Joshua voel verskriklik verontreg. Sy sussie het hulle pa vir ‘n rekenaarmuis gevra en pappa het toe Joshua s’n vir haar gegee. Dit was nie lank nie, toe “mors sy geel gunk oor die hele muis en maak hom stukkend”. Joshi lewer ‘n lang, emosionele monoloog oor hoe sy pa nooit daardie muis vir sy sussie moes gegee het nie, maar dit liewers met ‘n ander een moes vervang het wat nie aan hom wat Joshua is, behoort het nie. Hy eindig op ‘n dramatiese hoogtepunt, elmbogies gebuig met sy handpalmpies na bo in ‘n eeue-oue Griekse gebaar van wanhoop: “… en nou is hy moerrr toe!”
Joshua moet nou arbeidsterapie begin kry – hy is heelwat anders bedraad as die meeste gr. R’e. Hy is ook na ‘n partytjie genooi – dis eerskomende Saterdag. Hy dra sy uitnodiging heeltyd saam met hom: “Hierdie ding is baie sboksbaar, ek moet hom mooi bêre.”
Ouma: “Kosbaar, Joshi, sê kosbaar” – terwyl sy in haar hart wens dat sy hom en sy eiesoortige woordjies en sy oorspronklikheid en sy sboksbaarheid net nog ‘n rukkie langer teen die hele veeleisende ou wêreld kon beskerm…
Frannie sit in die hoekie van die hommeltuig en snik – sy voel vere vir die bedreiging van Alexi die sirkusmeester.
Frannie voel verlep, verlate en verdrietig. Nog net vyf van die Goue Vroue het op haar episode van “Rebus, hier kom ons weer” gereageer! (Plus Corna van Wet and Dusty Roads, wat volgens Frannie netsowel ‘n Goue Vrou kon gewees het – oukei, dis darem ses…)
Ja-ja, sy wéét hulle is besig, staan enkeldiep en soms kniediep in die vinnig-vloeiende stroom van die lewe, maar dis darem nou al sedert Maandag dat haar ou episodetjie daar sit en vergaan vanweë gebrek aan reaksie. Ja-ja, sy wéét Blogland is suiwer vrywillig en behoort geen druk op enigiemand te plaas nie, maar … is haar pennevruggie só onbenullig? Ja-ja, sy wéét sy skryf deesdae eintlik maar sonder inspirasie – anders as Seegogga, wat sopas weer louere ingeoes het … (Geluk, Seegogga!)
Frannie pluk haar foon uit en begin in haar blogargief rondlees. Wat op aarde het met haar gebeur? Is dit omdat sy nou ten lange laaste die stryd verloor het en in ‘n knorrige ouvrou ontaard het dat sy nie meer so vreugdevol kan skryf nie?
En ennieway – wie op aarde gaan die Goue Vroue met ‘n verblindende flits kreatiwiteit terugskryf Rebusfontein toe?? Frannie verlang verskriklik na Rebus en sy mense en sy diere en sy paarties!
Sy lees weer die enkele kosbare kommentare op haar episode, terwyl die trane aanhou drup …
Die Goue Vroue is ‘n paar besonderse vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!
Terwyl die hommeltuig onkeerbaar al hoe hoër en hoër styg, trek die Goue Vroue aan boord so al wat hulle kan om die bengelende tou vroue (Positief, Toortsie, Aalsie, Una en Seegogga) na veiligheid te hys, maar dit gaan erg moeilik…
Skielik gee Scrapy, wat heel voor by die oop deur van die hommeltuig trek, ‘n ernstige bevel en ‘n lenige hondelyf flits tot by die agterste punt van die tou, waar die pragtige, sterk wolfhond met die blou oë die tou vasbyt en viervoet vasskop om saam met die res van die Goue Vroue (Lolla, EkMyselff, Frannie, VirgoC, Kameel, Christa, Appeltjie, WoordNoot, Trommeltjie en Sonell) te trek. Scrapy het nou voor laat los en beweeg heen en weer, al langs die lyn af, terwyl sy roep: “Trek! … Trek! … Trek!” Soos een vrou gehoorsaam die toutrekkers en sommer gou is almal weer veilig in die tuig.
Toortsie gryp Positief aan die arm: “Kom! Ons het versterkings nodig!” Seegogga volg hulle na die kombuisie en dis nie te lank nie, toe sit almal met ‘n bakkie koekstruif, ‘n glasie Franjeliko en ‘n vrygewige sny vrugtekoek. Appeltjie deel blokkies donkersjokolade met lemoenskil gegeur uit. Geleidelik doen al daai soetigheid die jop en die vroue ontspan…
Scrapy sit op die vloer met haar arm om die wolfhond se nek. “Wat is jou naam, meisiekind?” vra sy. “Sal ons jou Willa noem? Willa, die wilde, wollerige wolfhond? Of dalk Juweel, oor jou blou oë, en omdat jy so mooi gehelp het om ons maats weer aan boord te kry? Het jy geweet dat elke kat ‘n geheime naam het wat net daardie kat ken? Hmm, ek wonder of dit ook met honde die geval is? Wat is jou naam, meisiekind?”
