Ek is mal oor die gewone Amerikaners om my. Hulle is vriendelik en tegemoetkomend, oop en spontaan in hulle reaksies. Ag, hulle is so lief vir vierings en versierings!
Vandag is dit Halloween (verkorting van “All Hallows’ evening”). Ek het my nog nooit veel aan dié fees gesteur nie en vaagweg gedink dis eintlik heidens. Google vertel egter dat die kerk deur die eeue nie daarteen gekant was nie; dat die oorspronklike samhain, die Keltiese fees wat die halfpadmerk tussen die langste en die kortste dag van die jaar gevier het, mettertyd deur die kerk gekoöpteer is, ‘n proses baie soos wat met Kersfees gebeur het. Die kerk eer immers ook die oorledenes, wat goed ingepas het by die bygelowe oor die dooies wat in hierdie tyd glo nader aan die wêreld van die lewendes is.
Halloweentradisies het in die 1800’s saam met Ierse en Walliese immigrante na die VSA gereis en hier ‘n welige groeiplek gekry. Kindertjies trek allerlei monderings aan en klop by huise aan vir trick or treat. Met hulle tipiese vindingrykheid het die Amerikaners ook trunk or treat uitgedink, waar kinders op ‘n parkeerterrein van motor tot motor se versierde kattebak kan gaan om hulle houers met lekkergoed vol te maak. Trunk or treat het oorspronklik gedien om mense se bekommernis oor kinders se veiligheid te besweer, maar vanjaar is dit ook ‘n gawe oplossing vir die Covid-dilemma – V&P se kerk het vanmiddag so ‘n geleentheid aangebied. My kinders werk en hulle moet ook spesiaal aansoek doen om die seuntjies soontoe te vat, dus het ek dit ongelukkig misgeloop. ‘n Gewone stappie in die buurt het egter meer as genoeg daarvoor vergoed, want dit wemel van die versierings wat by hierdie seisoen pas.
Drie temas is vervleg: die oesseisoen (voëlverskrikkers, mielies en pampoene), herfs (blare en klein astertjies wat mums genoem word) en Halloween (spoke, hekse en grillerigheid) en orals pryk die Stars ‘n Stripes.
Diesel is ‘n pragtige groot gemmerkat. V&P het hom kort na hulle troue aangeneem.
Hy lê op my skoot en ek druk my voorvinger op die unieke patroon op sy ou voorkop – watter wonderlike verrassing: sy katgedagtes begin deur my brein stroom! Ek volg met verwondering sy siening van ‘n dag in die lewe van ‘n ounooi en twee katte.
6:00 – Ek’s hongerrr! Waar’s my nat kos? Pirrnjiaau – prr – prr? Ounooi? Is jy wakker? (Kap-kap met sy groot poot, die sterk naels genadiglik net halfpad onder die kussinkies uit.) Miaaau! Komaan, staan nou op! Ek’s hongerrr!
6:30 – Hmm, dit was nou lekkerrrr, maar dis te min! Hoekom gee sy my net ‘n halwe blikkie, daardie ou blikkies is so klein, kat sal nie eens jou poot behoorlik daar ingepas kry nie. Darem skep sy dit op een van my nooi se mooiste teepierings. Miaaaaaaau – nog, nog! Wat bedoel jy, ounooi, eers oor 24 uur? Ja ek weet my nooi het so gesê, maar sy is mos nie hier nie, jy kan maar skelmpies vir my nog gee? Ag okay…ek sal maar die droë kos gaan eet, jigg. Hoe nou? Wat beteken “ontwerperskos”? Wie is Lelik, en gee ek miskien om dat sy maar met goedkoop droë supermarkkos tevrede moet wees? Gmmmf…
7:00 – Daar sit ounooi nou op Midnight se stoel en daar sal sy bly totdat sy klaar met daai plat dingetjie gespeel het. Dalk as ek my kop onder haar hand gaan instamp, sal sy my streel. Aaaa, ja, dis reg, wag laat ek bietjie op hierdie skoot lê…purr, purr, p-u-r-r-r…
9:00 – Ounooi is in die kombuis! (Galop teen groot spoed en spring op die toonbank.) Wat het jy virrr my, hê? Pirrnjiaau, prnnjiaau?? O, niks nie. Skaam jou, ounooi! Ek sal maar op die ronde stoeltjie in die sonnetjie gaan lê.
