Amper vier jaar gelede het ek hier kom vertel van die VONKK-liedere, ‘n inisiatief wat toe al lank reeds op dreef was. Gister kon ek weer so ‘n geleentheid bywoon en my verlustig in die strome van seën wat oor die teenwoordiges uitgegiet is.
Deur die loop van die oggend sing ons veertig liedere oor die lewe van Christus en ons geloof, ingedeel in vyf sessies: 1. Advent, Kersfees en Epifanie; 2. Lydenstyd, Palmsondag en Goeie Vrydag; 3. Opstanding; 4. Hemelvaart en die kerk van Christus; 5. Wederkoms en Geloofsbelydenis.
Die orrelis, ‘n briljante, gedrewe jongman wat altyd op ‘n kompliment antwoord: “Soli Deo gloria”, het met sy gebruiklike kreatiwiteit ‘n span musikante versamel: viole, fluit, trompet en klavier. Daar is ‘n lieflike klein koor en twee soliste, gedirigeer deur een van die digter/komponiste in die VONKK-taakspan. Die predikant van die gemeente, self ‘n groot krag in die taakspan, skep ‘n gemoedelike atmosfeer en skakel die liedere aaneen met interessante agtergrondinligting. Les bes, is daar die mense, uit verskillende kerktradisies en windrigtings hier versamel: teoloë, predikante, orreliste, musiekleiers, koorlede, gemeentelede – kundiges en leke almal saam. Een van die gemene delers is ons liefde vir musiek – en ons síng!
Daar is melodieë uit die Skandinawiese lande, die Engelse himneskat, Frankryk, Rusland, Portugal, die Keltiese tradisie, klassieke komposisies, en daar is nuutskeppings hier te lande, soms die toonsetting van ‘n gedig en soms ‘n lied waar die woorde en musiek gelyktydig geskep is. Daar is ‘n Latynse himne uit die 7de eeu en ‘n lied na aanleiding van ‘n gebed deur Augustinus, daar is van die mees antieke liedere wat aan ons bekend is tot by musiek uit die heel moderne tyd.
Die gasheer vertel ons van die “lywige proses” wat ‘n VONKK-lied moet deurloop voordat dit in die kerk gesing kan word. Wanneer ‘n nuwe lied aan die taakspan (teoloë en musici) voorgelê word, is daar bepaalde vereistes waaraan dit moet voldoen. Die melodie moet bruikbaar wees, oftewel singbaar deur gemeentes. Die teks moet teologies verantwoord wees, poëties en in goeie Afrikaans geskryf. Teks en melodie moet ook saamwerk; daar moet ‘n goeie “woord/toon-verhouding” wees. (Een van die liedere word as puik voorbeeld hiervan bestempel, waar die wending in die woorde deur ‘n heeltemal ander toonaard beklemtoon word. Toe die samekoms hierdie lied sing, kom daar ‘n spontane versoek om dit wéér te kan sing, en vir ‘n tweede keer weerklink VONKK 455: Op Golgota.) Daar is ook spesifiek op die volgende kategorieë gekonsentreer, om leemtes in die bestaande Afrikaanse kerkliedereskat te vul: klassiek, kontemporêr, meditatief, multikultureel en kinderliedere. Dit duur twee tot drie jaar voordat ‘n nuwe VONKK-lied op die webwerf beskikbaar gestel word vir gemeentes om dit te begin sing.
Kerksang is die gemeente se bydrae tot die erediens, maar dit kom nie sommer vanself nie. Opnuut besef ‘n mens die groot verantwoordelikheid van ‘n orrelis om, afgesien van tegniese vaardigheid, ook ‘n simpatieke begeleier te wees. Dis interessant om die wenke te hoor oor hoe ‘n gemeente “nuwelied-fiks” gemaak kan word.
Watter voorreg om sulke passie te beleef: vir die Christelike geloof, vir die kerk, vir musiek, vir Afrikaans!
Ná ‘n innige seënbede gaan ons uitmekaar – geïnspireerd en vergeestelik; op wonderlike wyse voorberei op die Lydenstyd wat voorlê…