Dis die tweede jaar wat ek so bevoorreg is om “A Connie Maxwell Christmas” te beleef. Dit is ‘n groot gebeurtenis elke jaar in Greenwood in die VSA, ‘n universiteitsdorp wat my vaagweg aan Potchefstroom herinner. Drie aande vroeg in Desember kom mense van heinde en verre om die gratis opelug-geleentheid te geniet. Daar is baie mense, maar die atmosfeer is rustig en ontspanne en die organisasie is puik.
Die huise waar die kinders met hulle huisouers woon, is pragtig met liggies en kerskranse versier. Langs die pad spel yslike helderbeligte letters dit uit : FAITH, HOPE, LOVE, PEACE, JOY. Daar is uitstallings: ‘n skaatsbaan van helderblou liggies met skaatsers; ‘n hut waar kersbome kammakastig verkoop word; ‘n modelkerkie; reuseplakkaatborde wat die Kersverhaal in die bekende Bybelwoorde vertel.
Die plaas het hulle diere gebring: ‘n skaap en ‘n bok met hulle lammertjies, ‘n miniatuurdonkie, yslike perde wat die perdewaens trek waarmee die besoekers rondgery word om na die liggies en dekor te kyk.
Driekeer in die loop van die aand voer die kinders in die buitelug ‘n tradisionele Kersspel op; in die kerk self sing ‘n meisieskoor soos engele. Elke dan en wan speel ‘n klokkespel uit die kerktoring bekende frases Kersmusiek.
Ek en ‘n vriendin staan lank in die tou om op een van die perdekarre te ry. Innige dankbaarheid blom in my hart as ek besef ons staan hier tussen hordes mense, sonder maskers – die wêreld is deur die Covidtyd en anderkant uit! Ons klim uiteindelik op ‘n wa wat deur ‘n trekker getrek word en gaan sit op hooibale – dis nou nie een van die skilderagtige perdewaens nie, maar die bestuurder is mooi deur liggies omraam en die gemoedelike terreinbestuurder ry saam om na ons om te sien. Ouers is gedaan, kindertjies raak al aan die slaap, maar die ouer boeties en sussies kyk steeds met verwondering na die betowering rondom hulle.
Toe ons onderdeur ‘n reeks boë met liggies ry, hoor ek die bekende en geliefde stem van my dogter vanwaar sy “point duty” doen: “Geseënde Kersfees!” roep sy en ek antwoord, in ‘n vreemde land, in my eie taal: “Geseënde Kersfees!”
https://www.facebook.com/ConnieMaxwellCM
Op Rebusfontein hou die Goue Vroue ‘n vroeë Kersparty:
Frannie sit in ‘n hoekie van Seegogga se stoep, besig om met mening ‘n homp vrugtekoek te verorber. Sy het skaars op Rebusfontein aangeland, toe sit sy af na waar die Goue Vroue op daardie gulhartige stoep met die bont vloer bymekaargekom het. Sy het presies geweet wat sy wou hê: ‘n stomende pot Vyf Rose-tee, ‘n glasie OBS, ‘n paar van Trommeltjie se vye en ‘n reuse-stuk van Toortsie se befaamde vrugtekoek. Sy het mooi gevra dat Woordnoot die koek op haar bord moes laai, want Woordnoot sny mooi groot stukke! Sy het al die eksotiese kase, schwarmas en hummus verbygesteek, die bottel OBS op die kreunende drankkabinet gaan neersit en haar bordjie fudge op die tafel met die soetgoed gaan aflaai.
Terwyl sy so smul, warrel daar ‘n gekke frase in haar kop – al in die rondte, al in die rondte: “Vrolik vreet vraatsige Frannie vrugtekoek, vrolik vreet vraatsige Frannie vrugtekoek…” Nee wag, hierdie draaiorreltjie gaan haar mal maak! Laat sy liewers dink aan wat Seegogga nog by die Goue Vroue wou weet:
Watter present wil jy hê?
Ai, die één ding wat sy wou gehad het, het haar liewe skoonseun reeds vir haar gegee, met die woorde: “An early Christmas present for you, Mams!” Nou staan die kosbare nuwe skootrekenaar op haar tafeltjie daar in die mooie kamer wat haar dogter vir haar ingeruim het.
Jou Kerswense?
Frannie sug – “vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae” lyk ver en onbereikbaar. Nogtans:
“Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” – Lukas 1:78-9