Maandag lê die brief in die posbus. My dogter roep my om dit self te kom oopmaak en toe ek verbouereerd met die koevert sukkel, sit my hulpvaardige skoonseun ‘n handjie by. Die enkelvel is mooi dik, subtiel gekleurde papier, met ‘n fyn patroontjie wat ‘n watermerk van die Statue of Liberty omraam. Die fakkel wat sy vashou, reik tot by die opskrif “NOTICE OF ACTION” en haar voete staan stewig heel onder op die bladsy. Ek laat dit op my tafel lê sodat ek dit heel week kan bewonder.

My aansoek om permanente verblyf in die VSA is goedgekeur!

Die opregte blydskap van my kinders vang my heeltemal onkant. Hoe kan ‘n mens so bly wees oor ‘n sware verantwoordelikheid wat jy jouself nou op die hals gehaal het?

Ek voel soos die spreekwoordelike hond wat ‘n bus gevang het – wat maak ek nou daarmee?

Danksy die bemiddeling van iemand besonders is ek al geruime tyd deel van ‘n Facebook-groep van Suid-Afrikaanse vroue in die VSA en Kanada. Daar lees ek oor praktiese reëlings, versugting na Suid-Afrikaanse lekkernye, bittere verlange na mense en landskappe. Emigrasie is nie vir sissies nie!

Maar vir hierdie sissie, wat nie meer die daaglikse eise van ‘n werk hoef te trotseer nie, vir wie die mooiste slaapkamer met liefde voorberei is, wat haar eie Amerikaanse katjie present gekry het, is dit ‘n tuiskoms in “groen weivelde, langs waters waar rus is”.