@ddupl3ss1s
@vvuureoc
@toortsie
Toe ek ‘n kind was, laaank voor die koms van TV, het ek gereeld saam met ons kerkkoor gaan konsert hou – hulle het gesing en ek het voorgedra. Daar het die F.A.K.-liedjies (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) diep in my gemoed ingesink. As ek deur die F.A.K.-sangbundel blaai, herken ek ou gunstelinge uit die jare her: “Liewe maan”, “My nooientjie-lief in die moerbeiboom” en “Lamtietie-damtietie”. (Ek vermoed vvuureoc het daardie einste bundel gebruik om Langenhoven se aangrypende wiegeliedjie volledig in sy kommentaar op “Doedoe my baba” aan ons beskikbaar te stel. En toe het Okkie droogweg gewaarsku dat hierdie idilliese, dromerige tyd nie lank hou nie 🙂 .)
Voor in die bundel het my mammie in haar netjiese handskrif die bundel aan my dogter opgedra “met baie liefde van Ouma”. Nou is ek self al ‘n ouma – nou eers verstaan ek hoe innig lief mens vir jou kleindogter kan wees. Uiteindelik sal hierdie bundel die lang reis VSA toe aanpak om op my dogter se boekrak te gaan pryk, waar niemand behalwe sy dit sal kan verstaan nie, maar tans benut ek dit deeglik om my kleindogtertjie te vermaak.
Ons gunsteling-wiegeliedjie is egter ‘n eie maaksel, wat ek en my mammie ontwikkel het in die moeilike dae toe my dogter – geseënd met ‘n helder, luide stem – blou moord geskree het en ons nie kon agterkom hoekom nie. Die versies wissel en word aangepas na smaak en omstandighede. Hoe aangenaam verras was ek toe ek agterkom my dogter het hierdie einste wiegeliedjie vir ‘n Amerikaanse vriendin se seuntjies gesing!
Doe-doe my baba
Buite loop ‘n skaba
Hy’t ses klein witte voetjies
En hy drink sy melk so soetjies
Doe-doe-doe-doe my baba-baba-ba-ba
Buite jive ‘n skaba-baba-ba-ba
Hy’t ‘n oor vir ruk-en-rol
Hy staan sy blou suede skoentjies vol
(Gesing met ‘n growwe, ietwat wanhopige Louis Armstrong-stem)
Nuwe versies deesdae is:
Doe-doe my baba
Buite wei ‘n skaba
Ouma is so lief vir jou
Ouma’s ‘n geseënde vrou
(As als rustig verloop)
Doe-doe my baba
Buite draf ‘n skaba
Ouma is nou baie moeg
Om jou te laat slaap is ‘n groot geswoeg
(As die dag minder rustig gaan)
Soms dink ek die hoof-funksie van ‘n wiegeliedjie is om die oppasser te bemoedig, eerder as om die baba te sus!
Toortsie skryf van die wiegeliedjies wat so oor baie note gaan – erg hoog en erg laag. In daardie vergange tyd van konserte het soprane graag sulke wiegeliedjies gesing, juis omdat dit hul stemme ten beste vertoon het. Ag, en nou onthou ek sommer ander konsertgunstelinge ook: “Jerusalem” en “Die roos”… O, en die oom wat ‘n tragiese gedig oor ‘n perd voorgedra het, met die trane wat so oor sy wange loop… En hoe my maats in die gehoor vir my gelag het toe ek na ‘n wonderlike sanguitvoering sidderend gesug het…