• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Junie 2018

Skryf-Safari: Blogland

28 Donderdag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 36 Kommentaar

Danksy Hester van Dis Ekke word ons weekliks uitgenooi om ‘n nuwe eier te lê – op die oomblik gaan ons elke week op ‘n ander Skryf-Safari.

Toe Laatlam een aand oor my skouer staan en lees en toe verklaar: “Hulle klink nes ma,” het hy ‘n groot waarheid vasgevat. Die mense van Blogland is werklik vir my geesgenote, met hier en daar ‘n radikaal anderste persoonlikheid wat sorg vir die speserye in my blogbelewenis. As emigrant uit die Litnetblogs het ek hier op WP ‘n nuwe tuiste gevind, met toegewyde “happiness engineers” wat sorg vir puik blog-etiket en altyd bereid is om die tegnologies-gestremdes te help.

Hier is introverte sowel as ekstroverte; idealiste, realiste en sinici. Die swart hond sluip om baie se enkels rond… Party het wonderlik gelukkige kinderjare gehad; ander baklei vandag nog teen die nagevolge van trauma wat hulle as kind beleef het. Daar is oud en jonk en tussenin;  reisigers en tuisblyers; skrywers en geselsers; fotograwe en beeldende kunstenaars; gelowiges en agnostici. Diegene wat in die hoofstroom van die lewe swem, moet tydjies afknyp om gou te kom oë wys; vir ander is die blogs ‘n daaglikse reddingsboei.

Ons hou almal intens van lees en stel in ander mense se stories belang. Nuwe bloggers word met entoesiasme begroet en aangemoedig; kommentare is meelewend en bemoedigend. Ons is lief vir diere – daar’s darem niks so gesellig soos ‘n warm bondel katlyf op mens se skoot as jy sit en blog nie; avonture met honde sorg vir heerlike vertellings; ons kan saam kyk na wonderlike dierefoto’s uit ons planeet se wildernisse.

Kom vertel vandeesweek op “Skryf-Safari: Blogland” vir ons iets oor jou eie blog-ervaring, byvoorbeeld:

  • hoekom blog jy?, of
  • ‘n besonderse interaksie met ‘n ander blogger, of
  • iets interessants wat jy uit ‘n inskrywing geleer het, of
  • ‘n blog wat vir jou spesiaal verrykend is, of
  • sommer al bogenoemde

– die moontlikhede is legio. En (‘skuus Lou) as jy hierdie week bitter besig is,

  • pos sommer net weer een van jou eie gunsteling-inskrywings.

Tina van Rondomtaliedraai het eenkeer geskryf: “Jou blog is jou huis/skuilte/rusbank/klaagmuur” – is dit nie raak gesê nie? Ten slotte haal ek graag ook vir Toortsie aan: “Niemand wat nie blog nie, sal ooit verstaan wat die blogfamilie vir mekaar beteken nie!”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Skryf-Safari: ‘n Nul-vullis-lewe

26 Dinsdag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 9 Kommentaar

Vroeg Vrydagoggend hoor mens hulle: die dapper voetval van die rommelstropers met die gerammel van hulle tuisgemaakte waens. Die buurt se honde is rasend. Elke keer as ons asblikdeksel op die sypaadjie daar buite die hoë hek klap, krimp ek ineen: hoe desperaat moet ‘n mens wees om deur iemand anders se afval te kom snuffel? Een koue oggend toe ek die asblik buitetoe sleep, het ek en ‘n ou man mekaar onverhoeds in die oë gekyk. In tipiese ontkenning het ek my rug gedraai en die hek vinnig laat toegaan. Die spore van swaarkry op sy wanhopige gesig spook nou nog by my.

Ofskoon ek weet dat herwinning lewensnoodsaaklik is, is ek eintlik te gemaksugtig om erns daarmee te maak. Toe my Kaapse skoondogter die taai kondensmelkblikkie wat ek in die herwinningsdrom gegooi het, gaan uitvis omdat dit eers silwerskoon gewas moet word, het ek besef ek het nie genoeg murg in my pype vir al daai ekstra gewassery nie. Toe my ander skoondogter dit oorweeg om meer omgewingsvriendelike babadoeke te gebruik, was my reaksie so louwarm dat sy daardie plan nou nog nie deurgevoer het nie. Die naaste wat ek ooit aan verantwoordelikheid gekom het, was om my kinders in die tagtigerjare van die vorige eeu deur middel van “Zibi die Volstruis” teen rommelstrooi te waarsku.

