Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-11, dailyprompt, dailyprompt-1814
Om lid van ‘n facebook-groep vir Suid-Afrikaanse vrouens in Kanada en die VSA te wees, is om daagliks verlange raak te lees.
Ek gaan vir my ‘n ontspanningsvoertuig koop, oftewel ‘n RV = “recreational vehicle”. In sy kombuisie gaan daar Vyf Rose-tee en karringmelkbeskuit wees, Zoo-koekies en Suid-Afrikaanse sjokolade. Ons gaan die langpad vat en orals staning maak, sodat die SA vrouens kan kom kuier.
In die sitgedeelte sal ek die kis staanmaak – die Pandora-kis wat ek met Suid-Afrika gaan vul.
Wanneer mens die deksel lig, stroom die warm Afrikasonlig daar uit, die son wat soggens goud straal, smiddae die wêreld oker verf en sorg vir die wonderlikste sonsondergange.
Daar gaan koue Weskusbranders wees; pluime seeskuim soos by Tsitsikamma as die branders teen die rotse breek; warm suidkusbranders wat oor goue, growwe sand uitspoel.
Daar gaan bome wees: hardekool, geelhout, karee, kremetart, kokerboom, sambreeldoring – en ook die vreemdelinge wat so tuis geraak het: Stellenbosch/Potchefstroom se eike en Pretoria se jakarandas.
Daar gaan Bosveld wees, met ‘n kameelperd en ‘n rooi miershoop. Af en toe gaan ‘n hadida ergerlik skreeu.
As ek dit oor my hart kan kry om toegangskaartjies te verkoop, gaan ek ryk word.