Die Goue Vroue het nou weer energie, maar o wee – Frannie sit in ‘n hoekie en snik. “Wat is dit, Fran?” vra Una met haar gebruiklike empatie, en WoordNoot staan ook besorgd nader. “Whaaaa,” huil Frannie, “ek wil huis toe gaan na my toringhuisie toe, ek wil gaan paartie op Rebusfontein, ek wil nie, ek SAL nie in 1984 bly vassit nie!” Grootoog kyk almal na mekaar – hulle het skoon vergeet van daardie spesifieke penarie!
“Julle, kom kyk hier!” roep Lolla van waar sy voor die hommeltuig se rekenaar sit. “Hier is die passies vir die Rocky Horror Picture Show se ‘Time Warp’-dans. Ons sit mos nou vas in ‘n tydborrel, ek dink as ons daardie dans behoorlik dans, dans ons ons skoon uit die gemors uit! Lank voor ek deel van die Goue Vroue was, was julle al lyndansers van formaat, ek’s seker ons gaan dit regkry!” Almal drom saam om die rekenaarskerm en swot gou die bewegings op. EkMyselff kry die musiek op YouTube en die Goue Vroue spring weg met iets wat hulle meesterlik doen: lyndans!
Hulle dans die hele liedjie deur. Reg aan die einde versnel die hommeltuig teen ‘n skrikwekkende spoed en gooi wilde draaie deur die lug …
Christa probeer vervaard om die koördinate van Rebusfontein op die raakskerm in te voer, maar dit wil nie werk nie. “Die hommeltuig is al weer op sy eie missie!” roep sy uit, “Gespe vas, vinnig!!” Die vroue duik elkeen vir ‘n swewende ergonomiese sitplek, klou en gordel vas en byt op hulle tande om nie te gil nie. Uiteindelik lyk dit asof die tuig sy bestemming bereik het; dit sweef rustig ‘n meter of wat bo vaste aarde. Stadig gaan die deur oop en ‘n vreemde figuur betree die tuig.
Die Goue Vroue herken dadelik die silhoeët van ‘n sirkusmeester – die manelpante en die hoë keil, kompleet met ‘n klein swepie in die hand, waarmee die rysige figuur onheilspellend teen sy een stewel tik. “Aha! Nou hét ek julle, maai dears!” sê hy in ‘n diep basstem. “Gedink julle kan my roebels steel en daarmee wegkom? Dink weer en dink beter!”
WoordNoot prewel: “Dis … dis Alexi Popnov, dis sy sirkuslorrie wat ons …” “Sjuut!” waarsku Una, “Wil jy hê hy moet ons almal vermoor?” “Alexi? Dis mos ‘n Russiese naam, hoe kry hy Afrikaans gepraat?” vra Sonell saggies. “Hy’t in die agterstrate van Johannesburg grootgeword,” fluister VirgoC, “Ons is in die vreeslikste gevaar, hy gaan ons nie glo dat die bergies sy geld gevat het nie!”
Versteen van die skrik sit die Goue Vroue in hulle deftige hommeltuigsitplekke, wat nog sagweg op en af sweef van die momentum van hulle onstuimige rit…
Wie gaan ons hier uitskryf? Wie gaan ons terug op Rebusfontein kry? Whaaaa, ek wil net huis toe gaan!
Joshua sit met ‘n vuil, papperige wit ballon in die een hand en ‘n metaalplaatjie, konsertinagewys gevou, in die ander hand. (Die metaalplaatjie is “’n deel van mamma se rekenaar” – een van vele ou masjiene wat al onder die mannetjie se nuuskierigheid deurgeloop het.) Hy druk die twee voorwerpe ritmies teen mekaar en vertel met oorgawe en baie woorde van al die masjiene in sy werkswinkel.
Tyd saam met Joshua (ses jaar oud) is vol vermaak en avontuur. Vanoggend ontdek hy ’n klein gloeilampie, deel van sy Kersgeskenk se stroombaantjie. Hy stroop ‘n kabel sodat die koperdraad mooi oop is, draai dit om die miniatuurhouertjie van die gloeilampie, bedek die spulletjie met isoleerband, sit die kontrepsie op ouma se kamervloer neer en prop die kabel in.
Die geweldige klapgeluid en spattende vonke jaag kleinkind en ouma ‘n geweldige skrik op die lyf. Dis egter ‘n goeie les, want met ‘n bewende onderlippie belowe die man dat hy nooit weer soiets sal doen nie…
Intussen bring sy sussie (agt jaar oud) haar vakansiedae in die bed deur, want sy het griep. Ouma is dit roerend eens met haar raak beskrywing van die smaak van ACC: “Dis 50% sout en 50% soet en dis disgusting!”
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!