Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-10, dailyprompt, dailyprompt-1813
Agter ons nuwe huis het my pa vir my ‘n klimboom geplant, spesiaal uitgesoek omdat die takke van onder af na aan mekaar uit die stam gegroei het en daar baie vashouplek was. Hoe het ek nie daardie boom benut nie! Laterjare moes ek dit met my kleinboetie deel, maar daardie boom het ‘n groot hart gehad en ons albei omarm.
Ek onthou die ritselende blare en die spel van sonlig en skaduwee. In die woeste Augustuswind van die Wesrand het ek tot so na as moontlik aan die punt van ‘n soepel tak geklim en dan styf vasgehou terwyl die natuurkragte my heen en weer swiep. Soms het ‘n kat saam met my op ‘n avontuurtog in die boom kom klim.
Dit was ook ‘n kat wat my, nou reeds lank al ‘n volwassene, in my laaste klimtog teen daardie boom uit vergesel het. Sooisie, een van daardie skrikkerige tipes – katliefhebbers sal weet waarvan ek praat – het naamlik die vorige nag losgekom en die donker nag ingevlug. Ons huis was toe reeds leeg en verlate; ek, my mammie en die ander twee katte moes maar Pretoria toe piekel en hoop dat Soois sou oorleef totdat ek die volgende oggend vroeg weer kon terugry om na hom te gaan soek.
Toe ek uit my karretjie klim, hoor ek die benoude gemiaau hoog in die elataboom. Dit was rou adrenalien wat my gehelp het om die boom (vir oulaas…) te klim, die kat raak te gryp en hom in die katmandjie te bondel voordat ek die pad terug Pretoria toe gevat het. Nou, by verre nabetragting, besef ek dat daardie katjie, as gevolg van die ergernis wat hy my veroorsaak het, my deur die pynlike finale afskeid van my ouerhuis en my klimboom gehelp het.
My mammie het die huis aan ‘n gesin met jong kindertjies verkoop, dus glo ek dat daardie boom nog baie jare na my laaste klimtog avontuur verskaf het.