Lente hier in South Carolina is mooi, soos wat dit maar orals op die aarde is. Daar is bloeisels en blomme in oorvloed; onder waar die pad langs die stroompie loop, het bloureën teen die hoë bome opgerank – die trosse blomme hang dig en op die pad lê die blomblaartjies soos bleek jakarandabloeisels.
Die gras is oortrek van klein geel veldblommetjies en pienk surings. Orals blom die perdeblomme en hulle ronde saadkoppe laat my aan my twee Pretoriase kleinkindertjies dink, wat so graag daardie saadjies wegblaas, met die jong mondjies op ‘n sorgsame tuit getrek.
“Perdeblom” – so ‘n ordinêre naam, “dandelion” klink veel beter. Toe gaan kyk ek waar “dandelion” vandaan kom – skynbaar van “dent de lion” af = “tand van die leeu”. Nie juis veel beter as “perdeblom” nie… Sou leeus ook die blomme geëet het, net soos perde, dalk? Maar was daar ooit leeus in Europa?? Aijaijai, hoe raak mens tog op dwaalpaadjies afgetrokke.
Ook maar net so goed, want dit lei jou aandag af van jou verdrietige verlange na ‘n era wat verby is.