• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Desember 2021

Oujaar 2021

31 Vrydag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 33 Kommentaar

Die Oujaar is nooit my maat nie. Toe ek ‘n kind was, was daar Oujaarsdienste wat om 23:00 begin het, sodat ‘n mens om middernag in intense, eerbiedige stilte daar in die kerk die nuwe jaar kon binnegaan.

Laterjare was daar paarties – maar maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, die onderliggende heimwee kon ek nooit behoorlik ontvlug nie.

Daar was ‘n heerlike Oujaarsdans in Mosselbaai, opgevolg deur middernagtelike geswemmery en ‘n vars hamburger wat ‘n wildvreemde hand deur die venster vir my aangegee het toe ek “Yes!!” geantwoord het op sy vraag: “Would anyone like a hamburger?”

‘n Gesellige braaivleis op Klapperkop het uitgereën, maar die skouspelagtige weerligstrale oor my geliefde Pretoria het daarvoor vergoed.

Daar was skrynende hartseer tussen baie vreemde mense terwyl ek ‘n vonkstokkie vashou en “Sal ons ou kenn’se” saamsing.

Op die vooraand van 2020 het ek saam met my kinders in die VSA en van hulle vriende gekuier en domino’s gespeel tot middernag toe. Dit was groot pret, maar in die lig van wat daardie jaar met die wêreld gebeur het, het ek vroeg gaan slaap op die volgende Oujaarsaand, wat 2021 ingelui het.

Hoe nou gemaak met vanaand? Die heeldag al is ek net eenvoudig befoeterd, probeer ek werk met klein Joshua se knaende geselsies wat my konsentrasie versteur. Ek hardloop buitentoe in my pijakkies om die asblik uit te sit, want die kinders slaap laat en die vullislorrie is vroeg. Ek vererg my vir die motorhek wat nie behoorlik werk nie, vir die pap vlieë, vir die hitte van die dag…

Net voor ‘n donderstorm vanmiddag welkome lafenis bring, bel Kameel. Watter heerlike verrassing! Dis die eerste keer wat ons oor die foon gesels en haar mooi wense vir die nuwe jaar gee my sommer moed vir 2022. Ek begin my seëninge tel…

Ek weet nou nog nie of ek vanaand gaan wakkerbly nie, maar ek weet wel dat ‘n gunstelingblogger my op hierdie Oujaar moed gegee het. Daarom wens ek julle almal graag ‘n hoogs voorspoedige 2022 toe. Dankie vir julle skrywes, vir die deel van vreugde en verdriet. Julle is kosbaar.   

In die oomblik – 2021(32)

30 Donderdag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 9 Kommentaar

Christa vertel vandag so mooi oor haar en haar kleinseuntjie, sy maak my ook sommer lus om te kom vertel.

Joshua ontdek twee lang stroke sagte naaswit nagemaakte pels – die oorblyfsels van ‘n manteltjie wat ek op Laatlam se troudag vir my nuwe skoondogter gegee het (ek het haar toe nog nie goed genoeg geken om te weet dat sy nie sommer maklik koud kry nie, maar sy het dit met grasie gedra, ter wille van haar ou skoonma).

Dadelik sien Joshi die ooreenkoms tussen Lelik die wit kat se kort pels en hierdie materiaal raak. Ek het lanklaas iets so snaaks gesien soos die maer seuntjielyfie met die stroke pels om hom gedraai: “Kyk, ek is Lelik!” 

Koester dit!

22 Woensdag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 8 Kommentaar

Gister het my hele lewe voor my geestesoog afgespeel, want ek het die ou houtkoffer wat nog aan my pa behoort het, uitgepak.

Ou foto’s, notas, kaartjies, briewe, kindertekeninge, resepte in handskrifte wat nooit weer geskryf sal word nie, flenters papier met treffende woorde…

Deur dit alles beweeg hierdie Frannie, van onnosele jongvrou, verby bruid, deur vrou-en-ma-wees, sukkel-sukkel deur woestyntyd, tot nou waar sy as ouma kan terugkyk, wonder, wroeg en mymer…

Dan besef sy opnuut: Oomblikke is daar om gekoester te word.

‘n Klein seuntjie met ‘n blou hempie spring uitgelate in die oggendlug op ‘n trampolien, besig om te spog vir sy gehoor, sy mamma wat op die stoeptrappies sit…

Ouma weet die dag is jonk en fleurig, en dat sy en die dag en die seuntjie teen laatmiddag gaan verlep, maar vir nou beleef sy vreugde.

Photo by Suzy Hazelwood on Pexels.com

In die oomblik – 2021(31)

20 Maandag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 22 Kommentaar

My kinders in die VSA het getrek en is besig om hulle nuwe huis mooi te maak. Vroeg op ‘n bewolkte Maandagoggend kry ek die mooiste foto’s van my dogter se nuwe stoep. Midnight het klaar een van die katrakke betrek en Diesel dink hy is kaas, daar tussen die bont kussings.

Hoe verlang ek na my kind! Sy laat alles om haar blom.