Nou het Liza ons uitgedaag om weer oor herwinning en ‘n rommelvrye lewe na te dink. Dit het my genoop om te gaan Googleloer oor die Vrydagoggendmense en by hierdie skakel is daar ‘n lysie van die soort afval wat hulle versamel en verkoop: http://informalcity.co.za/working-living-jhb

Sug… Om daardie mense se lewe met ‘n haarbreedte makliker te maak, lyk dit my asof ‘n gewassery en sorteerdery tog nou my voorland is…


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=786362.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Skryf-Safari: Magriet versus Magrieta

19 Dinsdag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 35 Kommentaar

person carrying black cat

Photo by Helena Lopes on Pexels.com

Vandeesweek se uitdaging is om Bondels Gedagtes se storie klaar te skryf. Ag lekker – ‘n storie oor ‘n kat!

Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig!

Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie. Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!?

Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor. Kat het egter die hele doel van die oefening gemis.

Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindruk dat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!

Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.

Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg….

Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..
Gebruik kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf.

Die gemiaau verander in bloeddorstige gromgeluide, ‘n gesis en geblaas. Neewat, met so ‘n geraas is daar geen sprake van verdere stiltetyd nie. Met ‘n sug staan Magrieta op om te gaan kyk wat daarbuite aangaan.

Magriet het sowaar ‘n rot teen die muur vasgekeer! Dis ‘n bielie van ‘n rot, sy slagtande blink in die dowwe oggendlig. Magrieta gryp die eerste die beste wapen – ‘n graaf wat sy na gister se tuinmaak sommer buite teen die muur staangemaak het. Blind van woede en gril slaan sy na die rot. Die ondier skarrel om die hoek, maar Magrieta se woeste hou tref…en verbrysel die kat se kop.

In totale ongeloof staar sy versteend na die stuiptrekkende diertjie terwyl die lewe uit haar uit wegsypel. Sy sien hoe sy die kat se nooi moet gaan vertel dat sy – sy, Magrieta, wat nie eens ‘n spinnekop kan vrekmaak nie! – haar geliefde kat vermoor het. Sy sien hoe haar bure hier op die plaas haar met wantroue aankyk, hoe sy as katmoordenaar die lewe van ‘n uitgeworpene lei… Al die vrede wat sy met soveel moeite om haar bymekaargeskraap het daarmee heen – nee! Dit kan nie, dit mag nie gebeur nie! Sy sal moet plan maak, op die een of ander manier hierdie ramp moet beredder.

Die eerste stap is om van die verdoemende getuienis van die katlykie ontslae te raak. Sy gryp die moordwapen, gaan grawe ‘n graffie onder die ou peperboom. Met trane van skuld en verwyt lê sy die slap lyfie neer en gooi Magriet toe. Die geur van die klam grond slaan in haar neusgate op – hoe sal sy ooit weer kan tuinmaak sonder om hierdie afgryse te onthou? Sy strompel terug huis toe, gaan sit bewend en snikkend in die kombuis met ‘n koppie warm, soet tee.

Die suiker help niks vir die skok nie, haar gedagtes maal al in die rondte. Wat nou? Sal sy gaan bieg? Of dalk ‘n plaasvervangerkat by die DBV gaan soek? Swart katte kry glo moeiliker huise as die ander. Ja! Dis wat sy sal doen! Die eienares sal hopelik nie eens die verskil agterkom nie – Magriet was mos maar meestal in die skuur besig om muise te vang. Magriet die Tweede sal soos ‘n eregas in hierdie huis behandel word! Sy sal op die bed mag lê en altyd van daardie duur sakkies “nat kos” met die eksotiese geure kry om te eet. So kan hierdie aaklige situasie tog vir ‘n arme ou weggooikatjie ten goede uitwerk – so sit Magrieta en rasionaliseer.

Watse geluid is dit daardie? “Pirrnjiaau, pirrnjiaau…miaau?” hoor sy by die agterdeur. Magrieta se hare staan orent, die een na die ander koue rilling spoel deur haar lyf. Sy weet swart katte word, ten regte of onregte, met die donker kunste verbind – gaan Magriet dan nou by haar kom spook? So gou na die moord – kon die ellendige kat haar nie eers net so ‘n ou bietjie grasie gegee het nie??

