Hierdie legkaart is van ‘n skildery deur Josephine Wall, “Spirit of Flight”. Toe my dogter se kunsonderwyseres haar in graad 12 gedwing het om “nie so románties te skilder nie”, moes ek daai juffrou gaan konfronteer het met die fenomenale sukses wat Josephine Wall se hoogs romantiese skilderye geniet – helaas, ek het nie…
Die legkaart het 2000 stukkies. Tydens Covid, toe ek in die VSA “vasgekeer” was, het ek dit die eerste keer gebou. Nou kon ek dit weer opdiep en van nuuts af geniet. Alles wat met vlieg, vaart en wind te make het, is in hierdie skildery. Ek bou vlinders, bytjies en naaldekokers; skuimende branders met vlieënde visse; voëls, vlerke, vere, serpe en blare wat waai in die wind.
Soms, as ‘n seuntjie of twee uit haar “cottage” saam met V huis toe kom, help hulle om ‘n stukkie of twee in te pas. Dan “oe” en “aa” ek, want ek weet dat – naas die bevrediging self – dit altyd lekker is om applous te kry.
Met so ‘n groot legkaart is daar altyd stukkies wat ‘n mens in die verkeerde plekke probeer indwing. Wanneer ek hulle weer moet uithaal, “tsk” ek van ergernis en rakel sommer al my verkeerde lewensbesluite ook op. So raak die proses ‘n katarsis…
Uiteindelik, na maande, is die bouery klaar. Wie weet, dalk is die twee ontbrekende stukkies ‘n metafoor vir die misterie van die mens se lewe.
Vanoggend, terwyl ek nog probeer dut, kom woel Smokey haar in my hare in, sodat die katjie se borskassie presies bo-op my oor te lande kom. Ek hoor haar hartjie klop, tikketikke, seker vier kloppies per sekonde…
Hierdie klein katjie is besig om my uit te put. Bedags slaap hy net te lekker, maar snags as ounooi wil slaap, rits hy dwarsoor die hele bed: bespring my tone, bekruip my vingers, maak ruggie-ruggie en hol draaie deur die kamer. Gelukkig het V vir hom ‘n paar speelgoed gekoop en die Suid-Afrikaanse volstruisveerstoffertjie wat ons in Walmart ontdek het, kom ook nuttig te pas.
Ek kan hom nie verban nie, want buite die deur is daar twee ingeburgerde katte vol argwaan en Honey die hond wat hom met een hap sou kon opeet. Gelukkig is sy ‘n lieweling, maar kuiers tussen die twee kan net onder toesig geskied.
Ontmoet vir Smokey – en moenie dat daardie onskuldige gesiggie julle flous nie!
Vrydagmiddag ‘n week gelede ry my kind met ‘n oop motorvenster (dis somer en warm). Toe sy by ‘n rooi verkeerslig stilhou, hoor sy dwarsdeur die radio se musiek ‘n hartverskeurende gemiaou. Heelbo in ‘n groot struik wat vlak langs die straat op die sypaadjie groei, sit ‘n klein katjie en weeklaag omdat hy nie weet hoe om weer daar af te kom nie. V trek van die pad af en red die outjie uit sy dilemma – maar nou het sy ‘n groter dilemma: wat om met die katjie te maak? Dit is nog bitter klein en by haar huis is daar twee volwasse katte wat beslis nie met ‘n inkommer gediend gaan wees nie. Sy bel haar man en kry die raad om die katjie eenvoudig neer te sit – sy ma sal hom wel kom haal. Skramsweg sien sy ‘n kat wat dalk die ma kan wees, en heel onwillig volg sy P se raad.
Daardie nag hoor my kinders heeltyd ‘n klein katjie skree en die volgende oggend ontdek V dat die klein klits in haar motorenjin ingeklouter en saamgery het huis toe! Toe sy hom probeer gryp, hardloop hy weg en verdwyn skoonveld. Sy sit buite in die koue wind, roep en luister… Stuur ‘n SMS na die bure, want sy vermoed ta sit nou in die buurvrou se motorenjin, en jouwaarlik, toe die buurman die enjinkap oopmaak, kry sy die kleinding uiteindelik in die hande.
Die katjie word plegtig aan my gegee, want “P sal nie vir mamma so maklik nee kan sê nie” – hmm, slimme bewimpelaar, sy! (Ag, asof haar liefderike voorsiener-versorger-man nou ooit vir haar sou nee sê…)
Een van die groot vreugdes van oudword is om mens se volwasse kinders te beleef. Volgens die woordeboek is ‘n rentmeester iemand wat in die afwesigheid van die eienaar na sy eiendom omsien – nouja, my dogter is ‘n ware rentmeester van die skepping.
In die tuin waaraan sy hierdie lente so hard gewerk het, is daar ‘n mosaïekbad wat sy self gemaak het, drinkbak en voëlvoerders, waaraan die astrante eekhorings hulleself ook heerlik vergryp. Een outjie hang onderstebo aan die gladde stoeppilaartjie, want dis al manier waarop hy die saad in die rand van die voerder kan bykom. Terwyl hy stadig ondertoe gly, vreet hy so al wat hy kan, totdat die swaartekrag hom dwing om af te spring. Netnou maak hy maar weer so. Nog ‘n vreugde vir my: genoeg tyd om sulke klein toneeltjies dop te hou en te geniet.
Soos dit maar altyd die geval is, is daar ook donker ondertone – ons leef immers in ‘n gebroke wêreld. Die mooiste twee klein chipmunks neem hulle intrek in die hol boomstam wat reg voor die venster geplant is. Eendag sien ons altwee op hulle “stoepie” sit, maar ‘n paar dae later is daar net enetjie. Sou die slang waarmee die kat Midnight slaags geraak het (totdat V haar voor die slang weggeraap het) die ander chipmunk gevang het?
Midnight is eintlik ‘n binnenshuise kat, maar sy glip elke dag buitentoe en moet dan teruggelok word deur die houer met snoephappies te skud. Sy is ‘n verstommend effektiewe jagter en ag – sy het die tweede chipmunk gevang en vermoor voordat ons haar kon keer.
Een middag hardloop twee duidelik verdwaalde honde vervaard hier rond. Met oneindige geduld lok V hulle nader, totdat sy halsbande aan hulle kan sit en vir hulle kos gee. Die twee bring die nag op haar stoepie deur en die volgende oggend bel sy die een na die ander veearts om te hoor of iemand dalk op soek is na die honde. Die vierde ontvangsdame bied aan om die honde te skandeer vir skyfies wat hulle dalk sal kan identifiseer. Met groot moeite oorreed sy die twee om in haar kar in te klim en ‘n rukkie later keer sy triomfantlik terug: daar is wel skyfies en die maatskappy wat die skyfies bedryf sal nou die eienaar laat weet. ‘n Halfuur later bel die eienaar – hy kom die twee sommer nou dadelik haal. So ‘n gelukkige einde!
Die T-hemp wat V aanhet, se slagspreuk lui: “Be a nice human”. Sy mag beslis maar daardie hemp dra.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!