Die aand is koud en helder, met ‘n halwe maan en ‘n blink planeet hoog bokant ons koppe. Hier onder stel die kinders van Connie Maxwell Children’s Homes die gebruiklike Kerstoneel voor, met die stal, ‘n koortjie engele op ‘n verhewe platform en herders en wyse manne. Daar is ‘n innigheid aan die verteller se stem, ‘n opregtheid in die sangeres se lied.
Op die teerpaadjie wat tussen die versierde “cottages” deur kronkel, kom daar voertuie verby, volgepak met die mense wat die “Connie Maxwell Christmas” kom beleef het: ‘n trekker met ‘n sleepwa, ‘n lorrietjie met nog ‘n sleepwa, ‘n perdekar en ‘n donkiekar – almal feestelik met liggies opgetooi. Oral op die kampus is daar Kerstonele – ‘n gemmerbroodhuisie (nogal sinoniem met Kersfees hier); lekkergoedkieries; ‘n miniatuurkerkie; ‘n reuse-kersboom teen ‘n effense bultjie op die gras uitgepak, met liggies en strikke en ‘n yslike ster; ‘n reeks verligte boë oor die pad; groot advertensieborde met Bybelwoorde oor daardie nag in Bethlehem…
Die Kersspel loop ten einde en ons vier Suid-Afrikaners beland onwillekeurig om ‘n groot vuur wat in ‘n sirkel sementstene brand, koester ons in die hitte en dink aan die vele vure van ons verlede daar ver in Afrika. Dit maak dat ons te laat is om warmsjokolade te kry, dus stap ons aan na die troeteldieretuintjie waar uitgesoekte plaasdiere spesiaal vir hierdie paar dae in kraaltjies bly.
Dit krioel van klein kindertjies wat opgewonde en behulpsaam vir die bokke en kallers van hulle eie hooi aangee. Tussen al die liggies en die mensestemme, die dowwe geluide van hoewe op die grond en die bewegings van die diere, spoel die innigheid van Kersfees oor my, toe ek ‘n wollerige donkietjie sien – skaars heuphoogte ‒ en opnuut besef watter groot en belangrike rol hierdie dier in die Christusverhaal gespeel het.