Die gemiaau raak al dringender, word naderhand ‘n gegrom, gesis en geblaas. Dalk is sy in ‘n parallelle heelal? Sê nou net sy is ‘n genadige tweede kans gegun, sodat sy dié keer nie moord hoef te pleeg nie? Met lam bene strompel Magrieta na die kombuisdeur, ruk dit oop. Pasella die grys Afrikapapegaai sit op sy hok se dak, lustig besig om katgeluide na te boots.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

In die oomblik…

15 Vrydag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 14 Kommentaar

Gabby se juffrou het vandeesweek die graad RR’s gevra waarmee hulle pa goed is en dan een ding waarmee hy nie goed is nie. Haar eerste antwoord het ouma skoon aangedaan gehad, maar gelukkig kon sy heerlik giggel oor die laaste een.

Vadersdagkaartjie

 

Tannie!

15 Vrydag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 2 Kommentaar

Niemand kon hierdie kwessie beter opgesom en uitgepluis het nie – ook nie op ‘n snaakser manier nie!

Liewe Persoon

Liewe Persoon,

Ek sê jou, dit het sommer so oornag gekom – soos pes en skande dikwels doen. Die een oomblik was ek nog  Annette en ‘n oogknip later was ek “Tannie”. Let wel: ek is nie iemand in spesifiek se tannie nie, ek is ‘n tannie in die algemeen!

Dit is vir my ‘n bittere pil om te sluk – amper soos om ‘n Grandpa-poeier in ‘n droë keelgat af te gooi sonder ‘n druppel water. Of soos wanneer ‘n hardnekkige Panado-pilletjie in jou keelgat (of verhemelte) vasslaan… eeeuk! Dit veroorsaak die een rilling na die ander… so al met jou ruggraat af tot in die knak van jou kleintoontjie.

In my kop is ek verseker jonger as wat ek werklik is. En miskien is dit die probleem. Jy sien, liewe Persoon, na my oordeel is ‘n “tannie” iemand wat Oil of Olay (mature skin) gebruik, wat…

View original post 445 more words

Skryf-Safari: Bordspeletjies

12 Dinsdag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 10 Kommentaar

Die eerste speletjie wat my byval toe Abrie hierdie uitdaging rig, is nie streng gesproke ‘n bordspeletjie nie, maar tog een wat onder dieselfde soort omstandighede gespeel is, nl. “Name, Vanne, Diere, Dorpe…” Elke speler kry ‘n stuk papier, sommerso uit ‘n ou oefeningboek geskeur, en skryf bo-aan as opskrifte van verskillende kolomme (krom en skeef met die hand getrek) die kategorieë wat gekies is. Die keuse is wyd, maar as mens Vrugte en Groente by die vier groepe van die speletjie se naam bygevoeg het, was die bladsy reeds vol. Mens kon ook saam besluit om bv. Name en Vanne vir meer uitdagende kategorieë te verruil. Op ‘n los papier word al die letters van die alfabet geskryf en omkring, sodat elke speler ‘n beurt kan kry om – met toe oë en ‘n potlood – lukraak op ‘n letter te druk. Dan moet almal ‘n woord in elke kolom skryf wat met daardie letter begin, bv. D: Delia, Dippenaar, Dinosourus, Dewetsdorp, Druif, Dop-ertjie. Elkeen skryf hulle punt in ‘n kolommetjie aan die einde van die ry neer en uiteindelik word al die punte opgetel om die wenner te bepaal. Elke aanvaarbare antwoord tel 5 punte, terwyl spelers wat dieselfde woord gekies het, elkeen net 3 punte kry. Dit beteken dat spelers hulle bes doen om ongewone woorde te kies. Die pret begin as elke speler hulle woorde voorlees en die deelnemers daaroor begin stry. So sou Dinosourus en Dop-ertjie bevraagteken kon word: Was daar regtig dinosourusse? Indien ja, is so ‘n versamelnaam aanvaarbaar, of moet mens ‘n enkele spesifieke dier noem? Is daar regtig ‘n verskil tussen ‘n dop-ertjie en ‘n gewone ertjie – m.a.w., het ou slimjan nie dalk hier ‘n groente beet wat eintlik met ‘n E begin nie?

