Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-07, dailyprompt, dailyprompt-1810
Nog altyd het ek teen ‘n gemaklike pas gelewe. As jy my wil om-ellie, moet jy my aanjaag.
Ons ken die beeld van die eend wat so rustig oor die water seil, maar onder die oppervlakte roer sy pootjies woes – nouja, my pootjies is ook ewe rustig!
Die storie oor hasie en die skilpad is deel van my lewensfilosofie: Eendag jaag Hasie en Skilpad resies. Hasie is doodseker hy gaan wen en nadat hy ‘n ent blitsvinnig gehardloop het, gaan sit hy onder ‘n boom om ‘n bietjie te rus, hy het mos baie tyd. Hy raak egter aan die slaap en Skilpad is eerste oor die wenstreep: “Stadig maar seker wen dikwels die beker.”
Almiskie – hierdie stadigheid het my al dikwels in groot penaries laat beland, soos die dag toe ek ‘n vliegtuig verpas het… Al die oggende toe ek my arme kinders laat by die skool afgelaai het… Die kere toe ek druipstert en skoorvoetend met ‘n lang gang langs beweeg het, terwyl ek duim vashou dat my baas nie sien hoe laat ek by die werk aankom nie…
Deesdae het ek die ouderdom as verskoning vir my stadigheid, maar dis sommer nonsens, want ek was nog altyd vertraagd. Ek sou alles wat ek doen, ‘n aks vinniger wou doen…