11:00 – Auww, ek is sooo verrveeld… Wag, la’k vir Midnight gaan pla. (Stap stywebeen en uitdagend nader aan die swart katjie wat ewe rustig half-binne en half-buite haar kartonboks lê.) Ja-a, hier’s ek! (Bespring Midnight, wat haar vreeslik vervies en dit luidkeels te kenne gee.) Ha-ha-ha, kom ek jaag jou gang-af, hoe’s daai vir opwinding – eina, deksels! Kan jy nie ‘n ou grappie vat nie? Ok maar lekker bedons vandag, nè! Okay, ek sal jou uitlos, ek’s in elk geval moeg vir ounooi se woedende krete. Kom jy en ek gaan lê daar voor die venster en as ons wakker word, kan ons die voëls daarbuite dophou. Eendag is eendag, dan vang ons nog vir Nooi ‘n present, sy sal so bly wees…
13:00 – Ek is ‘n ou mannetjieskat. Ou mannetjieskatte mag mos op matte piepie – vir wat skrou ounooi nou so? Ja-ja, ek weet daar’s nie minder nie as DRIE. SKOON. SANDBAKKE. daar onder, maar dis moeite om die trap te klim, mos. O jetetjie, sy’s baie vies, wag, la’k gaan wegkruip…
14:00 – Ounooi is in die kombuis! Kom ek gaan spring op die kas – sy weet darem net hoe om kat se keel en ken en ore te vryf, ai, dis so lekkerrrrrrrrrrr… Hei, ounooi, hoe lyk dit met ‘n stukkie kaas? Hmm, sal ek dit nou vat, of nie? Dis eintlik niks lekker nie, ek wou maar net sien of sy vir my sal gee, my nooi sê mos ek mag nie menskos kry nie, maar ounooiens kroek nogal – neewat, ek laat dit net hier op die kas bly lê.
16:00 – Tyd vir lekker happies! Kom, kom, ounooi, skud daai sakkie en strooi vir ons happies oor die mat dat ons lekker kan snuffel…njam, njam!
17:00 – Nou sit ounooi voor daai plat ding met die skerm op die tafel. Oe, lekkerrr, ek kan my op haar skoot gaan inwikkel. Wil sommer ok kyk of ek my rekord van driekeer binne tien minute opstaan en afspring en weer opklim kan verbeter.
18:00 – Sy gooi vir my ‘n stukkie vleis, maar dis nie so ‘n lekker happie nie…sal dit maar net hier op die vloer los.
19:00 – Dit word nou vroeg donker. Ek hou van die winter, want my baas skakel die lugverwarming aan, dis goed vir ‘n ou kat se lyf. Ek mis my baas vanaand, hy is my gunstelingmens op die hele aarde. Hoop hy kom more kuier, dan sê hy altyd: “What’s up, li’l Dies?” Wanneer hy klaar gras gesny het, gaan lê hy op die bank en roep my om by hom te kom lê. Dit doen ek grrrrraag!
22:00 – Ounooi sal nou-nou kom inkruip, ek broei solank die bed vir haar warrrrm. Dis lekker om teen haar elmboog te slaap, heelnag lank. Dan is ek ook sommer byderhand om haar môreoggend vroeg wakker te maak…
In die middel van die gemmerkat Diesel se voorkop is ‘n patroon wat mens uitnooi om jou voorvinger daarop te pas – ek wonder hoekom? Sou mens dalk, as hy lank genoeg stilsit, so kon agterkom wat hy dink?
Ons ry ‘n uur lank na die Little Buffalo State Park en gaan stap met Honey die hond deur die woud. Dis lieflike herfsweer, effens bewolk met kolle sonlig wat die herfsbome pragtig belig.
Smal teerpaadjies, bedek met ‘n blaretapyt, kronkel deur die bome.
Groen mos vorm ‘n pragtige kontras met die boomstamme en herfsblare.
In hierdie waterryke wêreld hoor mens stroompies kabbel, wat later in die Holman Lake inloop.
Daar is ‘n ou “covered bridge”, wat van ‘n dak voorsien is om die houtkonstruksie teen wind en weer te beskerm. Tussen 1830 en 1870 is ongeveer 1,500 sulke brûe in Pennsylvania gebou – hierdie een is van sy oorspronklike plek geskuif om te keer dat Holman Lake dit sou oorstroom.
Ons ry terug deur ‘n ou dorpie, Newport, wat teen die einde van die negentiende eeu groot voorspoed as ‘n knooppunt van vervoer beleef het. Daar is ‘n vervalle ou stasiegebou wat ek dadelik eien omdat die treintjie van Disney World se stasie net so lyk. Toe ek oe en aa oor die ou huisies, clapboard-dubbelverdiepings reg op die straat, met lang verandas en spits dakvenstertjies, ry P spesiaal ekstra draaie sodat ek nog kan kyk.
Die aand kom eet vriende van V&P, wat dieselfde werk as hulle doen. Ek verluister my aan die gesprek oor die wel en wee daarvan – hoe geniet ek hierdie insig in my kinders se lewe. Ons sit buite op die deck, dis nog nie te koud nie. Daar is rooirand-wolke met sonsondergang en ‘n blink skyfie maan skuif stadig op sy boogvormige pad van noord-oos na noord-wes.
Herinneringe aan die dag smaak so soet soos die opgepofte rosyne in die heerlike kos wat V gemaak het.
Ek het die vaas weer hier kom kry, ses jaar nadat ek dit VSA toe gebring het, die eerste keer toe ek by my dogter en haar man kom kuier het. Destyds het ek daaroor geskryf, nog op LitNet se blogs, maar ek skryf weer, want toe Scrapy ons nooi om oor ‘n voorwerp te skryf, was hierdie een die eerste waaraan ek gedink het.
Die swaar vaas is van gesnede kristalglas, 24 cm hoog, geskep deur wonderlike vakmanskap, soos die skerp kante van die patrone bewys. In die glasdieptes dans talle reënbogies rond.