Hoe voel ek nou weer die growwe sand van Scottburgh se strand onder my voete, sien ek die gesigte van my vakansiemaats daar in die rondawelkompleksie, saans wanneer ons deurdrenk van son en sout sit en speel het…

My Engelse maatjie onder op die hoek van die straat het ‘n pragtige “Chinese Checkers”-bord gehad: stervormig, met gaatjies waarin die albasters gerus het. Terwyl ons sit en speel, het die African Grey in die kombuis lustig al die gesinslede se stemme nagemaak – so lewensgetrou dat ons soms gedink het daardie persoon is regtig daar.

Met ons jaarlikse somervakansie in Jeffreysbaai toe die kinders klein was, was Monopoly ‘n groot gunsteling. Vroeg-vroeg was ons op die strand, want Jeffreys se allerverskriklike somerswind begin mos hier skuins na tienuur in die oggend waai en dan gaan skuil mens teen die sand wat jou kaal bene so geniepsig kan piets. Middae op die erge winderige dae het ons gesit en speel – tot op die dag toe ons die “bankbestuurder” betrap het dat hy heerlik sit en kroek… Daarna het ons maar liewers Slangetjies en Leertjies of Ludo gespeel.

Skielik onthou ek ‘n skaakspel teen Laatlam as laerskoolleerling, en hoe hierdie ma erg verleë daarvan afgekom het toe sy skaakmat gesit is – en dit nogal nadat sy haarself vermaan het om maar nie te ernstig te speel nie!

My eerste “matchmaking”-poging rondom ‘n aandete was ‘n klinkende sukses (‘n gelukkige huwelik en ‘n pragtige jong seun). Aangevuur deur hierdie sukses, beplan ek toe rondom Thirty Seconds ‘n volgende inisiatief, maar dié keer het dit nie gewerk nie. Ek is vandag nog spyt dat daardie twee introverte, wat my albei so na aan die hart lê, mekaar nie binne die reekse van dertig sekondes kon vind nie – die speletjie was ‘n ramp van onbegrip. Miskien is dit ook maar net so goed, anders was ek dalk vandag met die oormoed van twéé suksesse ‘n bemoeisieke ou tannie wat almal met almal probeer oplyn en afpaar.

Deesdae speel ek en my kleindogtertjie Gabby kleurvolle bordspeletjies wat op swaar karton in ‘n yslike boekvorm ingebind is (ietwat verflenterd, want die boek is oud, dit was haar pappa s’n). Sy is nou vier en ‘n half jaartjies oud en kan soos wafferse rekenmeester tel, maar sy sukkel erg om die strawwe en verlore beurte te verwerk – daar was selfs al ‘n toetentale tranedal omdat sy in ‘n “swart gat” beland het en moes wag tot sy ‘n 4 gooi om daar uit te kom! Die boek bevat ‘n Ruimtereis; Perderesies; tradisionele Slangetjies en Leertjies; ‘n Spinnerak waar die eerste speler wat in die middel van die web aankom, ‘n lekker vet vlieg mag eet (dankietog darem net denkbeeldig); die Muis se Huis, waar jy deur die hele huis hardloop om na kaas te soek; en les bes, ‘n soort Ludo (waarby ons gelukkig nog nie uitgekom het nie – dit hang soos ‘n swaard oor ouma se kop). G’n wonder die Nederlanders noem Ludo “Mens erger je niet” – dankie, Positief, vir daardie interessante brokkie.

As die meisietjie eers aan die gang is, speel ons dwarsdeur die boek in een sessie (Ludo voorlopig uitgesluit). Daarna is ouma pootuit. Ek vermoed vanaand is weer sulke tyd – dink aan my!

100_2499

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Sing ‘n nuwe lied…

11 Maandag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 16 Kommentaar

35052190_174777773207564_8256613458741559296_o.jpg

Verlede Saterdag was ek bevoorreg om genoeg positiewe energie te absorbeer om my dwarsdeur die koue winter tot ver verby ons somerkersfees te begelei, deurdat ek die VONKK-opedag in ons gemeente se kerkgebou kon bywoon. Die oggendprogram was ‘n algemene bekendstelling van VONKK se opdrag en doelwitte en die middagsessie het bestaan uit praktiese hulp aan orreliste en ander instrumentale begeleiers. Leraars, orreliste, musiek- en aanbiddingsleiers en ander belangstellendes is uitgenooi (as leek en gewone gemeentelid was die uwe een van laasgenoemde kategorie).

