Oor Tannie Frannie

 

Twee blokke van die Menlyn-winkelsentrum in Pretoria af, woon ek in ʼn agterkamertjie wat uitkyk oor die dakke van ʼn klein meenthuiskompleks. Ek hou van die uitsig: die dakteëls is ʼn mooi warm kleur, ek sien boomtoppe, voëltjies kom sing dikwels op die nok en my wilde wit kat kom en gaan deur my oop venster soos wat dit haar pas – moeiteloos spring sy teen die baksteenmure op en klim oor die dakke tot hier.

Terr 1

Ja, ek weet sy is nie juis mooi nie

Laatlam het aan my onderdak gegee toe ek aftree, ʼn aanbod wat ek met dankbaarheid aangegryp het, want die ouderdom het heeltemal te vinnig en onverwags op my afgepeil en my onkant betrap.

old_lady_cigar_smoking_

Nou is ek bevoorreg om deel van ʼn jong huishouding te wees en elke dag twee kleinkinders se kaskenades te beleef. Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval.

Iemand by die werk het my “Tannie Frannie” begin noem (die “Frannie” rym met “Tannie”) en ofskoon ek aanvanklik skuins opgekyk het oor die ouderdomskonnotasie wat daar iewers geskuil het, het ek besef dat dit ʼn spesiale blykie van toegeneentheid was. Toe ek in Augustus 2011 by LitNet begin blog het, het ek doelbewus hierdie skuilnaam gekies om vrede te maak met die feit dat ek reeds wel deeglik ʼn “tannie” was.

Daar by LitNet het ek heerlik in Afrikaans geblog en blogvriende gemaak wat ek nou nog mis. Ongelukkig was daar ʼn gebrek aan tegniese ondersteuning, wat daartoe gelei het dat ʼn klompie bloggers in Mei 2014 besluit het om uit die visdam van LitNet in die grote oseaan van WordPress in te spring. Ek was nog nooit spyt dat ek deel van daardie migrasie was nie.

avatarDie rustige strepieskat van my gravatar was op ʼn verjaarsdagkaartjie, jare gelede van my dierbare dogter af. Die kaartjie het my ingelig dat ek, in my stryd teen die ouderdom, besig was om goed te vaar: “You’re holding up well”. Van al die kat-kaartjies wat sy my al gegee het (omdat sy weet dis haar ma se gunstelingdier), het hierdie een my hartsnare die diepste geraak.

 

Skryf is vir my terapie: as ek my oor iets bekommer, of hartseer is, of vies, of woedend, of as iets so mooi is dat ek wil huil, dan skryf ek. Soos wat my kleinseuntjie se lyfie verslap as hy sy fopspeen suig, so ontspan my gemoed as ek geskryf het. Hierdie blog help my om die ouderdom hok te slaan, verlange te bekamp – en die lewe te vier. Ek is lief vir lees en lief vir mense, daarom geniet ek dit so om te blog.

Afrikaans is my moedertaal, die taal waarin ek sing, droom en aanbid. Jare lank moes ek my brood en botter met behulp van Engels verdien, maar nou is my tyd my eie en so ook my taal.

Aangename kennis! Ek hoop ek lees jou raak hier op die blogs.

 

 

Advertisements