• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Januarie 2015

Vakansie

17 Saterdag Jan 2015

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 11 Kommentaar

Sleutelwoorde

Afrikaans, Toeka-Tokkel

https://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/15/toeka-tokkel-4-vakansie/

Die see klink nou ver, dan naby, soos ek met die woudpaadjie stap. Hier en daar sien ek die blinkblou beweging, maar meestal is die reënwoud te dig. Dis hoë bome, eeue oud, en die blaretapyt is sag onder my voete. Met ‘n bloedrooi vereflerts swiep ‘n loerie van een tak na ‘n ander en sit dan stil, sodat ek hom kan bewonder terwyl hy met sy een helder ogie na my korrel.

Ek ken elke paadjie wat afdraai see toe – dié een gaan na Mooibaai, waar mens soos ‘n akkedis op die bedding klippe in die son kan lê en bak, voor jy oor die klein stukkie sagte sand na die koue water toe hardloop. As jy ‘n ent dieper swem, is daar ‘n ou platform met ‘n verroeste leertjie teen die hoë rotswand wat hierdie baaitjie van die volgende een skei, vanwaar mens in die diepgroen water kan induik. Hier onthou ek altyd die statige pylstertvis wat ek gesien het op die heel eerste aand toe ek verwonderd hier rondgedwaal het – ‘n leeftyd gelede.

Die volgende paadjie lei mens na ‘n grasbegroeide skiereilandjie, waar die see met reëlmatige dowwe slae van onder deur ‘n rotsskeur bars en soutsproei oor jou laat uitsak. Hier het ek ‘n foto van my liewe dogter en haar Amerikaner geneem, voordat sy haar vaderland ter wille van die liefde verlaat het.

Verby die strandlopergrot kies ek koers oor die hangbrug oor die riviermonding, waar daar onlangs so ‘n mooi foto van my Kaapse kleinkinders geneem is. Aan die ander kant kletter die klippers soos die see hulle heen en weer spoel in ‘n klein inhampie – die mooiste geluid, wat ek nog nêrens anders presies so gehoor het nie.

Hier kronkel die smal paadjie teen die krans op en ek sal maar liewers nie die hoogte aandurf soos in my jeug nie, nie eers ter wille van die uitsig oor die see daar van bo af nie. Stap dan maar terug, verby die restaurant en Sandbaai met sy vlot, doelgerig nou, om by die ‘Rots van die Vier Winde’ uit te kom. So het die man wat my aan hierdie plek bekend gestel het, die groot rots genoem wat hoog oor die see troon en wat mens nie met hoogwater kan bereik nie omdat dit dan heeltemal deur die golwe omspoel word.

Bo-op die reusagtige rotsknoets is daar ‘n formasie wat kompleet soos ‘n sitplek lyk, met rugleuning en al. Hier het ek en my broer – nou reeds drie jaar lank in ‘n nuwe land – een toweragtige aand gesit en kyk hoe die son sak en die volmaan opkom. Teen hierdie rots het ek en Middelkind opgeklim toe die res van die gesin nie kans gesien het nie. Hier het hy onderneem om sy ma se as te kom strooi.

Sovele kere het ek al op hierdie paadjies kom loop, soms tydens so ‘n lang moontlike verblyf, soms net op ‘n dagbesoek. Hierheen het ek saam met lang verlore geliefdes gekom en uiteindelik saam met my gesin. ‘n Vriend het op ‘n Tsitsikamma-poskaart geskryf dat hy nou kan verstaan “…hoekom jy altyd weer wil terug hiernatoe.”

Die vloek van vakansie is egter die vervlugtiging daarvan – en die verlange…

Speelgoed

11 Sondag Jan 2015

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 10 Kommentaar

Hierdie vertelling is in reaksie op die volgende uitdaging:

http://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/08/toeka-tokkel-3-geskenkespeelgoed/

Dis ook een van Blogging 101 se opdragte: Skryf ‘n inskrywing met jou droomleser in gedagte. Almal wat hier lees, is my droomlesers 🙂

My maatjie R het so vyf huise hoër op in die straat gewoon. Sy het polio gehad toe sy klein was en toe ons mekaar leer ken het, moes sy ‘n armstut dra wat haar linkerarmpie opgelig en vorentoe uitgestrek het. Dit moes baie ongemaklik gewees het, maar ons het nooit daaroor gepraat nie – kinders aanvaar mos die wêreld soos dit is, dis eers later dat ‘n mens begin wroeg oor hoekoms en waaroms. Wanneer sy sonder die stut kom speel het, het die uitgeteerde armpie slap gehang, maar dit het nie een van ons gehinder nie – ons was te besig om te spéééél!

In ‘n buitekamer het my mammie vir my ‘n speelkamer ingerig, met hout-appelkissies so op hulle kante gepak, wat die ruimte in twee verdeel het en terselfdertyd heerlike ooghoogte-rakke was vir klein plastiekmeubeltjies vir sitkamer, eetkamer, kombuis en slaapkamer. Ek het wel ook ‘n pophuis met vier kamertjies gehad wat my mammie uit ‘n groot kartonboks geprakseer het, maar vir die doel wat ek en R voor oë gehad het, moes die meubels appelkissies toe.

R het drie boeties gehad, met ‘n witrot en verskeie witmuise as troeteldiere. Ek sien daai rot nou nog voor my geestesoog: vet maar lewendig, met wit hare, bibberende snorre, rooi oë en ‘n pragtige pienk stert. Dit was vir ons net die grootste pret as R daarin kon slaag om haar boeties se rot uit sy hok uit te smokkel en na my huis toe te bring, want dan het ons speelkamer toe verkas. Daar sit ons die rot dan in die appelkissies en begin hy so ewe op en oor die meubeltjies klim – ure se pret het dit vir ons besorg.

gty_white_rat_jt_120219_wblog

Ons is na verskillende hoërskole toe, het mekaar heeltemal ontgroei en kontak verloor. Tog het ek laterjare gehoor dat sy getroud is en ‘n kindjie gehad het. Soos wat sy al die uitdagings in haar lewe te bowe gekom het, weet ek sy sou ook die versorging van haar baba met net een sterk arm kon behartig.