In die oomblik – 2021(30)

11 Saterdag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 12 Kommentaar

Vanmiddag is dit weer sulke tyd: ouma probeer haar bes om Gabby te leer dat mens bly is oor die HULP as iemand jou HELP. Slim kindjie wat sy is, snap sy die beginsel.

Gabby juig: “Ek het my inner Afrikaans laat shine…”

Ouma: 🙄

Afrika is nie vir sissies nie

05 Sondag Des 2021

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 20 Kommentaar

Dit sous. Dit lyk asof iemand in die wolke aanmekaar derduisende emmersvol water oor ons omkeer. Halfvyf op ‘n somersmiddag en dis amper donker. Reg bokant ons blits die weerlig en rammel die donderweer so te sê tegelykertyd. In die tuin val ‘n dooie boom bo-oor die klimraam om; in die kombuis stroom die reënwater dwarsdeur twee kaste deur ‘n voorheen onbekende lekplek waar ‘n dakteël geskuif het. Maar in Gauteng mag mens nie oor reën kla nie.

Onder ’n afdak is my skoondogter besig om spaghetti oor ‘n vuurtjie in die Weber te kook. In die kombuis het sy maalvleis op die gasstofie aan die gang, gemaak met geurige gekapte groente wat haar pa gegee het toe sy gister die kinders by haar ouerhuis gaan bad het.

Vandag is die derde dag wat ons sonder krag sit – ‘n substasie het afgebrand, daar is straatgerugte van sabotasie. Nuwe besems van die stadsraad hou ons ingelig en dit help nogal, al is die nuus strykdeur sleg: die prognose is nege dae sonder elektrisiteit. Laatlam is iewers in die strate op soek na ‘n garage wat nog olie vir die “gennie” in voorraad het – hier in ons buurt is alles uitverkoop. Dankietog vir die kragopwekkertjie, wat ‘n onlangse aanwins is, al raas hy soos ‘n trekker en kan hy nie eens ‘n ketel kook sonder om uit te klink nie – ten minste sorg hy vir wifi so af en toe. En hy maak Joshua (5 jaar oud) se hartjie bly want dis nog ‘n masjien waaraan die kleinman hom kan verwonder.

So in die strome reën is Joshua besig om met die pienk sambreel en moddervoete heen en weer tussen die huis en die afdak te loop om “seker te maak of mamma okay is”. Sussie Gabby staan by mamma in die koue en hou vir haar en die spaghetti dop. Ouma dwaal bekommerd in die huis rond…

‘n Jaar gelede was ouma in Amerika, die “land of plenty”, waar ‘n sneeuskraper binne ‘n uur nadat dit begin sneeu het, reeds op en af in die strate jaag om die paaie skoon te skraap. Daar gebeur kragonderbrekings slegs vanweë natuurrampe en vullislorries met ‘n bemanning van een ry gereeld alles weg wat op die sypaadjie uitgesit is, al moet die bestuurder uitklim en voorwerpe wat die lorrie se knypers nie kan vasvat nie, self oplaai. Die kersboom was opgeslaan en versier, met talle mooi toegedraaide geskenke op die vloer onder sy takke, op die rooi kersboomvalletjie waar Midnight die kat so graag lê. Buite was daar skilderagtige sneeu; binne was daar vredige stilte of andersins kersliedere.

Hier donder die weer en die kragopwekkers brul. Die vet reëndruppels druis op die dak, hoor en sien vergaan. Daar was nog geen kans om ‘n kersboom te versier nie, ons is te besig met noodplanne vir oorlewing. Wat kersgeskenke sou gewees het, is nou duur petrol en olie vir die raasbek in die garage. Ouma se blogtyd is erg aan bande gelê en wanneer daar wel sein is, moet sy in die sitkamer gaan sit en te midde van die gesinsgeroesemoes probeer dink.

Maar vanaand vergryp sy haar aan die lekker spaghetti bolognaise wat haar slim dogter gemaak gekry het.

Voorwaar, Afrika is nie vir sissies nie. Dankietog vir voorgeslagte van Hugenote, Voortrekkers, grootwildjagters, bittereinders en ander hardkoppiges!

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Boeke
  • Warmte in die hartjie van die winter
  • Bewaar die knikkertjie
  • Die Goue Vroue hou vakansie
  • In die oomblik – 2022(16)

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Boeke
  • Warmte in die hartjie van die winter
  • Bewaar die knikkertjie
  • Die Goue Vroue hou vakansie
  • In die oomblik – 2022(16)

Nuutste kommentaar

Anne oor Boeke
scrapydo2.wordpress.… oor Boeke
de Wets Wild oor Boeke
granny1947 oor Boeke
scrapydo2.wordpress.… oor Warmte in die hartjie van die…

Argief

  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

Here Since 1975

Never Too Old To Try Something New

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige navorser

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

~ 'n Weblog vir die Afrikaanse digkuns ~

Masha du Toit

The Fynbos Blog

A year in the Cape Floral Kingdom

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

2020 - Nieu Bethesda soutenpeper's blog deur Niël Stemmet

nostalgie - die toekoms van kos en leef lê in die verlede

vetgirlmemoires.wordpress.com/

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 222 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...