My skoonseun is lief daarvoor om elke wens van my dogter (en van my!) te vervul. Tien jaar gelede was Midnight een so ‘n wens.

Die gemmerkat Diesel was reeds deel van hulle gesin en dié het besluit dat P die wonderlikste oubaas op aarde was. V wou graag haar eie katjie hê en eendag het P by die huis gekom: “I’ve found your cat – come take a look!” Die twee het afgesit na die Animal Shelter, waar Midnight in ‘n hokkie gesit het. The rest is history.

Midnight is ‘n klein katjie, meer swart wolle as enigiets anders, met die mooiste katoë – groot, blink juwele in haar swart gesiggie.

Sy is pragtig en sy weet dit, daarom kies sy haar agtergrond met flair.

So fyntjies en mooi as wat hierdie kat is, net so wreedaardig en bloeddorstig is sy. In die dae toe sy nog permanent ‘n buitekat was, het sy vir haar nooi presente aangedra: talle voëls, muise, ‘n eekhoring, ‘n hasie en ‘n mol… Nou-die-dag was sy letterlik vyf minute buite, toe kom sy die trap opgedraf… Nie eens die lekkernytjie waarmee ons haar probeer lok het, kon haar aandag aftrek nie.

So dodelik as wat sy as jagter is en so hatig as wat sy op enige hond is, so liefderik is sy met haar huismense. Sy “groom” ons graag: klim op die stoel se rugleuning, hou mens se kop liggies vas en byt en lek ons hare, sodat ons mooi netjies kan lyk. Sy spin hard en met oorgawe – soos wat sy vaak word, kom die geluidjie met rukke en stote, totdat dit heeltemal stil raak en daar net die wonderlike warmte is van ‘n kat op mens se skoot.