Vanwaar, Gehasi?

07 Woensdag Jan 2015

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 24 Kommentaar

Sleutelwoorde

Afrikaans, Blogging 101, Ouma wees

‘n Kollega het my dit begin noem: ‘Tannie Frannie’ (‘Frannie’ rym met ‘Tannie’). Ek het besef dis uit toegeneentheid – maar dit het my ‘n rukkie geneem om vrede daarmee te maak. Toe ek in 2011 op Litnet begin blog, het ek doelbewus hierdie skuilnaam gekies om myself van my weerstand teen ‘Tannie’ te bevry.

Daar op die Litnet-blogs het ek heerlik geskryf en gekuier, sielsgenote ontdek en ook bloggers wat heel anders as ek dink en my verwysingsraamwerk verbreed het. In 2014 het ek saam met baie ander bloggers uit die visdam van Litnet in die wye oseaan van WordPress ingespring, toe die frustrasie met die gebrek aan tegniese ondersteuning net te groot geword het. Ek’s bly ek het saam getrek – kyk nou net: ‘n kursus oor blog! Vir ‘n BBT (‘born before technology’) soos die uwe, is dit nou regtig welkom.

Dis my plekkie hierdie en daarom skryf ek in my moedertaal: Afrikaans. Engels maak vir mens deure oop – soos nou weer met WordPress se kursus, maar hier skryf en kuier ek in my hartstaal. Ek kon baie Litnetters nie weer gevolg kry nie en ek mis hulle – dalk help hierdie inskrywing?

Die Afrikaans wat ek gebruik, word deesdae op Facebook as ‘argaïes’ bestempel. Dit hinder my egter nie – want ek hanteer oudword deur volslae ontkenning 😀

In 2014 het ek oor ouma-wees gemymer. Deesdae hardloop ek agter ‘n peuter aan en blogtyd is maar skraps. Tog bly dit ‘n heerlike, verslawende bedrywigheid.

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • In die oomblik – 2021(2)
  • Verf volgens nommers op Rebusfontein
  • In die oomblik – 2021(1)
  • Maandag=Wasdag 7: Vreugde
  • Maandag=Wasdag 6: Frustrasie

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • In die oomblik – 2021(2)
  • Verf volgens nommers op Rebusfontein
  • In die oomblik – 2021(1)
  • Maandag=Wasdag 7: Vreugde
  • Maandag=Wasdag 6: Frustrasie

Nuutste kommentaar

Una oor In die oomblik – 20…
Letty-Ann oor In die oomblik – 20…
sandreyerskryf.wordp… oor In die oomblik – 20…
Tannie Frannie oor In die oomblik – 20…
woordnoot oor In die oomblik – 20…

Argief

  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Blog at WordPress.com.

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Leeshoekie

Afrikaanse stories en insigte

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Letters from Joburg

Musings of a wondering mind

Detouring

Home

My Cape Town - round and about

My Cape Town

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

~ 'n Kollektiewe weblog vir die Afrikaanse digkuns ~

Masha

The Fynbos Blog

A year in the Cape Floral Kingdom

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

2020 - Nieu Bethesda soutenpeper's blog deur Niël Stemmet

nostalgie - die toekoms van kos en leef lê in die verlede

vetgirlmemoires.wordpress.com/

Hond Se Gedagtes

Advies vir troeteldiereienaars

elanabarkerhome.wordpress.com/

Woorde is een van die min dinge wat aan die hart kan raak.

Die Oerknal van die liefde

'n Versameling van Afrikaanse gedigte, skrywes, liedjies, vertellings en sommer alles wat ek naby my hart wil hou . . . met'n titseltjie Engels ook so dan en wan tussenin rondgestrooi

Discover

A daily selection of the best content published on WordPress, collected for you by humans who love to read.

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

Coetzeeblog 2

Welkom by my nuwe "Ons lewe in Paraguay" Blog. Aangesien my vorige blog se spasie my nie toegelaat het om verder daar te blog nie, moes ek noodwendig ‘n ander blog oopmaak.

Positief

Griffelbord vir gedagtes en dinge

Always Anne

Sophisticated. Feminine. Chic.

My Mapstieks

"Eendag is vandag"

writingsofthebard

Gypsy Café

The Travelosopher's Home

Enelda

Sonder 'n masker

Bo-Karoo

oor die lewe in Vanwyksvlei

MEDICINE MOMMY

Ouerskap is nie 'n kompetisie nie. - Alyssa Loftus

Kreukels en plooie

Skryfsels oor en uit eie ondervindings

Kameel se gebabbel

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor

deel-woorde

soms, net soms, waag 'n mens om gedinkte woorde te deel...

Dr. Christa van Staden

Afrikaanse Navorser, Opvoedkundige & Blogger

J.T. Strauss

Fiksieskrywer

Maanlig Waansin

'n Treinongeluk in stadige aksie

Poerdezmerdez

Menz. Lag of huil, menz bly menz.

Tapestry of Thought

Cilnette Pienaar weaves and unravels

Tall tales, truths and lies of a travellover

here I will share some humour, stories, advice that deals with travel, holidays and things travellers do.

Kanselleer

 
Die kommentaar is aan't laai...
Kommentaar
    ×
    Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
    To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy