In my jeug was ek bevoorreg om ‘n besonderse mentor te hê en soos wat die jeug mos maar maak, het ek hom destyds nie na behore waardeer nie. Hy was professor in die Afrikaanse taalkunde, een van ‘n groep jong intellektueles wat vernuwing in die dissipline gebring het. Sy spesiale belangstelling was die studie van betekenis soos wat dit in taal tot uiting kom. Hy was lief vir mense en vir die wêreld en het elke dag met opgewondenheid, verwondering en kopskuddende verstomming geleef. Sy gunstelingvraag aan my was: “Wat hoor jy en wat sien jy?” Destyds het ek in my verwardheid maar min te antwoord gehad – ‘n leeftyd later en steeds verward, gaan ek tog probeer om te vertel wat ek vandag hoor en sien.

Ek hoor stilte en die suising van my eie bloed. Die wind waai daarbuite, maar mens hoor dit nie, a.g.v. die huis se goeie insulasie. Ek sien helder sonskyn en so nou en dan ‘n motor wat verbyry. Die wêreld gaan sy gang…

My kinders se student home is gister onder kwarantyn geplaas omdat een van die aflospersoneel (die huisouers wat instaan wanneer my kinders af is) positief vir Covid getoets het. Dit beteken dat V&P saam met die vyf seuntjies wat tans in hulle huis is, nou vir twee weke tuis moet bly. Voorwaar ‘n uitdaging, om daardie lotjie 14 dae lank, 24/7, besig en gelukkig te hou – maar ek weet hulle kan dit hanteer.

Voorts beteken dit dat ek en die twee katte nou vir twee weke op ons eie is, hier in V&P se huis. My reis terug Suid-Afrika toe val deur die mat, want ek het net nie genoeg durf om alleen deur die hoepels te probeer spring nie, ek sou dit slegs met die kosbare ondersteuning van my liewe dogter kon reggekry het.

Soos wat ek talle kere hier by motorvensters sit en uitkyk het na die prentjiemooi pophuise langs die pad, met wiegstoele op die stoep en ‘n vlag of ‘n sportembleem of ‘n plakkaat met ‘n sentimentele boodskap, het ek ‘n speletjie met myself gespeel: ek soek na die kleinste huisies en verbeel my dan dat ek in daardie huisie woon, met my besittings rondom my, aangename bure, vriende net om die draai, en ‘n kat om op my skoot te lê. Nouja, soos die Amerikaners sou sê: Here I am, living the dream! (Behalwe dat die huis waar ek woon, nie klein is nie, die besittings nie myne nie, en my vriende baie ver.)

In elk geval is daar geen dringende rede waarom ek nou moet teruggaan nie – behalwe verlange…en dié is maar altyd daar, waar ek ook al is.

En jy, liewe leser? Wat hoor jy en wat sien jy?

Psalm 139:3 − Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.