Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-20, dailyprompt, dailyprompt-1823
Toe Tukkies se dramadepartement begin het, was ek reeds ‘n derdejaar. Voor die instelling van die dramadepartement het die skakelafdeling jaarliks begroot vir amateuropvoerings deur studente, met ervare regisseurs. Aan hierdie opvoerings het ek entoesiasties deelgeneem en dit geweldig geniet; dit was asof die hele lewe ‘n wonderlike avontuur was wanneer ons aan ‘n produksie gewerk het. Langs die strate was daar groot plakkate wat die opvoerings geadverteer het – ek het na die tyd een gaan gaps om agter my koshuisdeur op te hang. Toe my ouers aanbied dat ek maar weer van voor af kan begin en drama swot, het ek egter gedink dat ek te “oud” was en besluit om aan te gaan met die kursus waarmee ek besig was. Hoe anders sou my lewensloop gewees het as ek daardie gulhartige aanbod aangegryp het! ‘n Mens is baie dom as jy jonk is.
Laterjare het ek aan toneelstukke van Volksteater en Greenwood Players deelgeneem, want dit was nog steeds voor die koms van televisie in Suid-Afrika en genoeg mense het toneel kom kyk om sulke opvoerings die moeite werd te maak. Plaaslike koerante het ‘n kunsresensent gehad en hulle menings was my altyd genadig. Met openingsaande was daar blomme in die kleedkamer en die swart-en-wit foto’s in die voorportaal is geneem deur fotograwe wat geweet het hoe om vleiende beelde te skep. Ek was verslaaf aan die adrenalien van die verhoog.
Daarom dink ek dat ‘n loopbaan as aktrise by een van die Kunsterade van destyds die heel beste werk vir my sou gewees het – maar dis natuurlik oorromantisering uit die boonste rakke. Want die Kunsterade is afgeskaf en die tyd van kunsfeeste het gekom, waar akteurs en regisseurs op hulself aangewese was t.o.v. opvoerings en begrotings. Hulle moes in klein saaltjies begin speel, self hulle dekor opslaan, tevrede wees met klein aantrekhokkies – trouens, hulle was as’t ware terug in die dae van die rondreisende toneelgeselskappe van die Hanekoms en André Huguenet. Daarbenewens het Covid amper die hele teaterbedryf gekelder – dis maar nou eers dat gehore en akteurs weer op dreef kom.
Neewat, hierdie “dream job” is sommer ‘n “pipe dream” 😉