Sy volle naam is Tucker James Davis. (Sy nooi sê die middelnaam is sodat sy ‘n lekker lang mondvol het om te sê as sy met hom raas.) Hy is volgens my dogter ‘n ontwerpershond, ‘n kruising tussen ‘n miniatuurpoedel en ‘n “king retriever”, wat sover as wat ek kan agterkom, ‘n tipe goue retriever is. Die eindresultaat is absoluut pragtig: gemmerkleurige wolle, ‘n wit beffie en teddiebeerpote. Hy pas mooi in by sy mensfamilie: daar is drie dogtertjies en ‘n pappa met verskillende skakerings ligrooi hare.

Tucker se nooi se huis was drie maande lank na V&P se troue ook hulle huis, totdat hulle hul voete gevind en ‘n woonstel gekry het. Haar man en P was op kollege reeds vriende en sy self was deur die jare vir V ‘n kosbare vriendin. Dis haar mooi hande wat Vilette se trourokbandjies ingeryg en vasgemaak het, en daardie selfde hande het myne drie jaar gelede vasgehou in die hospitaalgang buite die kamer waar V suurstof moes kry.

Dat Tucker hoegenaamd hier kom bly het vir die week wat sy mense met vakansie see toe is, is ‘n groot eer. Hy het hier aangekom met ‘n yslike blou sak vol lekkernye en speelgoed, sy bedjie, hondebakkies en die krat-met-babakombersie waarin hy saans toegemaak word, asook ‘n getikte dokument: “Tucker’s schedule”. Daarin word sy roetine sorgvuldig uiteengesit, maar ag – hy is mos nou eintlik in die gopse by hierdie ouma wat net van selfversorgende katte weet, met die gevolg dat die skedule maar ‘n vae riglyn bly.

Tog lyk dit asof die outjie lekker kuier. Hy volg my orals, lê heerlik saam met my op die rusbank wanneer ek storieboek lees en krul op die mat op as ek voor die rekenaar sit. Hy is net vier maandjies oud, maar aan sy maniere skeel daar niks nie – behalwe sy houding teenoor die katte wat hier woon. As hy ‘n kat sien, vergaan hoor en sien soos wat dit blaf en skel en dreig (ouma vermoed dis meer uit angs as enigiets anders), soveel so dat ek nou maar die gemmerkat Diesel eenkant toegemaak het, net sodat die geraas darem 50% minder is. Die swart kat Midnight sluip rond van die een skuilplek na die ander en gee Tucker sulke vuil kyke dat die see hom nie gaan afwas nie. Gisteraand na Tucker in sy krat gaan slaap het, het Midnight sy ander hondebedjie betrek en die helfte van die nag daarin geslaap, asof sy wou sê: “Dis my huis dié – en ook alles wat daarin is, verstaan?”