Enigiets wat mens in sy verwelkomende dieptes indruk, verander in ‘n rangskikking, vanweë die slim vorm wat sorg dat elke blom en takkie tot sy reg kom.
Dit was ‘n trougeskenk aan my ouers, wat tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument getroud is – daar was, as ek nou reg onthou wat my mammie vertel het, ongeveer 100 paartjies wat op 16 Desember 1938 daar getrou het, onder die streng regie van Anna Neethling Pohl, nogal. Hoe wens ek dat ek geweet het wie vir my ouers die vaas gegee het.
Toe ek drie jaar oud was, brand die stoorplek af waar my ouers se besittings geberg was terwyl hulle gewag het om in hulle splinternuwe huis in te trek. (Die naam van daardie maatskappy was vir altyd ‘n skeldnaam in ons gesin.) Daar het niks oorgebly nie, maar my mammie het in die puin gaan grawe, ‘n paar boeke met verskroeide kante gered en ook die vaas ontdek: pikswart verbrand, maar verder ongeskonde.
Vir my is daardie vaas die verteenwoordiging van my mammie se moed en deursettingsvermoë. Nou staan dit in my dogter se huis, die kleindogter vir wie my mammie so innig lief was.
Frannie hoor die oorbekende melodie oor Rebusfontein se dorpsmeent weerklink. Sy is lief vir die sangeres se fluweelstem, die onweerstaanbare Afrikaritme, die ondertoon van heimwee. Vanuit haar toringvenster sien sy hoe die Goue Vroue daar onder naderkom en begin lyndans, soos net hulle kan. Hulle het immers hulle vaardigheid op Dullstroom en in mnr. Barnum se sirkus bewys.
Una is die voorbok, sy het mos nou al hierdie dans mooi onder die knie, het dit tot selfs al amptelik saam met haar hoërskoolprotegés gedans.
Frannie se voete begin jeuk. Nie verniet het sy op haar dag by ‘n spanbou-potjiekos in die veld saam met haar kollegas op maat van Mandoza se Nkalakatha gedans nie! Sy het agter E ingeval en haar bes gedoen om by te hou; in die proses ‘n getroue vriendin bygekry, wat agterna met ‘n sagte glimlag haar goedkeuring van Frannie se poging bevestig het (“That’s right, F! Dance!!”) en jare later nog vir haar klein gunsies gedoen het.
Sy onthou haar verstomming die eerste keer toe sy van naderby met haar mede-Afrikane se spontane danskultuur kennis gemaak het. Dit was ‘n skreeusnaakse vermenging van kulture: ‘n kersboom vir die uitgewery/drukkery se werknemers en hulle kindertjies, op ‘n warm somersdag, met ‘n swetende kersvader in ‘n rooi pak, kompleet met mus met watte-omboorsel. (Die arme jongeling was die mees junior werknemer en kon nie weier om hierdie rol te vervul nie.) Uit erkenning vir hulle werkgewer se vrygewigheid het die vroue spontaan begin dans; so ook hulle kleuters. Ai, die ritme in daardie klein lyfies!
Lank kyk Frannie nou al na die talle Jerusalema-video’s; glimlag meewarig oor onbeholpe pogings; dink meerderwaardig oor hoe Afrikaritme ook deur haar are vloei en hoe sy sommer een-twee-drie hierdie dans sal regkry. Sy hardloop teen die wenteltrap af en neem haar plek vol bravade in.
Die eerste ruk gaan dit goed, maar kort voor lank besef Frannie sy het, soos altyd, haar fiksheid hopeloos oorskat. Sy ken wel die passies, maar haar asem begin jaag, haar knieë raak lam, haar voete wil nie meer hoog trap nie. Hoekom hou die musiek net aan en aan, weet daai vrou met die heuningstem dan nie wanneer om op te hou nie?
Frannie se skouers pyn, sy hyg, voel duiselig… Sy verloor haar balans en stamp teen die Goue Vrou langs haar. Dit veroorsaak ‘n domino-reaksie en die presiese formasie is daarmee heen – party dansers giggel, ander tsk-tsk besorgd.
Plat op die grond sit Frannie, kop onderstebo, skaam tot in die stof toe, terwyl Jerusalema oor die meent weerklink…
My dogter vertel dis gistermiddag buitespeeltyd by die student home. Sy en Honey die hond sit in die herfssonnetjie en P en die drie seuntjies is iewers anderkant die huis doenig. Toe kom die vier stuks om die hoek, elkeen met ‘n yslike stok in die hand. V sê die manier waarop hulle stap, het haar amper dramatiese agtergrondmusiek laat hoor. P sien Honey en sê opgewonde vir die seuntjies: “Look! We found a wolf!!” Dan stap hulle verder op hulle verkenningstog, die een so gelukkig soos die ander.
Volgens P het hulle Minecraft gespeel. Hoe vindingryk, om ‘n bekende en geliefde videospeletjie na die buitelug te verplaas en die kinders aan die beweeg te kry – met rêrige stokke en ‘n lewendige wolf.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!