Jare gelede het my dogter in ‘n boekwinkel gewerk voordat sy by Disney World sou gaan werk. Die winkel het pragtige legkaarte in voorraad gehad en sy het een teen personeelafslag gekoop, ‘n Josephine Wall-prent van 1500 stukkies met die mooiste kleure en ‘n metaalglans. V en ek het die legkaart met vreugde gebou – ek onthou nou nog toe ons die heel laaste stukkie ingepas het. Toe het sy dit laat raam en daardie legkaart het orals saam met my geswerf, teen verskeie slaapkamermure gehang, totdat ek dit laasjaar amptelik aan my kleindogtertjie Gabby “bemaak” het.
Dit was die begin van ‘n kosbare gewoonte: as ek en V saam kuier, bou ons graag legkaart, verkieslik ‘n Josephine Wall. Vanjaar se kuier is dit weer ons kans om saam te bou, ou legkaarte van vorige kuiers en ook nuwes. Saans as hulle pligte as huisouers afgehandel is, kom sit V by haar hoë eetkamertafel en bou ‘n rukkie saam met my.
Nou bly ek by die twee katte in hulle huis terwyl die kinders steeds op kampus werk: twaalf dae aan, drie dae af. Ek ontdek ‘n legkaart uit my eerste VSA-kuier en begin bou. (Dis moeiliker as dit net een mens is wat bou!)
V maak graag goed bymekaar wat sy in een van haar handwerkprojekte sou kon gebruik. Ek gaan haal ‘n yslike geraamde advertensieprent uit die basement om op te bou; sy het dit vir ‘n dollar opgeraap toe ‘n klerewinkel toegemaak het. Dit pas bo-oor die ronde eetkamertafel en werk heel goed, behalwe dat van die stukkies aan die katte se pote vassit as hulle oor daaroor loop. (Natuurlik gaan hulle daaroor loop – ounooi moet deeglik besef sy is net ‘n gas en eintlik behoort hierdie hele gebied aan hulle.)
Hoekom hou ek so van hierdie tydverdryf? Dis lekker as die stukkie wat mens gedink het daar moes kom, netjies inpas en nog ‘n deeltjie van die geheelbeeld onthul. Uiteraard peins ek oor die figuurlike toepassing van hierdie letterlike aktiwiteit. Hoe maak ek sin van my deurmekaar lewe, versplinterd in ‘n duisend stukkies? Waar pas hierdie verwarde jaar? Wanneer word die heel laaste stukkie ingepas…
Kry Frannie toe ‘n WhatsApp van Silver – Kameel het vir hom haar nommer in die VSA gegee: “Hei, Frannie, kom ons gaan ry Route 66 op my Harley. Google bietjie, dan laat jy my weet.”
Frannie begin googleloer en hou van wat sy lees: “The old highway is a road of dreams, a corridor of neonsigns and gaudy roadside attractions.”
Highway 66 is reeds in 1926 oopgestel, deel van die ou VSA-hoofwegstelsel. Dit was oor die 2000 myl lank en het van Chicago, Illinois deur Missouri, Kansas, Oklahoma, Texas, Nieu-Meksiko en Arizona, tot aan die kus van Kalifornië gestrek. In 1985 is dit amptelik van die hoofwegstelsel verwyder nadat die nuwer Interstate Highway System dit vervang het.
Ondernemings in klein dorpies langs die roete het voorspoed beleef danksy die swaar verkeer op ‘n hoofweg wat oos en wes verbind het. Wedywering om klante te lok en aandag te trek het vir die wonderlikste advertensiefoefies gesorg. Soos wat die groter deurpaaie oorgeneem het, moes baie van hierdie besighede toemaak. Gelukkig het gemeenskappe ingespring om die betowering van die ou roete te behou en dele van die oorspronklike roete is vandag toeganklik as “Historic Route 66”.
Die ikoniese highway shield, met dieselfde buitelyn as ‘n polisiewapen, is orals langs die pad te sien, net soos die Stars ‘n Stripes wat die patriotiese Amerikaners so graag tentoonstel.
Daar is verlate gas stations met outydse pompe, American diners wat jare gelede reeds toegemaak het, genadiglik ook eetplekke wat steeds kos bedien, soos Mr D’s Diner in die woestynlandskap van Arizona.
In Oklahoma bied die nuwe Pop’s Restaurant ‘n keuse van 700 geure soda, dit wil sê gaskoeldrank. ‘n Reusekoeldrankbottel, toevallig 66 voet hoog, skyn saans soos ‘n reënboog danksy LED-ligte.
