Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-21, dailyprompt, dailyprompt-1824
My ouma aan moederskant se naam was Anna Francisca Kinnear, née Petersen. Familiename is vir my ‘n kosbare tradisie en ek is bly dat my ouers besluit het om my ouma se tweede naam vir my te gee, ek dink dit is mooi.
Omdat die naam lank is, het dit deur die jare allerlei verkortings en vervormings ondergaan; elkeen verteenwoordig vir my ‘n ander faset van my menswees.
My peetmammie, tannie Katy, het my “Fanska” genoem – dit was haar spesiale liefnaampie net vir my.
In my ouerhuis was ek “Cisca” en baie jare later het my skoonsussies my ook so genoem. As iemand dié naam gebruik, voel ek geliefd.
“Francisca” was my naam op skool en in formele situasies. Gewese Liefling het oorgeslaan daarnatoe, nadat hy my 29 jaar lank “Skat” genoem het – as hy my naam sê, klink dit nie vir my mooi nie. ‘n Erge belediging was my bynaam op laerskool, waarvan ek eers jare later te hore gekom het, nl. “Professor Bokdrol” – sjoe, ek moes die kinders wat my so genoem het verskriklik geïrriteer het! Op universiteit was ek “Squeaky”, as gevolg van my senuagtige laggie een aand tydens ontgroening.
My vriend-met-die-stoep noem my nou nog “Fran”, met ‘n [ae]-klank. Dit was my naam in my jare van pret en plesier. In Amerika het ‘n vriendin van my dogter, toe sy strooimeisie op my kind se troue was, my spontaan “Ms Fran” begin noem en dit was eintlik profeties, want deesdae is ek ook “Ms Fran” vir die seuntjies in die kinderhuis.
Die blognaam “Tannie Frannie”, met ‘n [a]-klank wat rym met “tannie”, is aan my gegee deur ‘n kollega. Dit was vir my ‘n blykie van sy toegeneentheid en ek gebruik dit as blogger om vrede te maak met die feit dat ek reeds deeglik ‘n tannie is. My goeie vriendinne hier in Blogland noem my eenvoudig “Frannie” en Una het dié weer verkort tot “Fran” en selfs “Frantjie” – ai, hoe waardeer ek julle almal se toegeneentheid!
Maar die heel, heel mooiste naam is “Ouma Francisca” – ander oumas sal verstaan…