Ek het vergeet hoe wonderlik die wind deur ‘n populierbos kan ruis, hoe die blare hulle silwerkante na die wind draai, hoe die sonlig en skadu dieper in die bos flikker…Totdat ek en my kleindogtertjie gister, heel toevallig, langs so ‘n bos stilgehou het. Ons het nie in die bos gaan stap nie, maar koers gekies na die kinderspeelplek waar daar mense was. Hoe graag, hoe graag sou ek met haar handjie in myne deur daardie bos wou loop!
My kinderjare was geseënd met so ‘n bos, onderaan die yslike dorpserf van my tantes in Potchefstroom. In daardie bos was daar betowering en avontuur en net genoeg onrustigheid om die ervaring soveel skerper vas te lê. ‘n Koning van ‘n boom het die middelpunt gevorm, met nog ‘n paar groot bome en die kenmerkende digte opslagboompies daaromheen. Aan die een kant was daar ‘n vergane turksvyheining, waarvan die blare ragfyn geraamtes gevorm het wat mens uit die populierblaarlaag kon opdiep. ‘n Verweerde oranje tou aan die koningboom was ‘n teken dat nie net ek in hierdie bos gespeel het nie. Skemertyd het die bos vreemd en dreigend begin lyk en dan het ek vinnig padgegee na die warmte van my tannies se etenstafel.
‘n Leeftyd later, toe my wêreld om my verkrummel en ek na ‘n skuilplek soek, het die populierbos langs die stroompie anderkant die grens van die klein meenthuiskompleks die deurslag gegee. Nooit kon ek in daardie bos gaan stap nie, want dit was die blyplek van desperate mense. Maar ek kon luister na die ritseling van die blare en kyk hoe die lig deur die loop van die dag die bome verander.
Miskien wag daar ‘n populierbos op my, waar ek sonder huiwering sal kan stap… Sê nou net ek sien Vanilla, die wit boelterriër met die liefhebbende hart, vrolik deur die blare huppel… Sê nou net Skoonlief, my dierbare katjie met die glansende groen oë, kom my tegemoet…
Populierbos
19 Saterdag Sep 2015
Posted Uncategorized
in