…oor Afrikaans.
Mense verstaan nie my besorgdheid oor Afrikaans nie. Dit lyk my dis ook oudmodies om te probeer om die Afrikaanse woord bo die Engelse een te gebruik. Dis “songs” en “amazing” en “fabulous” i.p.v. “liedjies” en “verstommend” en “fabelagtig”.
Toe Middelkind ‘n klein seuntjie was, het ek hom geleer om eers Afrikaans met iemand te praat en dan na Engels oor te slaan as hy sou sien die persoon verstaan nie. Een aand kom hy windverwaaid en hoog in sy skik van die strand af: “Die outjie praat met my Engels maar ek hoor sommer hy’s Afrikaans, toe antwoord ek hom in Afrikaans!” Middelkind het met ‘n Engelse Vrystaatse meisie getrou. My Kaapse kleinkinders is Engelssprekend.
More kry my kosbare dogter Amerikaanse burgerskap.
My broer se kinders (my ere-kleinkinders) kon reeds voordat hulle Nieu-Seeland toe is, nie juis Afrikaans praat nie – hulle huistaal is Engels, die mammie is Hongaars.
Laatlam is die enigste een van my dierbares wat sy kindjie in Afrikaans grootmaak – maar ai, dis “Jump!” i.p.v. “Spring!”, “make-up” i.p.v. “grimeer”, “cinnamon” i.p.v. “kaneel”… Hier het ouma dit darem reggekry om ‘n teenvoeter te skep – en sy beleef heerlike binnepret elke keer as Gabby van “kameelsuiker” praat.
Baie, baie jare gelede het die taalkundige HJJM van der Merwe voorspel dat Afrikaans se amptelike status sou afhang van die keuse wat ons mede-Suid-Afrikaners sou maak. Ons sien hoe Afrikaans opsygeskuif word, hoe amptelike verrigtinge slegs in Engels plaasvind, hoe wette lankal nie meer almal in Afrikaans ook beskikbaar is nie.
‘n Taal het vertroeteling nodig – en respek – en liefde. Die enigste plek waar ek nog “tuiste in eie taal” kon geniet, was in my kerk. Gisteraand moes ek hoor dat my gemeente dit oorweeg om ook Engelse dienste aan te bied en dat die voorskoolse Sondagskoolklassie reeds eenmaal per maand in Engels aangebied word omdat daar Engelssprekende kindertjies in die klas is. Dit terwyl kinders op daardie ouderdom absoluut geprogrammeer is om ‘n tweede taal vinnig en maklik aan te leer! Waarom nie liewers jou eie erfenis handhaaf nie? Niemand kon verstaan waarom ek so ontsteld was nie! Maar elke stukkie energie wat in die Engelse aanbiedings sou ingaan, sou myns insiens eerder aan Afrikaans gewy moes word.
“Engels, Engels, alles Engels; Engels wat jy sien en hoor.
In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor…”