VONKK is die akroniem vir Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek. Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2007 besluit om ’n meganisme te skep waardeur nuwe eietydse en ook inheemse klassieke kerkmusiek deurlopend in die kerk opgeneem kan word. Vanaf 2016 is die Nederduitsch Hervormde Kerk ook volwaardige vennote van VONKK. Die taakspan bestaan uit 17 lede: predikante van die NG en Hervormde Kerke, akademici en kerkorreliste – ‘n uitgelese geselskap van teoloë, digters en musici. Hulle spel hulle taak só uit: die skep en versamel van nuwe klassieke kerkliedere asook meditatiewe en multikulturele liedere vir gemeentesang; van kantorymusiek en -verwerkings (d.i. koormusiek); en van nuwe klassieke liturgiese musiek (komposisies vir orrel en ander klassieke instrumente wat op sekere momente in die erediens gebruik kan word). Tweemaal per jaar vergader die taakspan, wanneer so 20-25 nuwe liedere by die liedereskat bygevoeg word. So ‘n lied moet aan streng teologiese en musikale vereistes voldoen en daarby nog potensieel byval by die gemeentes van vandag ook kan vind! Luther en Calvyn het hulle immers daarop toegelê om verstaanbare kerkmusiek vir die volk te skep.

Iets wat my altyd opval van mense wat waarlik vir die Here werk, is hulle nederigheid, en vandag is dit weer so. Die atmosfeer is warm en vriendelik; die sprekers (ten spyte van hulle indrukwekkende kwalifikasies en meerdere kennis) beskeie en op hulle gehoor ingestel. Hulle vertel ons van die verskillende tipes musiek en laat ons voorbeelde daarvan sing. Veral interessant is die kortvorm-psalms: die ontsluiting van die psalms deur middel van kort en kragtige berymings wat “die lewe van die enkeling geleef voor die aangesig van God” verwoord. Daar is ook liedere wat spesiaal bedoel is om “die woorde van die psalms in die monde en harte van kinders te laat leef”. Benewens nuwe komposisies, is gewilde melodieë van oraloor geleen: uit die Duitse, Nederlandse, Franse, Engelse en Walliese musiekskat. Die herkoms van party van die liedere is boeiend: so het ‘n dooplied vir die klein Prinsie van Oranje tot ‘n Afrikaanse gedig aanleiding gegee, wat toe tot ‘n VONKK-lied verwerk is, sodat die hele gemeente vir ‘n dopelingetjie kan sing: “Jy, jy, jy – kom woon hier by ons!”

VONKK put ook uit die musiek van Taizé in Frankryk, ‘n wêreldberoemde meditatiewe sentrum. Om die effek van hierdie meditatiewe liedere te illustreer, is daar ‘n kort meditatiewe diens reg in die middel van die oggend. Stilte, rus, spiritualiteit deurspoel ons gees…

Die opkoms was besonder goed; mense het van heinde en verre kom luister – en sing. O, daardie sang − ‘n kerkgebou vol musikale mense, met die een na die ander puik orrelis as begeleier saam met viool, tjello, fluit, trompet en klavier, ‘n solis met ‘n ryk baritonstem wat klink soos ‘n engel en ‘n sanggroep wat telkens vir ons die eerste vers voorsing! Wanneer dit dan ons beurt is, kom daar ‘n gesamentlike inademing voordat ons wegval en sing aan die mooi musiek, sing asof ons lewens daarvan afhang. Vir die eerste keer raak ek diep, diep bewus van die lewensasem waarmee ons kerkliedere sing…

 

 

 

Skryf-Safari: My gelukkigste herinnering as kind

02 Saterdag Jun 2018

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 12 Kommentaar

Vir iemand wat oor haar lewe sit en mymer, is hierdie onderwerp nommerpas – dankie, Sonell!

Sovele gelukkige, geborge ure, dae, maande, jare het ek in my kindertyd op daardie voorstedelike erf aan die Wesrand deurgebring.  My ouers het huis laat bou en ons het daar ingetrek toe ek drie jaar oud was. Die erf was effe afdraand en verskriklik klipperig, maar my pa – Wes-Transvaalse plaasseun wat hy was – het ingespring en begin tuinmaak. Ek onthou ‘n yslike sif, skuins staangemaak, en grawe vol grond wat daarteen gesmyt word sodat die goeie grond op ‘n hopie deurval en die klippe daarteen afrol. Langs die garage het ‘n diep laag klippe gelê en aan die ander kant van die erf het my pa ‘n lang, lae wal met die klippe gemaak, bedek met die Wesrandse rooigrond, net reg vir ‘n willewragtig-dogtertjie om paadjies vir haar karretjies daarteen te skraap en modder-“garagies” te bou. Voor die agterstoepie het hy ‘n vlak terras met die klippe gebou, aan die een kant gestut deur ‘n lae sementmuurtjie om die helling van die erf te akkommodeer. Hierop het hy gras geplant, met naby die ogiesdraadgrens ‘n Acacia elata-boom – o, daardie boom!

