaterganger; ek geniet opvoerings, musiekkonserte en flieks. Een van my kosbaarste herinneringe is die Nutcracker-ballet waarmee my dogter my verras het in Desember 2019, pas voor Covid-19 toegeslaan het.
‘n Nimmereindigende bron van vermaak is die twee nuwe katte in ons huis: Batman wat so breëbors deur die huis stap; Smokey wat in ‘n glas water rondkap en dan die druppels van haar fluweelpootjie aflek. Volgens een van die talle bladsye oor katte op fb, spin katte teen dieselfde frekwensie wat wetenskaplikes gebruik om weefsel te laat herstel – ek sal dit goed glo, want daar is niks so vertroostend soos ‘n kat wat op mens se skoot lê en spin nie.
My dogter pas bedags ‘n kleuter op, en soms moet ek ook maar instaan. Die kleinding is woelig en koppig – die heel beste plek vir haar is buite. Dan tel ons takkies op wat die wind van die groot bome afgewaai het, speel met die water in die voëlbadjie, skop ‘n bal rond, spring op die ysdruppels wat in die vrieskoue nagte rondom ‘n lekplek in die tuinslang ontstaan het.
Blogland bly vir my ‘n heerlike plek, want ek kan lees, gesels en self vertel – wat meer wil ‘n mens hê?
Ounooi wil so graag hê jy moet weet hoe baie lief ek jou het.
Jy is die eerste hond in my hele lange lewe wat toegelaat word om op my bed te lê, want jy is so bedagsaam. As ek jou aansê om op te skuif, doen jy dit dadelik, en vra met jou mooi oë of dit reg is so.
Daardie selfde oë dop jy so skuinsweg om as die katte te naby jou kom, want die stoute goed het jou al erg geboelie, al is jy soveel groter en sou jou bek hulle halfpad kon insluk. Ek onthou die dag toe die gemmerkat jou weerlose neus gekap het en die ou swart knorpot-kattannie terselfdertyd met al vier kloue op jou flank gespring het … en tog verduur jy dit wanneer Smokey uit pure liefderikheid teen jou kom skuur en is ‘n lae, moedelose geknor jou enigste reaksie. Jou sagmoedigheid vermurwe my hart, jy het nie verniet ‘n kwalifikasie as “therapy dog” behaal nie.
Hoeveel honde sou bereid wees om as kussing te dien vir ‘n kleutertjie wat haar dagslapie moet slaap? Doodstil en geduldig bly jy lê totdat die kleintjie weer wakker word, soms selfs twee ure lank. Ek onthou die oggend toe sy regtig, egtig nie hier wou wees nie en al huilend met haar arm om jou lyf aan die slaap geraak het, lank voor haar gebruiklike slaaptyd.
Wanneer die mense wat jy liefhet huis toe kom, soek jy altyd eers gou na ‘n sagte speelding in jou mandjie, waarmee jy dan die aankomeling gaan begroet. So gee jy elke dag die mooi van jou hondesiel aan ons almal.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!