Joshua (amper ses jaar oud) is ‘n mannetjie wat weet hoe om twee en twee bymekaar te tel. Hy weet sy ouma is verslaaf aan tee en dat sy nooit uit die kombuis kom sonder ‘n koppie tee in die hand nie. Vanmiddag gaan soek ouma bietjie stilte want die twee kleinkinders raas lekker in haar kamer. Joshua roep ondertoe van bo af: “Wat maak jy, ouma, drink jy tee?”
Ouma, waar sy op die bank sit: “Nee, ek het ‘n glas water.”
Regs van waar ek sit, staan daar ‘n lugverkoeler op wieletjies, sommer so skuinsweg – gister soontoe gestoot en daar gelaat staan. Hy is wit, met ‘n blink swart beheerpaneel en hortjies wat op- en afgestel kan word. Hy behoort aan Joshua, my kleinseun, wat gister ‘n week gelede na graad R toe is. (Ek gebruik die persoonlike voornaamwoord “hy”, want vir Joshua het toestelle persoonlikhede, net soos mense.)
Sy ouma het hierdie allesverterende belangstelling in masjiene en meganismes vroeg-vroeg opgemerk, terwyl sy in vervoering na die vissies in ‘n groot vistenk gestaan en kyk het, en Joshi as kleuter onder die tenk besig was om die apparaat te bewonder wat die water van die tenk van suurstof voorsien het.
Laasjaar het Joshi en sy mamma dikwels na die lugverkoeler gaan kyk, waar hy in die winkel vir tweedehandse goed gestaan het, want dit was Joshi se hartsbegeerte om ‘n lugverkoeler vir Kersfees present te kry (die vorige Kersfees het hy ‘n dakwaaier gekry). Die dag toe hulle uiteindelik die lugverkoeler gekoop het, was die kassiere net so in haar skik, want, het sy gesê, hy kom dan so lank al na die aircon kyk. (Ouma doen haar bes om die voorwerp “lugverkoeler” te noem, maar almal om haar praat van die “aircon”…)
Joshua bring dikwels van sy skatte na my kamer toe, die uitdrukkingsvolle gesiggie die ene opgewondenheid om die skat aan ouma te demonstreer, en gistermiddag was dit die lugverkoeler se beurt. Hy prop dit ewe behendig in en wys vir my die verskillende stellings ─ stadig, medium, vinnig ─ terwyl ek op my tande byt en die koue lugstroom dapper weerstaan. Of die geraas van die stofsuier… Of die gesuis van die waaier… Of die brr-geluid van die verstuiwer…
Ons is ‘n groep vroue, die goue vroue, elkeen van ons het ‘n stukkie goud in haar. Ons flans woorde aanmekaar en maak stories, ons elkeen het ‘n huisie in Rebusfontein. Dit is ons realiteit, weg van die realiteit. Jy kan kom saam skryf, of andersins saam met ons ons avonture beleef. Volg ons volgende verhaal op die onderstaande skakel.
Frannie se bene voel nog soos jellie na die heerlike spa-behandelings by Mangwanani. Verder het sy ook die geskenkpak van Druid’s beproef en sy besef dat sy tans nie heeltemal al haar varkies op hok het nie. Dit is hoekom sy geredelik aanvaar dat die parmantige pers bus ook ‘n tydmasjien kan wees, want – hier hou dit dan stil voor die Breytenbach Teater in Sunnyside, Pretoria, in die dae toe dit nog ‘n mekka vir die beroepstoneel was! Sy pluk verwonderd aan haar lang, los bruin krulle, stryk haar gunstelingsomerspakkie se sagte midiromp reg en klim versigtig teen die pers bus se trappies af op haar platformskoene: kedomp, kedomp, kedomp…
Dis ‘n Saterdagmiddag en die bekende akteurs Sandra Prinsloo en Marius Weyers tree in ‘n matineevertoning op. “Kom!” sê Frannie en stap vooruit, “Ons gaan in die treintjie sit.” Die Goue Vroue wonder wat op aarde dit is, maar is hoog in hulle skik as hulle die ry enkelsitplekke in rooi fluweel teen die muur van die teater sien, met ‘n gang wat dit van die res van die sitplekblok skei ─ “treintjie” is die perfekte bynaam. Die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste voer tans ‘n melodrama op, uit die Spaans in Afrikaans vertaal. As dit net so aangebied was, sou dit erg vervelig wees, maar ‘n slim regisseur het besluit om daarvan ‘n skreeusnaakse klug te maak. Die dialoog word oordrewe uitgespreek, met melodramatiese stembuigings en pouses, en die akteurs gebruik oorgroot gebare, reageer uitermatig, poseer telkens in belaglike houdings wat hulle gevoelens moet vergestalt. ‘n Minuut of twee sit die gehoor verstar, dan begin die skerp Goue Vroue giggel en kort voor lank skater almal in die teater. Pouse gons die voorportaal soos wat die toneelgangers die slim konsep bespreek. Gretig gaan sit almal weer om die derde bedryf te geniet.
