Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-09, dailyprompt, dailyprompt-1812
Organisasies werk hard en ernstig om ‘n visie daar te stel en dan ‘n missie uit te werk wat hulle in staat sal stel om daardie doel te bereik. Georganiseerde, doelgerigte mense maak seker ook so?
Nie die uwe nie! Ek dwaal maar so deur die lewe, slinger hier en daar effens of erg van balans af, beleef hier en daar hoogtepunte van pret, plesier en selfs vreugde.
Hier in Blogland het ek wel ‘n missie, en dit is om in my eie taal, Afrikaans, te skryf. ‘n Mens se stem, dink ek, is die eerlikste en egste in jou moedertaal. Daarom lewer ek ook kommentaar in Afrikaans op blogs waar ek weet/vermoed dat die skrywer my sal verstaan. Ek het oneindige waardering vir my Engelssprekende blogmaats wat bereid is om die moeite te doen om by my te kom lees. Iewers in Australië is daar selfs ‘n mede-ouma wat so af en toe Google Translate inspan!