Agter die grasperk (die geur van vars gesnyde gras…) was my pa se boord, waar hy die gate vir die bome deur ‘n kliplaag laat kap het. Laat November het die eerste perskes ryp geword en van daar af was dit een lange fees tot in Maart: een of twee bome elk van witperskes, kaalperskes, albertas, geelperskes; appelkose; geel en rooi pruime; vye en adamsvytjies; turksvye (agter die klipwal); granate; amandels en ‘n kweperlaning daar by die komposgat. (Sulke lekker latte vir my tuisgemaakte boog-en-pyle!) Ek het saam met my pa van boom tot boom getrek as hy die boord natlei, sit en kyk hoe die water by die blikkie voor die tuinslang se bek uitvloei (die blikkie het gekeer dat die waterstroom ‘n gat in die grond spoel) en deur die los blare, grassies en klein klippies syfer. Die een appelkoosboom het ‘n nommerpas-mik gehad waar ‘n klein vraat heerlik gesit en smul het aan die soet, ryp vrugte – vrugte wat mens bitter selde op ‘n winkelrak kan kry, rustig rypgemaak deur die liewe son self.

In die voortuin was daar rose (die geur van rose…) en eenjarige blomme wat my mammie gereeld in die huis gerangskik het; langs die huis was ‘n prieel met glippertjies, kristaldruiwe en hanepoot. Teen die garage was daar ‘n halfronde sandput, waar ek en my maatjies die heerlikste uitgrawings kon maak. Twee kante van die tuin was begrens met ‘n hakea-laning wat streng gesnoei is. Daar kon ek inkruip en na hartelus wegkruip.

Hoe modderig en stowwerig en taai moes daardie rabbedoe van ‘n kind soms gewees het! Maar ek het toe nog nie geleer om vuil raak te sien en te gril vir stof nie. So geseënd, só geseënd was ek…

Seën deur Rabindranath Tagore (eie vertaling uit die Engels Benediction)

Seën hierdie hartjie, hierdie rein siel

wat die kus van die hemel vir ons aarde ingewin het.

Sy is lief vir die sonlig, sy is lief vir haar mamma se gesig.

Sy het nog nie geleer om vir stof te gril

en om goud te begeer nie.

Druk haar teen jou hart vas en seën haar.

Na hierdie land van ‘n honderd kruispaaie het sy gekom.

Ek weet nie hoe sy jóú tussen die skare uitgekies het, na jou deur toe gekom het,

en jou hand gevat het om te vra hoe sy moet loop nie.

Sy sal jou volg, laggend en babbelend, sonder enige twyfel in haar hartjie.

Behou haar vertroue, lei haar op ‘n gelykpad en seën haar.

Plaas jou hand op haar voorkoppie en bid dat, al raak die golwe

daar onder diep en dreigend, daar nogtans asem van bo af sal kom

om haar seile te vul en haar na hemelse vrede te voer.

Moet haar nie in jou haas vergeet nie, laat haar toe in jou hart

en seën haar.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Weerberig, 25 Januarie 2023
  • Kortgeknip.
  • Sjokoladebomme
  • Sondagstap
  • “A Connie Maxwell Christmas”

Nuutste kommentaar

Una oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Weerberig, 25 Januarie 20…
woordnoot oor Weerberig, 25 Januarie 20…
scrapydo2.wordpress.… oor Weerberig, 25 Januarie 20…
appeltjie oor Sondagstap

Argief

  • Januarie 2023
  • Desember 2022
  • November 2022
  • Oktober 2022
  • September 2022
  • Augustus 2022
  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

DeWetsWild Photography

Disappearing into South Africa's wild places... Again!

Hannes van Eeden

Bodemklippe

Docendo discimus

Enelda

Sonder 'n masker

Wild Adventures Blog

Journey to the wild

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige, navorser, blogger en skrywer

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

'n Webwerf vir die Afrikaanse digkuns

Masha du Toit

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 223 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...