Laatmiddag stap die Goue Vroue terug na die pers bus toe. Die skaduwees word lank, daar onder die jakarandas. Frannie ruk soos sy skrik toe iemand onverwags teen haar verbyskuur. “En nou?” vra Toortsie, “Hoekom is jy so op jou senuwees?” “Kom klim in die bus, dan vertel ek julle van die spook van die Breytenbach Teater. Oorspronklik was dié gebou ‘n klubsaal vir die Duitse gemeenskap van Pretoria. Met die groot griep van 1918 is dit in ‘n tydelike hospitaal verander, waar talle mense as gevolg van daardie pandemie oorlede is, baie kindertjies ook. Een van die witgeklede verpleegsters wat daar gewerk het, haar naam was Heather, soek snags na “haar kinders”, sy vra die mense wat laat werk – akteurs, rekwisietemeesters, scèneverskuiwers – “Waar is my kinders?” Die bus is stil, ook die Goue Vroue weet van pandemies… Trommeltjie verwoord almal se gedagtes: “Goddank dat Covid kinders nie só aantas nie!”
Gelukkig hou die pers bus net toe stil voor Samos Mansions, waar Frannie twee jare lank gebly het in die sewentigerjare van die vorige eeu. Sy waai vir die liewe tannie wat oorkant die straat bly, in een van ‘n ry tipiese ou Sunnyside-huisies: outydse blomme in die voortuin (jakobregops, stokrose, leeubekkies en gousblommetjies), ‘n stoepie, voordeur – gang – agterdeur, met kamers aan weerskante en die mooiste patroonplafonne. Frannie wonder hoe werk ‘n tydmasjien – gaan daardie tannie more die pers bus onthou (sal haar jong self moet probeer verduidelik?), of gaan die tannie glo dit was net ‘n interessante droom? Dan nooi sy die Goue Vroue: “Kom, julle, vanaand eet ons fondue hier by my.”
Hulle stap in die sagte pienk aandgloor (o, daardie windstil somersaande van Pretoria!) onder die yslike palmboom deur en met die blinkgepoleerde rooi sementtrap op na die eerste en enigste verdieping, na Frannie se dubbele glasvoordeur net om die hoekie. Uit die portaal na regs is die primitiewe kombuisie; links is die badkamer met die pootjiesbad. Op die mat in die sitkamer is die borde reggesit voor sit-op-die-vloer-kussings en staan die langsteelglase gereed vir die wit en rooi wyn, geskink uit boepensbottels met jassies van strooi. Die spiritusstofies hou die kaasfondue en die olie vir die vleisfondue lekker warm; daar is groenslaai, doopsouse, piekeluitjies en vars Franse brood.
Net anderkant die oop balkonnetjie is die kolonie kransduiwe wat in die palmboom woon besig om in te kruip vir die nag. Daar is sagte koergeluidjies, effense ritselings, dan raak die geveerdes stil sodat mens die stadsverkeer kan hoor ruis. Drie-uur vannag sal die Goue Vroue die leeus kan hoor brul in die dieretuin teen die oorkantste reeks koppe.
Die platespelertjie speel folk-musiek en Simon & Garfunkel. Die Goue Vroue eet en drink en is vrolik, soos wat dit goeie gaste betaam. Daar is likeurs en koffie en laatnagfilosofieë. Uiteindelik kry elkeen ‘n slaapplekkie – op ‘n divan, in ‘n leunstoel, aan die voetenent van die bed, op die pers bus se banke wat nou in snoesige beddens verander het…
Laat die volgende oggend skrik Frannie wakker. Die woonstel is stil en leeg, al die skottelgoed is gewas en die gemorste likeur van die vloer af opgevee. Op die wastafeltjie in die portaal kry sy ‘n briefie:
“Fran, ons is in die Grapevine in Esselenstraat – kry ons daar? ─ Una.”
Frannie huppel die trap af, maar as sy voor die woonstelgeboutjie gaan staan en terugkyk, word sy yskoud: Die palmboom is weg, die oop balkonnetjies is toegebou, die hele blok van agt woonstelle is ‘n gruwelike donkergroen geverf. Sy besef onmiddellik sy is terug in die een-en-twintigste eeu en wil-wil net begin huil, toe die pers blommetjiesbus om die hoek aangery kom. Nog nooit was sy so bly om haar goue maats te sien nie! Sy klim in die bus: “Nou toe, laat waai! Waarheen nou, Una?”
Joshua gaan oor ‘n week na graad R toe. Dit gaan ‘n tranedal wees – vir Joshi, sy mamma én sy ouma.
Vanoggend skryf hy vir sy ouma ‘n agteruit som, totdat hy by die 3 kom. Maar die mannetjie hou sy pose. Met ‘n vonkel in sy ogies weet hy sy ouma te vertel: “Dis ‘n funky drie.”
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!