Iets besonders is kolossale veselglasbeelde (18 tot 25 voet hoog) wat vroeërjare gebruik is om aandag te trek en te adverteer. Van die beelde het motors se knaldempers vasgehou – vandaar die bynaam “Muffler Men”. Die oorspronklike gietvorm se linkerhand het ondertoe gewys en die regterhand boontoe. Verskillende voorwerpe is dan in die hande ingepas. Van die beelde is ook spesiaal aangepas, soos Chicken Boy wat aanvanklik bo-op die dak van ‘n restourant was wat hoender bedien het en Gemini Giant wat die 1960’s se belangstelling in ruimtevaart verteenwoordig het en voor die Launching Pad padkafee staan. Die restaurant is in 2019 heropen nadat dit jarelank toe gestaan het.
Daar is ook ‘n yslike pienk olifant en ‘n blou walvis langs Roete 66 te sien; Cadillacs waarvan die neuse in die grond begrawe is; ‘n motel met sement-wigwams as kamers; enkele “world’s largest”-voorwerpe – “Welcome to ‘merica!”
Frannie WhatsApp terug: “Ek’s in – kom laai my op in Pennsylvania. Wanneer en hoe laat?”
Reëlings word getref en sommer gou trippel Frannie met die voorste trappies af na die Harley wat in die huis se oprit sit en brul. Sy’s effens skrikkerig vir die langpad, maar wat – sy het mos nou darem al ‘n hele paar Suid-Afrikaanse draaie saam met Silver op sy Harley gegooi. Na ‘n vrolike groet wrooma hulle straat-af tot aan die onderkant van die bultjie waar hulle regs moet draai, op pad snelweg toe.
O wee… Of dit die weersiens is en of hy net vlugvoos is – Silver is nie sy gewone effektiewe self nie. In plaas daarvan om regs te hou, gooi hy ‘n wye draai en begin aan die linkerkant van die pad ry, reg teen die aankomende verkeer in. As hy besef wat hy aanvang, ry hy links van die pad af en die Harley kantel stadig om.
Frannie het haar vrekgeskrik. Sy sukkel regop en gooi haar helm op die grond neer. “Is jy BESIMPELD?” gil sy in Silver se besorgde gesig. “Die Amerikaners hou REGS!” Sy pluk haar rugsakkie terug oor haar skouers en begin briesend aanstryk terug huis toe. Silver staar haar verdwaas agterna, tel dan sy Harley met een woedende gebaar regop en kies koers in die teenoorgestelde rigting.
Frannie het nog nie weer van hom gehoor nie, maar volgens Toortsie swerf hy in die Overberg rond met ‘n verflenterde hippiebus…
Ek het hierdie stukkie ‘n jaar terug geskryf, ons nuutste baba is nou al ‘n jaar oud en ek het haar nog nooit vasgehou nie, die verlange raak soms baie erg. So hierdie is vir almal met familie oorsee:
Eens op ‘n tyd het ontdekingsreisigers op hulle skepe geklim en die hele wêreld verken. Hulle het moed bymekaar geskraap en gehoop dat in die tog om hulle plek te vind hulle nie van die aarde sal afval nie, of deur die groot seemonster opgevreet word nie. So het ons voorvaders hul tuistes gevind, en ons beland waar ons gebore word.
Mens word deel van jou land en sy mense, hulle is in jou bloed, jou kultuur is in jou. Daarom is dit vir ons so moeilik om weer wortels op te tel en iewers anders te gaan inskiet. Maar deesdae is dit die norm, ons almal het familie en vriende…
Dis ‘n lieflike herfsoggend. Daar was ys op die dak van P se kar; die dogwood se blare het almal oornag boergonje verkleur; die lug is daardie verstommende herfsblou.
My kinders kry vanaand gaste, ‘n oud-Suid-Afrikaner en sy Brasiliaanse vrou. Hulle bring skaaptjops; V bak tipsy tert. Sy speel dieselfde Deff Leppard-liedjies (“Pour a Li’l Sugar on Meeee”) wat sy gespeel het toe sy in st. 9 die dekor vir die matriekafskeid op ons sitkamermat geverf het.
Sedertdien het die lewe ons albei al op kronkelpaadjies en ver paaie gelei en tog – hier is ons altwee, gelukkig in mekaar se gawe geselskap.
