Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-14, dailyprompt, dailyprompt-1817
In 1997 het ons darem almal al ‘n eie rekenaar gehad om op te werk: skerm en sleutelbord op die tafel en die groot blikkas onder op die vloer. E-pos was egter ‘n nuutjie: in die uitgewery waar ek gewerk het, was daar een rekenaar wat e-posse kon stuur en ontvang. Toe ‘n skrywer VSA toe is op die nippertjie voor sy boek gedruk moes word, het hy sy kommentaar en veranderinge per e-pos na daardie adres gestuur. Dit is dan uitgedruk en die harde kopie is per kantoorpos by my afgelewer. Wat ‘n ongelooflike tegnologiese ontploffing het ons al in die 21ste eeu beleef – en nog is dit het einde niet!
My eerste aanlyn kommunikasie het per e-pos gebeur, dis seker hoekom ek vandag nog die meeste op my gemak is as ek ‘n e-pos op my vaartbelynde skootrekenaar kan tik. Die koms van slimfone het beteken dat ‘n mens eintlik ‘n klein rekenaartjie in die palm van jou hand hou. Toe my skoondogter vir my ‘n Telkomkontrak met die gepaardgaande selfoon beding het, het sy vir my ‘n hele nuwe wêreld oopgemaak. WhatsApp beteken dat ek duisende kilometers kan oorbrug en met my veraf mense kan gesels. Facebook is ‘n ewige versoeking om na allerlei verstrooiings te kyk en met behulp van die hedendaagse hiërogliewe kommentaar te lewer:👍/❤️/😂ensovoorts. Messenger is nog ‘n nuttige manier om kontak te maak of te behou. Omdat ek so min wilskrag het, vermy ek X, Instagram en Snapchat – anders sou ek my dalk heeldag met beuselagtige kommunikasie besig hou. Omdat dit nou al so deel van die alledaagse lewe is, besef ons nie meer watter wonderwerk dit is om mense deur middel van Skype of Zoom te bereik nie.
My gunsteling- aanlyn platform is egter WordPress, want hier het ek my tribe ontdek – my dam se ganse, mensliewende bloggers wat hou van lees en stories en foto’s. Om in lewende lywe met party van hulle te kon kuier, was ‘n groot voorreg – en so word die sirkel voltooi, en is ons terug by die heel, heel beste manier om te kommunikeer: van aangesig tot aangesig.