Dit was eintlik maar ‘n stoorkamertjie, met ‘n groot ingeboude kas en net genoeg plek vir ‘n divan,* maar daar was ‘n lekker groot venster wat nogal noord (!) gewys het. Dit was in die dae toe huise se vooraansig deur die straat bepaal is, maak nie saak hoe die son sy baan deur die dag gevolg het nie. My tannies se groot dubbelverdiepinghuis in Potchefstroom se vooraansig het wes gewys. Dit was ‘n pragtige ou huis, nog met die patroonplafonne – die enigste noordekamertjie het egter net ‘n gewone plafon gehad. Die res van die noordekant van die huis is deur die houttrap en ‘n stoep in beslag geneem, maar in daardie kamertjie op die boonste verdieping het die son in die winter heerlik geskyn.
Wanneer ons gesin by my twee tantes gaan kuier het, is ek en my boetie soos koninklikes ontvang en onthaal. Daar was boerekos, lekkers, my tannie Gertie se soetkoekies en Boerstra Bakkery se veerligte konfyttertjies. Die enigste voorwaarde wat ooit aan ons gestel is, was dat ons soetjies moes speel sodat ons nie my hoogs bejaarde ouma sou pla nie. Ons het heerlik op die groot dorpserf hopscotch gespeel en onder die groot eikebome op die sypaadjie akkerdoppies op die leivoor laat afdryf wanneer dit die straat se waterbeurt was.
Moeg gespeel, het ek in “my” kamertjie in die son gaan lê en van die tydskrifte gelees wat daar opgestapel was: die Reader’s Digest, Huisgenoot en Brandwag. O, en daar was die wonderlikste ding: ‘n pofferige bulsak op die divan, waarop ‘n kind kon spring sodat sy na daardie eerste lugontploffing stadig in die veresagtheid insak. Laatnag kon mens die treine verweg hoor fluit en jou verlustig in die geborgenheid van ‘n veilige slaapplek.
Daar was nooit enige twyfel oor wie in daardie kamertjie sou slaap nie, as die oudste het ek dit eenvoudig geannekseer. Ek onthou nou nog die gevoel van verontregting toe ek – reeds uit die huis uit – weer eendag saam met die gesin in Potch gaan kuier en agterkom dat die kamertjie van eienaar verwissel het: dit was nou my boetie se domein. Dit was my eerste ontnugtering met die grootmenslewe; dit was, helaas, nog lank nie die laaste nie.
* ‘n Deftige naam vir ‘n baie basiese bed met vier plat stukke yster elkeen soos ‘n u gebuig om die pote te vorm, wat aan die ysterraamwerk vasgesweis is. Die kettinkies wat in diamantvorms binne die raamwerk saam met ystervere gespan is om die mat vir die matras te vorm, kon vreeslik kraak en kreun as die bed al oud was.
Donut kuier hier vir die naweek! V het ‘n hondekam gekoop, die generiese weergawe van ‘n patent wat die “Furminator” genoem word. Op die houtstoep kam sy Donut en die herfswindjie warrel die plukseltjies goue hondehare wat nie in die kam vassit nie ewe feestelik deur die sonlig. Vanwaar ek sit, kyk ek reg van voor in die ou se hondegesig vas; hy kyk behoorlik oormekaar van lekkerkry.
My pa was baie lief vir my, ek was vir hom ‘n bron van vreugde en vermaak. Ek onthou hoe hy eendag gelag het toe hy na my breë, plat voetjies gekyk het, “sandtrappers” het hy hulle genoem. Die spasies tussen my tone het hom geamuseer.
Nie vir my nie! Dit was altyd moeilik om skoene te kry wat breed genoeg was om al daai toonspasies te akkommodeer en kort genoeg om nie van my hakke af te glip nie. Te wyte aan die modieuse skerppuntskoene van my jeug sit ek vandag met toonknobbels. As ek ooit die brein agter die Suid-Afrikaanse skoennaam “Froggies” ontmoet, sal ek daardie persoon se voete uit dankbaarheid soen. Nou is daar darem mooi skoene wat gemaklik pas.
Ofskoon skoene nooit vir my ‘n passie was nie, onthou ek tog hier en daar ‘n besonderse paar. Seker die mees uitspattige skeppinge wat ek ooit gedra het, was ‘n paar sandale iewers in die sewentigerjare van die vorige eeu. Dit was dik houtplatforms met leerlelle daaraan vasgekram, wat oor die brug van die voet met leertoutjies opgeryg het. As ek straat-af gepiekel het, het ek kompleet soos ‘n perd geklink.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!